Facebook-aandele tuimel; Zuckerberg verloor miljarde

Die onderbreking by Facebook het miljoene mense geraak en die boodskapdiens WhatsApp, asook Instagram, is lank lamgelê. (Foto: Justin Sullivan/AFP)

Die Amerikaanse miljardêr en Facebook-stigter Mark Zuckerberg se fortuin het met meer as $6 miljard (sowat R90 miljard) verminder – en hy is nou vyfde op die lys van die wêreld se rykste mans – nadat ʼn fluitjieblaser opspraakwekkende onthullings oor die maatskappy gedoen én die sosialemediareus se vlagskipprodukte gister ure lank van lyn was.

Facebook se aandele het Maandag met 4,9% gedaal nadat dit sedert die middel van verlede maand met nagenoeg 15% verswak het, berig Bloomberg. Die daling het Zuckerberg se fortuin tot $121,6 miljard verminder nadat dit vantevore op byna $140 miljard gestaan het.

Facebook moes die afgelope ruk op velerlei fronte vure doodslaan: Eers oor die verdoemende bewerings wat teen die maatskappy gemaak is, en toe omdat Facebook en sy dienste soos WhatsApp en Instagram ineengestort het.

Verdoemende bewerings

Frances Haugen, ‘n Facebook-fluitjieblaser, op CBS News se 60 Minutes. (Foto: Robert Fortunato/CBS News/60MINUTES/ AFP)

Facebook is onder skoot nadat ʼn fluitjieblaser dokumente versprei het waarin beweer word dat die maatskappy weet sy produkte bevorder haat en is skadelik vir kinders se geestesgesondheid.

Die fluitjieblaser is Frances Haugen, ʼn 37-jarige datawetenskaplike van Iowa, wat Sondag in ʼn TV-onderhoud haar identiteit bekend gemaak het. Sy het in die onderhoud met die CBS-program 60 Minutes aangevoer Facebook is “beduidend erger” as enigiets wat sy vantevore gesien het.

Sy het ook gevra dat die maatskappy gereguleer word. “Facebook het herhaaldelik bewys dat hy wins bo veiligheid kies. Dit subsidieer, dit betaal vir sy wins met ons veiligheid,” voer Haugen aan.

“Die weergawe van Facebook wat vandag bestaan, skeur samelewings uitmekaar en veroorsaak etniese geweld wêreldwyd.”

Haugen se bewerings – wat aanvanklik naamloos gedoen is – het ʼn herrie veroorsaak. Sy het onder meer gesê Facebook weet sy produkte, soos Instagram, is skadelik vir jong meisies – veral wat betref wat hulle van hul liggame dink.

Sy het ook verduidelik hoe die maatskappy se nuusstroom (die News Feed op Facebook) se algoritme ingestel is op inhoud wat reaksie ontlok.

Die maatskappy se eie navorsing het boonop gewys dat dit “makliker is om mense aan te spoor om kwaad te word” as om ander emosies uit te lok, het Haugen gesê.

“Facebook het besef as hy die algoritme veiliger maak, sal mense minder tyd op die webwerf deurbring. Hulle gaan minder op advertensies klik en [Facebook] gaan minder geld maak.”

Tydens verlede jaar se Amerikaanse presidentsverkiesing het Facebook die gevaar van hierdie soort inhoud besef en veiligheidstelsels aangeskakel om dit te verminder. Ná die verkiesing is dit egter weer afgeskakel of verander om groei bo veiligheid te prioritiseer – en Haugen sê vir haar het dit soos verraad gevoel.

“Niemand by Facebook is kwaadwillig nie,” sê Haugen en voeg by dat Zuckerberg nie uit die staanspoor ʼn haatdraende platform wou skep nie. Die aansporing is egter wangerig.

Mededingers vaar goed

Hoewel die afgelope paar dae se omwenteling ʼn peperduur terugslag vir Facebook en Zuckerberg was, het dit pap gereën vir die maatskappy se mededingers.

Die boodskapdiens Telegram het van die 56ste mees afgelaaide app opgeskiet na die app wat die vyfde meeste afgelaai word.

Die geënkripteerde boodskapdiens Signal het ook getwiet dat hy miljoene nuwe gebruikers bygekry het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

miavos ·

Ek haal my hoed af vir haar! You go girl! Sy moet nou voor die senaat verskyn en ek het volle vertroue daarin dat sy haar bewerings sal kan staaf. Good luck!

Hardekwas ·

Hi shame. Kyk net hoe rol dir trane teen my wange af vir zuckerberg se verlies.

Vonkprop ·

Ek het jare terug al Facebook gelos en ek mis niks in die lewe nie. Facebook was ok gewees toe hy net begin het maar nou is dit ‘n heel ander storie. En nee ek is nie oud nie ek is 39, maar ek spandeer my tyd net beter. Ek is op geen sosiale platforms behalwe Whatsapp en is dit nou nie lekker nie!

MK123 ·

Ek beny jou. As dit nie was vir hoe ons familie en vriende oor die wereld verspreid is nie (ons is self in die buiteland), dan het ek ook Facebook gelos. My ervaring is dat mense baie meer geneig is om iets eenmalig op FB te deel as om dit individueel vir almal op Whatsapp te stuur.

Vonkprop ·

Ek stem 100% saam. Afstand tussen familie en vriende is wel ‘n faktor, want ek het vriende oorsee en familie in ander provinsies, maar ons Skype elke week en dit vul die holkolletjie so bietjie. Ek het niks teen sosiale platforms nie, maar ek verkies om nie daarop te wees nie.

LANA is ELANè ·

Die monetêre verlies is ‘n fraksie van sy fortuin.
Ek lag en lag en lag, hierdie mense is so selfvoldaan in hul doen en late en voel heeltemal verhewe bo als wat sosiaal aanvaarbaar is en sal net aangaan asof gister nooit gebeur het nie.

Maries ·

Hoe vinniger die Facebook sage vou, hoe better. Om mense kinders se veiligheid op te offer vir geld, terwyl hy reeds so baie het, is onaanvaarbaar.

JohanR ·

Ek was nooit op Facebook nie soe my maar min gepla. Ek mis die 400000 vriende wat ek miskien kon gehad het, maar nooit in die lewe eintlik ontmoet het nie behalwe op ‘n komper of foon.

Vrijburger ·

Haugen gaan wel voor die Amerikaanse Senaat getuig.
Hoop werklik sy word beveilig.

Liefietjie ·

Ek raak so kwaad partykeer op facebook vir facebook , hulle het so baie reels wat mens moet ruik en nie eers weet nie tot hul jou ban vir n week of maand , oor jou post kastig hull standaarde en reels nie volg nie , n flippen advertensie vir produkte , as jou bewoording net verkeerd is ou maat dan is jy in die dinges jy mag nie win win win bo aan jou post skryf nie dis teen hul reels

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.