Facebook stel geliefdes gerus tydens ramp

SafetyCheck1Facebook het ʼn nuwe funksie bekend gestel wat gebruikers in staat stel om hul familie en vriende in kennis te stel dat hulle veilig is wanneer groot rampe tref.

Safety Check stel die gebruiker ook in staat om te kyk of ander mense in die area veilig is. Volgens ʼn verklaring van Facebook maak mense tydens rampe soos aardbewings of tsoenami’s van dié sosialemediaplatform gebruik om te kyk of hul geliefdes veilig is en om op hoogte te bly van die situasie. “Dit is in hierdie oomblikke dat kommunikasie kritiek is vir mense in die gebiede wat geraak word en vir hul vriende en families wat angstig vir nuus wag.”

Volgens Facebook het mense tegnologie en sosiale media gebruik om in verbinding te tree met hul geliefdes tydens die aardbewing en gevolglike tsoenami in Japan in 2011. “Volgens die Rooikruis in Japan is meer as 12,5 miljoen mense landwyd daardeur geraak en is meer as 400 000 mense ontruim.”

Facebook het gesê sy ingenieurs in Japan het die eerste stap gedoen om ʼn produk te ontwikkel om mense te help om in verbinding te tree na ʼn ramp. “Ongelukkig gebeur hierdie soort rampe al te dikwels. Elke keer sien ons dat mense en noodlenigingsorganisasies Facebook gebruik in die nadraai van ‘n groot natuurlike ramp. Hierdie gebeure het ons baie geleer oor hoe mense Facebook gebruik tydens rampe.”

Dis hoe Safety Check werk:

SafetyCheck2Wanneer die funksie geaktiveer is ná ʼn natuurlike ramp en ʼn persoon in die betrokke gebied is, sal hy of sy ʼn Facebook-kennisgewing ontvang wat vra of hulle veilig is. Facebook sal die persoon se ligging bepaal deur die stad wat hy of sy op hulle profiel gelys het en die stad waar hulle die internet gebruik. Indien die persoon se ligging verkeerd aangedui word, kan hy of sy aandui dat hulle nie in die betrokke gebied is nie. Indien die persoon veilig is kan hy of sy dit só aandui en ʼn kennisgewing sal op die persoon se Facebook-profiel verskyn. ʼn Persoon se vriende kan hom of haar ook as veilig merk.

“Indien jy ooit in ‘n situasie is wat vereis dat jy Safety Check moet gebruik, hoop ons dit is ‘n instrument wat jou sal help om in verbinding te bly met die mense vir wie jy omgee, en dat dit jou gemoedsrus sal gee met die wete dat jou geliefdes veilig is,” het die maatskappy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.