Facebook-hoof nou ‘n pa en gee byna al sy aandele weg

Mark Zuckerberg en sy vrou Priscilla Chan en hul dogtertjie Max

Mark Zuckerberg en sy vrou Priscilla Chan en hul dogtertjie Max Foto: Marck Zuckerberg, Facebook

Mark Zuckerberg en sy vrou Priscilla Chan het die koms van hul babadogtertjie in ʼn Facebook-plasing aangekondig en verduidelik waarom hulle 99% van hul Facebook-aandele gaan weggee.

“Ek en Priscilla is baie bly om ons dogter Max in die wêreld te verwelkom! Vir haar geboorte het ons ʼn brief geskryf oor die wêreld waarin ons hoop sy sal grootword,” skryf Mark op sy Facebook-blad. “Dis ʼn wêreld waar ons generasie menslike potensiaal en gelykheid kan bevorder – deur siektes te genees, opleiding te verpersoonlik, skoon energie te gebruik, mense met mekaar te verbind, sterk gemeenskappe te bou, armoede te verminder, gelyke regte te bied en begrip oor alle nasies heen te versprei.”

Mark onderneem in die brief aan sy dogter om 99% van sy Facebook-aandele (tans ongeveer $45 miljard) tydens sy leeftyd weg te gee om by die talle ander persone aan te sluit wat hierdie wêreld vir die volgende generasie wil verbeter.

“Net soos enige ander ouer wil ons hê dat jy moet grootword in ʼn wêreld wat beter was as ons sʼn vandag,” skryf Mark en Priscilla aan Max. “Sodra ons verstaan watter wêreld ons vir jou generasie kan skep, het ons ʼn verantwoordelikheid as ʼn samelewing om ons toekomstige beleggings te fokus om dit ʼn werklikheid te maak.”

Mark noem ook dat een van die grootste geleenthede vir Max se generasie sal wees om vir almal toegang te gee tot die internet. “Mense dink aan die internet as iets wat vir vermaak of kommunikasie gebruik word, maar vir die meerderheid van mense in die wêreld kan die internet ʼn lewenslyn wees. Dit bied opleiding as jy nie naby ʼn goeie skool bly nie. Dit bied gesondheidsinligting oor hoe jy siektes kan vermy of hoe om gesonde kinders groot te maak as jy nie naby ʼn dokter bly nie. Dit bied finansiële hulp as jy nie naby ʼn bank bly nie. Dit bied toegang tot poste en geleenthede as jy nie in ʼn goeie ekonomie bly nie.

“Die internet is só belangrik, dat vir elke 10 mense wat internettoegang het, word ongeveer een persoon uit armoede gelig en een nuwe pos word geskep. Maar meer as die helfte van die wêreld se bevolking, meer as 4 miljard mense, het nog steeds nie toegang tot die internet nie.”

Dan skryf hulle verder: “As jy ʼn ongesonde kinderlewe het, gaan dit moeilik wees om jou volle potensiaal te bereik. As jy moet wonder of jy kos kan koop of huur kan bekostig, of bekommerd is oor mishandeling of misdaad, dan is dit moeilik om jou volle potensiaal te bereik.

“Daar is só baie wat ons generasie kan doen om seker te maak dat jou generasie in ʼn beter wêreld leef.”

Mark bevestig dat hy nog jare lank as uitvoerende hoof van Facebook sal dien. “Maar hierdie kwessies is te belangrik om te wag tot ons of jy ouer is. Deur op ʼn jong ouderdom te begin, hoop ons dat ons die voordele regdeur ons lewe sal sien.”

Hy sê hulle sal 99% van hul aandele weggee om hierdie sending te ondersteun. “Ons besef dis ʼn klein bydrae in vergelyking met al die hulpbronne en talente van diegene wat reeds aan hierdie kwessies werk. Maar ons doen wat ons kan, en werk saam met baie ander mense.

“Terwyl jy die volgende generasie van die Chan Zuckerberg-familie begin, begin ons met die Chan Zuckerberg-inisiatief.”

Mark en Priscilla onderneem om meer besonderhede in die volgende paar maande bekend te maak sodra hulle in die gesinsritme gevestig is en terugkeer van moederskap- en vaderskapverlof. “Ons weet jy sal baie vrae hê waarom en hoe ons dit gaan doen. Max, ons is lief vir jou en aanvaar ʼn groot verantwoordelikheid om hierdie wêreld ʼn beter plek te maak vir jou en jou kinders.

“Ons wens is dat jy ʼn lewe sal lei gevul met dieselfde liefde, hoop en vreugde wat jy aan ons verskaf. Ons kan nie wag om te sien wat jy na hierdie wêreld gaan bring nie.”

Lees die volledige brief.

Priscilla and I are so happy to welcome our daughter Max into this world!For her birth, we wrote a letter to her about…

Posted by Mark Zuckerberg on Tuesday, 1 December 2015

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Francois le Cochon ·

Aan die einde van elke maand het ek ook net 1% van my salaris oor.
Aan die wat die ander 99% kry, gebruik dit asb oordeelkundig.

JAN BRITZ ·

Arme ou. Hy hou net .45miljard oor om mee te oorleef! Hoop nou nie hy en sy gesinnetjie ly te honger nie.

Gert ·

Een van die dae word die blad staats eiendom (CIA) wanner hy dit aan hul kwansuis verkoop.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.