Facebook strafregtelik vervolg

Andrew Forrest se naam word glo gereeld in bedrieglike advertensies op Facebook gebruik. (Foto: John Lamparski/Getty images/AFP)

ʼn Australiese miljardêr het strafregtelike klagte teen Facebook aanhangig gemaak. Dit is glo die eerste keer ooit dat dié tegnologiereus strafregtelik vervolg word.

Andrew Forrest beskuldig Facebook daarvan dat hy “strafregtelik roekeloos” was deur nie voldoende stappe te doen om misdadigers te verhoed om dié sosialemediaplatform te gebruik om advertensies te plaas wat daarop gemik was om Australiese gebruikers te bedrieg nie.

BBC berig Forrest, voorsitter van die ysterertsmaatskappy Fortescue Metals, se naam word sedert Maart 2019 glo in bedrieglike advertensies op Facebook gebruik om valse kripto-geldeenheid-beleggingskemas te bevorder.

Hoewel Facebook sulke advertensies verbied, verskyn baie steeds op die sosialemediaplatform.

Forrest beweer nou dat Facebook “wetend voordeel trek uit hierdie siklus van onwettige advertensies”.

Dié mynmagnaat sê hy het in November 2019 reeds ʼn ope brief aan Mark Zuckerberg, stigter en hoof van Facebook, nou bekend as Meta, geskryf waarin hy hom aangemoedig het om teen die bedrieglike advertensies op te tree.

“Ek is bekommerd oor onskuldige Australiërs wat deur klik-aas-advertensies op sosiale media bedrieg word,” het die mynmagnaat Donderdag in ʼn verklaring gesê.

“Ek is daartoe verbind om te verseker dat sosialemedia-bedieners nie toelaat dat hul webwerwe deur misdaadsindikate gebruik word nie … Ek tree hier op vir Australiërs, maar dit gebeur oor die hele wêreld.”

Die saak sal vanaf 28 Maart in die landdroshof van Wes-Australië aangehoor word. Sou Facebook skuldig bevind word, sal die tegnologiereus boetes opgelê of gedwing word om sy wyse van advertering te verander.

The Guardian berig Forrest het in September verlede jaar reeds ook ʼn siviele regsgeding in die Amerikaanse deelstaat Kalifornië aanhangig gemaak waar Facebook se hoofkantoor geleë is.

Facebook het intussen gesê hy kan nie kommentaar lewer op Forrest se saak nie aangesien dit ʼn “potensieel aktiewe regsaangeleentheid is”.

Die maatskappy het wel gesê hy is gekant teen alle advertensies wat sy gebruikers wil bedrieg of mislei. “Dit oortree ons beleid en is nie goed vir ons gemeenskap nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Twallie ·

Mooi so. Ek hoop iets kom hiervan.

Big Tech buit mense al vir jare uit en dit moet stopgesit word.

Janine ·

Ek het nou al tot vervelens ‘n sogenaamde Takealot ad gerapporteer. Moreoggend verskyn dit maar weer op my muur! Facebook se mense is of totaal vertraag, of doen nie rerig hul werk nie.

Marie ·

Jip daai goedkoop goed wat hulle van ontslae moet raak!!!! Kan net nie glo die mense bly steeds daarvoor val nie. Ek doen dieselfde as jy rapporteer op FB en stuur screenshot aan Takealot op mesenger :)

Erika ·

Sal baie bly wees as iets gedoen word aan onwettige advertensies op Facebook. Het al ‘n bloutjie geloop deur goedere te bestel wat op Facebook geadverteer word. Bestel, betaal en goedere het net nooit opgedaag. Word of Facebook nie verantwoordelik gehou kan word vir verlies van fondse.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.