Europa dalk binnekort sonder gas

Die Russiese staatsenergiereus Gazprom se olieraffinadery aan die suidoostelike buitewyke van Moskou. (Foto: Natalia KOLESNIKOVA / AFP)

Die Europese Unie (EU) het sy lidlande Maandag gewaarsku om voor te berei vir ʼn moontlike algehele ineenstorting van gasvoorraad uit Rusland. Dít omdat die EU volstrek weier om in Russiese roebel vir die invoer van gas te betaal.

Rusland het vroeër geëis dat kliënte in “onvriendelike lande” waaronder EU-lidlande, in roebel vir gas moet betaal. Rusland het reeds Bulgarye en Pole se gastoevoer opgeskort nadat dié lande geweier het om aan dié eis te voldoen.

Die EU hou vol dié betaalmetode sal ʼn skending van sanksies én ʼn skending van Europese solidariteit wees.

Die Europese Kommissie sal nou Dinsdag ʼn nuwe pakket sanksies aan lidlande voorstel om pres. Wladimir Poetin te straf vir sy inval in Oekraïne. Dit sluit in ʼn embargo op Russiese olie maar nié gas nie.

Luidens inligting sal die kommissie ʼn afnemende verbod op olie oor ses tot agt maande voorstel om tyd te koop sodat die aanbod na olie diversifiseer kan word.

Ministers van energie en omgewing het egter Maandag in Brussel vergader waartydens hulle die groter en potensieel meer ingewikkelde kwessie van Rusland se aardgas bespreek het. Verskeie lande, waaronder Duitsland, die EU se topekonomie, is van dié aardgas afhanklik vir baie van sy kragopwekking.

Barbara Pompili, die Franse voorsitter van die vergadering en minister van ekologiese oorgang, en Kadri Simson, die Europese kommissaris vir energie, het ná die gesprekke gesê die 27 lidlande staan by Pole en Bulgarye en sal gas opgaar om voor te berei vir ʼn algehele ineenstorting.

“Om die volledige prosedure soos uiteengesit deur Rusland te volg, is ʼn oortreding van sanksies wat deur die Europese Unie ingestel is,” het Simson verduidelik.

Volgens haar wete het nog geen Europese maatskappy voorberei om aan Poetin se eis te voldoen en sy betaalmetodes te verander nie. Duitsland se minister van ekonomiese sake en klimaat, Robert Habeck, het reeds gesê dié land sal die EU se voorbeeld volg.

Die Russiese staatsenergiereus Gazprom se olieraffinadery aan die suidoostelike buitewyke van Moskou. (Foto: Natalia KOLESNIKOVA / AFP)

‘Nie so eenvoudig’

Verskeie lande gaan egter aan die einde van Mei voorsieningskontrakte hernu en berigte dui daarop dat sommige kan probeer om die sanksies te omseil deur die betaalmetode wat Moskou voorgestel het, te volg.

Dit sal behels dat ʼn land twee rekeninge by die Russiese staatsenergiereus Gazprom se bank oopmaak. Betalings sal in een rekening in euro of dollar gedeponeer word, en dan deur die goedgekeurde Russiese sentrale bank gestuur word, voordat dit in die tweede rekening in roebel aankom.

Kadri en sommige ministers het gesê dat dit steeds ʼn oortreding van sanksies sal wees. Maar ander lidlande het verdere verduideliking van die Europese Kommissie se kundiges geëis.

“Wat vandag gebeur het, is dat die Europese Kommissie en die presidensie bevestig het dat die betaling in roebel onaanvaarbaar is, dat dit ʼn skending van sanksies en ʼn skending van Europese solidariteit is,”het Pole se minister van omgewingsake, Anna Moskwa, Maandag gesê.

“Baie lande, insluitend die Baltiese state, Denemarke, Nederland en Finland, het solidariteit bevestig en dat hulle beslis nie in roebel sal betaal nie.

“Maar Swede se Khashayar Farmanbar, minister vir energie en digitale ontwikkeling, het gesê: “Ek dink nie daar is al uitsluitsel oor die kwessie nie… dit is ʼn komplekse proses.”

Jozef Sikela, die Tsjeggiese minister van nywerheid en handel, het op sy beurt gevra vir ʼn “duidelike uiteensetting van hoe om voort te gaan”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

HJvdb ·

Dis vir my ironies….”Cut your nose to spite you face” hoe wil jy Ruasland onder sanksies plaas as jy afhanklik is van hul oil en gas….

Dries ·

Eenvoudig. Deur aan Putin se eise te voldoen finansier jy n oorlog teen jouself en die ondergang van demokrasie en die daarstel van diktatorskappe

Marthinus W ·

Oekraiene is n diktatorskap: Zelenski het alle politieke partye verbied; die amptelike opposisieleier is die afgelope jaar al in die tronk; alle media is verbied, ens.

Maria ·

Die Europese is maar dom en hardegat. Die gas is baie goedkoper as elders. Hulle word deur Amerika en Nato gebruik om Rusland terug te kry vir Trump se oorwinning oor Hillary, is my beskeie mening. . Die VSA het altyd n oorlog aan die gang. Skaars uit Afghanistan toe is dit Ukraiene.

De Villiers ·

Dit is Rusland se gas. As jy Russiese gas wil invoer, betaal in Roebels, so maklik soos dit.

Treurwilger ·

Om sonder gas te sit, kon nie met ‘n groter klomp klimaattweegesigte gebeur het nie. Geniet dit.

Pierre ·

Die klomp Poetien ondersteuners is seker die selfde Novak aanhangers

JohanR ·

Kan Eishkom nie hulp met krag nie? Arme mense nou gaan in die donkerte sit soos ons!

andre ·

Hulle kan Rusland se gas deur Duitsland koop teen n premie .

Andre ·

Soos met die plandemie voel hulle vere vir die gewone mense.

Julius ·

Putin draai nou daardie gaskrane toe laat hlle sit sonder krag. Ek sal jou gas koop met roebels.

marius ·

Die Europeers gaan nou vir die eerste keer in hul geskiedenis gasvry word . Roebels of niks . Wat het van die sogenaamde sanksies geword ?

annie ·

Jens, Joe en Zolly… Glo grootse wêreldleiers wat glo hulle trek die toutjies op aarde… en die poppe dans…. So glo hulle…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.