F2-renjaer sterf in gru-ongeluk

Die Formule 2-renjaer Anthoine Hubert. (Foto: Facebook)

Wat veronderstel was om ʼn opwindende dag vir motorwedren-aanhangers te wees, het Saterdag in ʼn tragedie ontaard toe die Formule 2-renjaer Anthoine Hubert (22) op die Spa-Francorchamps-renbaan in België dood is.

Die Fransman het gesterf in ʼn ernstige botsing tydens die F2 Belgiese Grand Prix. Hubert se motor het teen ʼn geraamde 257 km/h teen die Amerikaner Juan-Manuel Correa se motor gebots. Die ongeluk het in die tweede ronde gebeur terwyl die twee opdraand gejaag het en toe uit die berugte Eau Rouge-draai gekom het.

Hubert het skynbaar beheer oor sy motor verloor toe hy uit die draai kom en het in die versperring vasgejaag. Sy motor het van die bandemuur afgeskiet en oor die baan geswenk voordat dit Correa se motor getref het.

Correa het sy bene in die ongeluk gebreek en is in die hospitaal opgeneem. Hy is in ʼn stabiele toestand.

Hubert én Correa se motors is in die ongeluk afgeskryf, met Correa se motor wat op sy bokant te lande gekom het. Wrakstukke van albei motors het verspreid oor die renbaan gelê terwyl paramedici hulle gehaas het om so vinnig as moontlik by hulle uit te kom.

Ander renjaers het uitgeswenk om die wrakstukke van die motors te mis en die wedren is ʼn paar minute later gekanselleer. ʼn F2-wedren wat vandag op die baan sou plaasvind, is ook afgestel.

Die Formule 2-renjaer Anthoine Hubert in aksie tydens ‘n wedren in Mei vanjaar. (Foto: David Davies/PA via AP)

Motorwedrenne se beherende liggaam, FIA, het gesê Hubert “het om 18:35 aan sy beserings beswyk” by die mediese sentrum by die baan.

Hubert het deelgeneem vir die Britse Arden-span wat bedryf word deur Garry Horner, pa van die Red Bull-baas Christian Horner. Correa is deel van die Sauber Junior-span.

Boodskappe van hartseer en medelye het vanuit die hele motorwedren-gemeenskap ingestroom.

F1-kampioen Lewis Hamilton het op sosiale media geskryf: “Dit is hartverskeurend. Mag jou siel rus Anthoine. My gebede is by jou en jou familie vandag.”

FIA het gesê hy sal die ongeluk, wat in sonnige weer en op ʼn droë renbaan plaasgevind het, ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Stan ·

Meer mense sterf te voet en per fiets. Spoed maak nie alleen dood nie, dom besluite doen.

Rupert Ashford ·

Stan, die eerste van daardie dom besluite is om mens soos ‘n renjaer te wil gedra op openbare paaie waar ander ook die pad gebruik. Spoedbeperkings is daar om almal te beskerm en is ook die wet.

Ai ·

Rupert jy weet dit was n wedren waar aan hy deelgeneem het toe die ongeluk plaas gevind het neh? R.I.V

Se maar net ·

no, stupidity at speed kills on sa roads, this is totally differant, a race car is always at speed and a mistake can kill but very seldom does my friend, look at facts

Monique ·

Rupert, ek stel voor jy gaan lees die berig en dan kom probeer jy weer kommentaar lewer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.