Facebook loop deur onder grootste aanval

Die Facebook-stigter Mark Zuckerberg erken hulle weet nie wie die aanvallers is nie. Foto: Facebook

Het Facebook jou die afgelope dag of wat gevra om af te meld en weer aan te meld? Jou rekening is tien teen een aangeval en jou aanmeldbesonderhede gesteel.

Kuberkrakers het daarin geslaag om amper 50 miljoen rekeninge oor te neem in die grootste aanval tot dusver op Facebook se veiligheid, het die sosialemediaplatform Vrydag bekendgemaak.

Die Britse dagblad The Guardian berig Facebook-ingenieurs het Dinsdag die veiligheidsoortreding ontdek en dit teen Donderdag herstel.

Die maatskappy het onderneem om gebruikers in kennis te stel as hul rekeninge in gedrang gekom het. Facebook sal hulle outomaties vra om af te meld en opnuut aan te meld.

“Ek is bly ons het dit opgespoor en die kwesbaarheid herstel,” het die Facebook-stigter Mark Zuckerberg luidens die berig Vrydagoggend op ʼn konferensie aan verslaggewers gesê. “Maar dit is beslis ʼn kwessie dat dit in die eerste plek gebeur het. Ek dink dit onderstreep die aanvalle wat ons gemeenskap en dienste in die gesig staar.”

Die BBC berig Facebook se aandeleprys het Vrydag met 3% gedaal weens die aanval. Die platform het meer as 2 miljard aktiewe maandelikse gebruikers.

Facebook het teenoor verslaggewers erken die aanval maak dit vir kuberkrakers moontlik om op talle ander rekenings aan te meld wat Facebook se stelsel gebruik. Dit beteken vername ander webwerwe soos AirBnB, YouTube en Tinder word ook geraak.

Volgens The Guardian is die aanval besonder hewig omdat die kuberkrakers “toegangsbewyse” gesteel het waarmee gebruikers oor verskeie sessies aangemeld kan bly sonder om telkens hul aanmeldbesonderhede in te tik.

Met so ʼn bewys kan ʼn kuberkraker volle beheer oor ʼn gebruiker se Facebook-rekening oorneem, wat die ander rekeninge insluit waarop die gebruiker met sy of haar Facebook-gebruikersnaam en -wagwoord aanmeld.

Die BBC berig die firma weier om te sê waar ter wêreld die 50 miljoen gebruikers woon, maar hy het dit wel bekendgemaak aan die Ierse data-owerheid omdat dit is waar Facebook se Europese filiaal gebaseer is.

“Omdat ons nou eers met ons ondersoek begin het, moet ons nog vasstel of hierdie rekeninge misbruik is en of toegang tot enige inligting verkry is. Ons weet ook nie wie agter die aanvalle sit of waar hulle gebaseer is nie,” het Zuckerberg erken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Johann ·

Is Facebook se dae dalk getel? Deesdae is Facebook meer in die nuus vir slegte goed as goed.
Ek wonder hoeveel mense het hulle eie lewens asook ander mense skade aangedoen deur ‘n kommentaar te plaas en dan spyt was. Maar dit was te laat.
Deesdae dink ek Facebook veroorsaak meer kwaad as wat dit goed doen.
Maar as ‘n mens kyk hoe Faceook ontstaan het, is dit geen wonder nie.

Skerpioen ·

Dankie ek het n maand geledecmy FB account heel toe gemaak. Daar us kort kort fake news, mense praat mekaar bang in plaas daarvan om mekaar moed in te praat, mense se lewens is al verwoes agv die dom kommentaar wat hulle gelewer het. Mense glo meer wat op FB verskyn as wat hulle in die Woord van God glo….

Jhc ·

Myne rekening ook gekanselleer, hoekom wil mens die linkse gemors nog krag gee

Andre ·

Ek dink Facebook het sy identiteit verloor waar dit familie en vriende verbind het eens het dit een Groot bemarkings platform geword waar almal Elke dag iets wil verkoop. Nie eens te praat van Al die propoganda wat daagliks versprei word nie. Dink eerder dit het n vyand geword.

Casper Labuschagne ·

Ek was een van die vroeë gebruikers van Facebook in 2007 en is in 2013 daar vort. Ek het nie my rekening toegemaak nie, bloot afgetakel tot zero sodat die paar onkundiges vir wie Facebook die Alpha en die Omega van die Internet is vir my kan opspoor en so elke drie maande gaan ek vir vyf minute in Facebook in. In die begin van elke jaar gaan kyk ek of diegene wie se verjaarsdae nie in my swart notaboekie is nie dalk op Facebook verskyn sodat ek my geskrewe notaboek op datum kan bring. Ek sien inderdaad nie meer die geklets van ou kennisse nie, maar ek mis inderwaarheid niks nie. Die feit dat jy duisende kennisse op Facebook kry en honderde klikke daagliks omdat hulle van jou goetertjies hou, beteken geensins dat enigeen eendag in die werklike lewe by jou begrafnis sal opdaag nie.

L BS ·

Casper, goed gestel :) Hulle sal nie noodwendig by jou begrafnies opdaag nie.
Ek woon in Kaapstad, van my kinders in Jhb. Aan die begin het ek FB gebruik om met hulle te kommunikeer (eerder as om gedurig ontydig te bel) en te sien as hulle “posts” geplaas het, dat alles wel en goed gaan. Mettertyd het hulle ook ophou “Post” en wat my nou irriteer van FB is dat jy nie kan ondertoe blaai om ou boodskappe te lees nie. “Want to see more posts? Find more friends” EK WIL NIE MEER MENSE OP FACBOOK FRIEND NIE!!!! Ek het net my kinders en broer op, geen vriende nie, juis omdat dit nie privaat is nie, ongeag die kamtige stellings. So ja, FB is net nie meer dieselfde nie.

Casper Labuschagne ·

Wie ook al Facebook gebruik, maak net een groot, groot fout – hulle gebruik Facebook. Hierdie is bloot die begin.

Jannie ·

Ek het my FB-blad sowat 9 mde gelede gesluit en het nooit weer teruggekyk nie!! Ek voel verlig en mis dit nie vir ‘n oomblik nie!! My raad is – kom weg van hierdie NWO instrument!!! Kies reg – bly weg!!!

Illa ·

Snaaks dat almal wat kommentaar gelewer het teen fb is… Ek studeer verder en kry baie nut v fb soos studiegroepe. Julle moet regtig julle redenasie oordenk. Dis soos rekenaars en tegnologie maar is. Die groot probleem is die verbruiker en nie die platvorm nie. Maar as jy op jou klip wil sit en “duiwel” skreeu elke keer as die wind die bossie roer, doen so voort en geniet dit!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.