Facebook kap terug ná verdoemende bewerings

Mark Zuckerberg, stigter en hoof van Facebook. (Foto: Mandel Ngan/AFP)

Mark Zuckerberg, stigter en hoof van Facebook, het aantygings wat ʼn fluitjieblaser teen die maatskappy gemaak het, ontken. Hy ontken ook bewerings dat die sosialemediareus wins bo die veiligheid van sy gebruikers stel.

Frances Haugen, ʼn 37-jarige datawetenskaplike van Iowa wat byna twee jaar lank vir Facebook gewerk het, het Sondag haar identiteit in ʼn TV-onderhoud bekend gemaak nadat sy interne navorsing van die maatskappy aan owerhede en The Wall Street Journal uitgelek het.

Haugen het verskeie aantygings teen Facebook gemaak, waaronder dat hy herhaaldelik bewys het dat hy wins bo veiligheid kies.

“Facebook betaal vir sy wins met ons veiligheid,” het sy gesê.

Die oudwerker het Dinsdag voor ʼn senaatpaneel op Capitol Hill in Washington oor die bewerings wat sy in die onderhoud gemaak het, getuig. Sy het ook gevra dat die maatskappy gereguleer word.

“Die kongres moet nou ingeryp. Hulle [Facebook] sal nie die verdeeldheid wat hy kweek, die skade wat hy aan kinders berokken en die veiligheidsbesware van gebruikers self oplos nie.”

Haugen se getuienis volg skaars ʼn dag nadat Facebook, Instagram en WhatsApp wêreldwyd sewe ure lank aflyn was. Zuckerberg het gevolglik miljarde dollars verloor, terwyl Facebook se aandele ʼn knou gekry het.

Zuckerberg het in ʼn Facebook-plasing die bewerings teen die maatskappy ontken en gesê die argument dat Facebook doelbewus inhoud aan gebruikers deurgee wat skade berokken sodat die onderneming meer geld kan maak, nie sin maak nie.

“Facebook verdien geld uit advertensies, en adverteerders vertel ons deurgaans dat hulle nie hul advertensies by kwaadwillige of skadelike inhoud wil hê nie. Ek weet ook nie van enige tegnomaatskappy wat produkte wil bou wat mense kwaad of depressief laat voel nie.”

Uit al die bewerings het die miljardêr veral gefokus op die impak wat die maatskappy se verskeie platforms op kinders het. Hy het bygevoeg dat hy trots is op al die werk wat Facebook al gedoen het om jongmense in nood te help.

Kongres wil optree

Ná Haugen se getuienis het talle lede van die kongres saamgestem dat ingryping nou nodig is en veranderinge aan die bedryf se regulasies aangebring moet word.

“Die tyd is verby dat Facebook inbreuk maak op ons privaatheid, skadelike inhoud bevorder en slagoffers van ons kinders en tieners maak,” het senator Ed Markey gesê.

“Die kongres sal optree en ons sal nie verder toelaat dat Facebook ons kinders, gesinne en demokrasie benadeel nie.”

Senator Amy Klobuchar het gesê die inligting wat Haugen bekendgemaak het, is die druk wat benodig word om die kongres aan te spoor om Facebook te reguleer.

Amerikaanse owerhede dreig al jare lank om sosialemediaplatforms te reguleer om onder andere die inbreuk op privaatheid, die verspreiding van fopnuus en skade aan die welstand van jongmense te beperk.

Zuckerberg het in sy Facebook-plasing saamgestem dat bedryfsregulasies gereguleer moet word en sê al vir jare dat die kongres die regte staatsliggaam is om dit te doen.

Haugen het tydens haar getuienis aangevoer dat Facebook ʼn platform is waar menslike gedrag gemanipuleer word om mense op die app te hou. Sy het egter erken dat hoewel sy dink Facebook nie inherent sleg is nie, eksterne ingryping nodig is om die sogenaamde toksisiteit wat dit bevorder uit die weg te ruim.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Elinette ·

Ag man, soos met alles het meeste mense ‘n KEUSE – dis jou KEUSE om op sosiale media te wees en te kyk wat daarop aangaan. As jy nie hou van iets wat na jou kant toe kom nie, MOET NIE LEES NIE, “scroll down and past”.

Martie Smartie ·

As die gebruiker nie die instrument reg kan gebruik nie (soos vuurwapens, voertuie, die internet ens ens ens), is dit die instrument of sy skepper se skuld? Dit is ook nie FB se skuld dat hulle n monopolie het op wat hulle aanbied nie. Die alewige gereguleerdery vd Amerikaners laat dink my baie aan die ANC, of het hulle geleer by die VSA?

Mrs H ·

VSA leer by ANC…. Joe Biden is maar net een bewys – die riller moes lankal leeukos gewees het.

ES ·

Klink vir my meer asof sy ‘n voormalige werknemer is met wrokkige bedoelings… Facebook is in elk geval nie ‘n bron van betroubare nuus of inligting nie, so mense wat fopnuus lees en glo sonder om dit te verifieer, maak hulself skuldig aan onnoselheid.

Sarel ·

Hoe reageer hulle net op een persoon se kommentaar..
Sy/Hy mag dalk ook deur Opposissie gebruik/ misbruik word

Lourens CFG ·

Net so word advertensies só uitgewerk dat dit op ‘n mens se psige speel om jou te kry om die produk te koop.
Die “tool” self is nie die probleem nie, maar hoe dit aangewend word.
Dit is hoekom dit reguleer moet word, soos advertensies wat gedurende ‘n film vir ek dink 1/24 ste van ‘n sekonde “flash”, nie gebruik mág word nie. Jy “sien” nie die adv. nie, maar jou onderbewussyn wél.

Ansie ·

Sosiale media, en in dié geval spesifiek Mark Zuckerberg, word nou aanspreeklik gehou vir die talle onopgevoede en kwaadwilliges wat deel van die samelewing vorm. Dis mos nou nie sy skuld nie. Ordentlike, ingeligte mense sal hulle nie met sulke nonsens ophou nie. Wat van die talle “onaanvaarbare” webwerwe wat op die internet is – wie gaan dit polisieer? Dis dieselfde as om onderwysers verantwoordelik te hou as kinders se opvoeding tuis gebrekkig is. Totaal belaglik.

Linda ·

Is die Francis n man of vrou of hulle? In julle artikel verwys julle na haar en sy het dit uitgelek, en later is dit weer hy en hom? Baie evrwarrend. Gaan niemand die artikel deur voor dit op die webblad geplaas word nie?

Hoekom ·

“Zuckerberg het in ʼn Facebook-plasing die bewerings teen die maatskappy ontken en gesê die argument dat Facebook doelbewus inhoud aan gebruikers deurgee wat skade berokken sodat die onderneming meer geld kan maak, nie sin maak nie.”

Maak toetaal sin as jy na die finansiële prentjie kyk en net dit raak sien.

Robert Sydney ·

Die probleem met enige regulering is dat dit weereens gedoen word volgens iemand se oortuigings van wat reg of verkeerd is. Ook, wat jy wil bevorder is verkeerd in my oê, en andersom

Rupert Ashford ·

Dit klink vir my die tannie is eintlik kwaad omdat sy haar mag in FB verloor het – as ek reg verstaan was sy deel van die afdeling in FB wat kon bepaal watter politieke “nuus” word toegelaat om te versprei en wat nie tydens die Amerikaanse Presidentsverkiesing, en dat die afdeling na die verkiesing ontbind is en geintegreer is met ander afdelings. Haar idee van regulering is nie om vryheid van spraak te bevorder nie, maar eerder om dit te onderdruk en ‘n “ministry of speech” te skep. Verder het sy eintlik maar min “onthul” – enigiemand wat nie vir hulleself kan dink dat iets soos Instagram sleg is vir tieners nie, het maar min hoop vir beterskap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.