EU wil skuiwergate in sanksies teen Rusland toestop

(Argieffoto: Jason Lee/Reuters)

België het vandeesweek aan die Europese Unie (EU) voorgestel dat nog ʼn ronde sanksies teen Rusland ingestel word oor die voortslepende oorlog in Oekraïne.

“Hierdie pakket sal daarop fokus om sanksies in werking te stel, die doeltreffendheid daarvan te bepaal en vas te stel hoe die omseiling van sanksies vermy kan word,” het Eric Mamer, woordvoerder van die Europese Kommissie, gesê.

Een van die fokusplekke vir die EU is die toestop van skuiwergate in sanksies wat reeds teen Rusland ingestel is.

As deel van die pakket het die EU se uitvoerende hoofde onder meer aanbeveel dat die uitvoer van sensitiewe tegnologieë na agt Chinese maatskappye gestaak word, weens vermoedens dat hulle dit weer aan Rusland verkoop.

Dié tegnologie, soos mikroskyfies, kan moontlik op die slagveld gebruik word.

Die EU wil die heruitvoer via derdepartylande na Rusland stuit, aangesien daar reeds aanduidings is dat lande soos Turkye, die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) en voormalige Sowjet-state in die Kaukasus en Sentraal-Asië meer goedere invoer waarvoor sanksies geld.

Sakeondernemings in Armenië, Iran, Oezbekistan en die VAE is op die lys van die lande aan wie die kommissie voorstel om uitvoere te beperk.

Deel van die nuwe voorstelle is ook om die EU se omslagtige prosedures te verbeter om lande vas te vat wat by die omseiling van sanksies betrokke is. Dit dring aan op ʼn meganisme wat dit toelaat om die uitvoer van sekere goedere na derdepartylande te beperk wat dié goedere vermoedelik na Rusland aanstuur.

EU-ambassadeurs sal Woensdag vergader om samesprekings oor die jongste voorstelle te voer.

Die EU het Rusland met kwaai sanksies gestraf sedert pres. Wladimir Poetin die oorlog teen Oekraïne van stapel gestuur het.

Sommige Europese diplomate meen egter EU-lande het nou die perk bereik wat oorkoepelende maatreëls betref waaroor alle lidlande bereid is om saam te stem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Anna-marie ·

Die EU kry niks reg met hulle sanksies teen Rusland nie. Rusland se ekonomie word net sterker. Doen nou meer besigheid met China en Indië.

annie ·

Mens het wonder oor hoekom die Weste so simpatiek teenoor Zelensky se nukke en grille staan. Is dit nie dalk omdat hy die spieëlbeeld is van hedendaagse Westerse lewensstyl is nie? Hy verbeeld die selfsugtigheid en selfbeheptheid van ons tyd. Die #MeMe wat tantrums gooi as hy nie sy sin kry nie; moord sal pleeg as hy teëgaan word, of nie dít wat hy begeer dadelik kry nie, of… Leiers wat hom besoek vind stukrag in sy aggressiewe ‘ek’-styl. Soos ‘n boef skiet wat voorkom as hy voorgekeer word en sonder skroom sal lieg en bedrieg.

Kobie ·

Nukke en grille? Is dit wat jy dit noem as iemand hul land se grense en soevereine integriteit teen alle kostes wil beskerm?

Jacobus ·

Suid Afrika is mos ook hand om die blaas met Rusland. Sit SA SOMMER OOK OP DAAI SANKSIE LYS.

Jean ·

Dis sou seker regverdig wees om SA ook op die lys te sit, maar dit sal my en jou dan affekteer.

Manie ·

Verstaan ek die berig reg? Die EU wil nou minder goedere na sommige Russies goedgesinde lande uitvoer omrede hulle van mening is dat van die goedere via die lande na Rusland versend word? Dis nou “cut your nose to spite your face”.

Republikein in die Wes Kaap ·

Amerika en sy pelle verf hulself in ‘n hoek. Hulle het die geveg reeds verloor.

My siening ·

Soos SA wat skelm russe se vliegtuie en skepe in ons militêre landings gebiede toe laat! ANC gaan ons ook laat boycott deur hul broer Putin @ Hitler!

Kobie ·

Weet JY wat BRICS is? Dit is ń sogenaamde handelsblok. Nie ń militêre aliansie nie.

Bulkalf ·

Nou wonder ek, wat het daai vliegtuig by Waterkloof nou eindlik hier kom haal?

Grassie ·

Daardie vliegtuig by Waterkloof is blykbaar nie die enigste een nie, Pretorianers wat naby daardie lughawe woon het opgemerk dat daar al vir ongeveer ‘n maand lank redelik gereeld van daardie vragvliegtuie daar land, veral snags. As ‘n mens die regte app op jou foon het en ‘n vlegtuig vlieg oor jou huis kan jy die identiteit van die vliegtuig bepaal. Daardie vliegtuie kan ‘n vrag van 40 ton laai. Ons regering is besig om met vuur te speel.

Andre ·

Die lot raak nou kinderagtig met hulle uitsprake om hul eie mense te vernietig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.