Facebook laat vaar gesigherkenning oor privaatheidsvrese

Argieffoto (Foto: Tumisu/Pixabay)

Facebook laat vaar sy gesigherkenningstelsel – wat al skerp onder kritiek deurgeloop het – en verwyder ook geskandeerde data van ʼn miljard mense, het die maatskappy Dinsdag gesê, in ʼn verrassende reaksie op privaatheidsvrese.

Die aankondiging kom terwyl die tegnologiereus steier ná interne dokumente aan verslaggewers uitgereik is. Daar is opnuut versoeke vir beter regeringsregulering.

Die beleidsverandering beteken dat funksionaliteit, wat outomaties mense uitken wat in foto’s verskyn, afgeskakel word. Dié funksionaliteit het die maatskappy in staat gestel om ʼn wêreldwye biblioteek van gesigte op te bou, maar het tot groot omstredenheid gelei.

“Die verandering verteenwoordig een van die grootste verskuiwings in die gebruik van gesigherkenning in die tegnologie se geskiedenis,” sê Jerome Pesenti, adjunkpresident van kunsmatige intelligensie by Facebook se houermaatskappy, Meta. “Daar is baie besware oor die gebruik van gesigherkenningstegnologie in die samelewing. Reguleerders poog om ʼn stel reëls saam te stel wat die gebruik daarvan kan bestuur.”

Pesenti het nie verduidelik waarom die verandering aangekondig is net ná dokumente uitgelek het wat aanvoer dat uitvoerende hoofde bewus was daarvan dat die platform moontlik skade kan aanrig nie.

“Meer as ʼn miljard mense se individuele gesigherkenningstemplate sal uitgewis word,” het hy bygevoeg. Dit sal oor die volgende paar weke geskied.

Persone wat privaatheidswetgewing wil bevorder het die nuus verwelkom. Hulle is egter bekommerd dat dit bloot ʼn poging is om die maatskappy in ʼn goeie lig te stel.

Gesigherkenning is in 2010 van stapel gestuur. Daar was verskeie pogings om privaatheid op te skerp, maar ʼn noemenswaardige hofsaak het gevolg. Die sosiale netwerk het in 2020 ingestem om $650 miljoen uit te betaal ná ʼn hofsaak dat hy onwettig biometriese inligting versamel het wat ʼn oortreding is van privaatheidswetgewing uit 2008 in Illinois. Dit was die tweede grootste skikkingsooreenkomste in ʼn privaatheidsaak in die VSA. Facebook se $5 miljard-ooreenkoms met die Federale Handelskommissie oor datapraktyke was die grootste.

Verskeie stede in die VSA, insluitend San Francisco, het ʼn verbod geplaas op die gebruik van gesigherkenningstegnologie. Daar is kommer oor die skep van groot databasisse met foute om seker individue uit te ken.

Tegnologiereuse soos Amazon, Microsoft, IBM en Google het ook reeds, al is dit net tydelik, gestaak om gesigherkenningsagteware aan polisiemagte te verkoop.

“Gesigherkenning is een van die gevaarlikste en polities giftigste tegnologieë wat ooit uitgevind is. Selfs Facebook weet dit,” het Caitlin Seeley George, veldtogdirekteur by die digitale regtegroep Fight for the Future, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

VaalDonkie ·

Ek raak altyd so die dinges in as iemand my “tag” in ‘n Facebook foto. Ek het later uitgevind jy kan dit afsit in jou profiel. Ek wil nie he my gesig data moet op die internet ronddryf nie.

Cheryl ·

As julle dink dat FB, wat sy naam na metaverse verander het, alle info wat hulle oor dekades heen versamel het gaan uitwis, maak julle ‘n GROOT fout. Hierdie info is al duisende kere verkoop en is gestoor vir altyd. Wees uiters versigtig wat en met wie jy deel en op watter platform jy dit doen. Niks is meer privaat nie.

Swartskaap ·

Gelukkig het ek reeds my facebook profiel 5 jaar gelede gesluit. N absolute vermorsing van my tyd, en inbreuk op my privaatheid.

Johan ·

Wyse’ skapie’ jý.En die res van die miljard wêreldwyd wat eintlik ontbloot is…..

Janee ·

Ek is nie ‘n fundi met rekenaars nie….maar totaal “uitwis”? Dit kan selfs ek nie glo nie…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.