Facebook verwyder miljoene video’s oor massaskietery

Massa-skietery in Nieu-Seeland (Foto: (AP Photo/Mark Baker)

Facebook het binne die eerste 24 uur ná ʼn massaskietery by twee moskees in Christchurch, Nieu-Seeland, ongeveer 1,5 miljoen video’s van die voorval van dié sosialemediaplatform verwyder.

“Ons werk deurgaans om strydige inhoud te verwyder deur ʼn kombinasie van tegnologie en mense,” het Mia Garlick van Facebook in Nieu-Seeland, op Twitter gesê. Ongeveer 1,2 miljoen van die video’s is reeds verbied toe gebruikers dit wou oplaai.

“Uit respek vir die persone wat deur dié tragedie geraak is en kommer van plaaslike owerhede, verwyder ons ook alle geredigeerde weergawes van die video wat nie grafiese inhoud wys nie,” het sy bygevoeg.

Afskrifte van die ontstellende 17 minuut lange regstreekse video is ure lank ná die aanval, waartydens minstens 50 persone dood is, aanlyn gesirkuleer.

Die Nieu-Seelandse polisie het ure ná die aanval gesê hulle wil die beeldmateriaal verwyder en maan persone om dit nie te deel nie.

Eerste minister Jacinda Ardern het verlede Vrydag ook die polisie se versoek herhaal en gesê burgers moet nie enigiets deel wat dié gewelddadige aanval of die boodskap kan aanvuur nie.

Die regstreekse video wys ʼn man in kamoefleer- en swart klere wat na die Al Noor-moskee in Christchurch ry. Daar speel Serwiese musiek in die motor en verskeie outomatiese gewere kan op die passasiersitplek gesien word. Op een van die gewere staan ʼn naam, “Ebba Akerlund”, geskryf, ʼn 11-jarige meisie wat in 2017 tydens ʼn terreuraanval in Swede oorlede is.

Die man betree die moskee en ná hy minstens 24 mans in die gebou geskiet het, skiet hy minstens twee persone in die straat. Die video is verfilm in die styl van ʼn eerste-persoon-skieter-videospeletjie.

Hy keer terug na die motor om nog wapens te gaan haal en keer dan terug na die moskee. Die video eindig waar hy van die misdaadtoneel wegjaag en uit die venster van sy motor nog ʼn paar skote afvuur.

Alexander Gillespie, ʼn professor van internasionale reg by Nieu-Seeland se University of Waikato, het gesê verspreiding van dié beeldmateriaal kan moontlik daartoe lei dat ander persone die voorval na-aap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Martie ·

Dit herinner my aan die besluit wat Hlaudi Motsoeneng geneem het – dat tonele van geweldadige protesoptogte nie meer deur die sauk uitgesaai mag word nie. Wat het dan nou geword van mense se reg om te weet wat in die land/wêreld aangaan? Is Facebook nou geregtig om te besluit wat gesien mag word en wat nie?

Viv ·

Sal jy nog dink dis mense se reg as dit jy of een van jou mense is wat so vermoor is? Is dit regtig n reg? En selfs as dit is, wat ek sterk betwyfel, waarom sal jy wil sien hoe iemand vermoor word?

Vra net ·

Gaan hulke ook die videos waar moslems Christene keelaf sny verwyder?

KAKtus ·

Dit is net soos ondersteuning van o.a India krieket. India is teen Christenskap en vervolg Christene, maar die wedstyde word op tv uitgesaai, self Sondae.

Cicero ·

Die owerhede is maar erg naief. Moord is onwettig, tog word dit gereeld gepleeg. Die verbod op moord werk nie. Wat laat hulle dink dat ‘n verbod op vuurwapens, kameras en videos gaan werk? Dit sal niks meer effektief wees as ‘n verbod op water wat afdraand loop nie.

Heinrich ·

Jy hoef maar net na ministers wêreldwyd se akademiese kwalifikasies te kyk om te besef hulle is alles behalwe akademiese reuse. Hoofsaaklik BA grade, met so hier en daar dalk n LLB. En in my dae op US het ons chemiese ingenieurstudente die LLB studente beslis nie as slim beskou nie.

Elsa ·

My opinie: verwyder alle geweld video’s van die netwerk. Kinders leer dat dit die norm is en wil hierdie “voorbeeld” volg. Om dit te ver toon, skenk die regte van die slagoffers.

M ·

Wat het dan vir Kaïn aangespoor om Abel te vermoor? Ek glo nie dit was as gevolg van videos nie.

Anneli ·

Besluit Facebook nou wat ons mag sien en wat nie? Is hulle die nuwe sensuur raad? Wie is die mense op Facebook wat hierdie besluite neem?
Ek sou sê mens moet baie goed dink oor wat hier gebeur.
Vryheid van spraak word hier aan bande gelê.

$ ·

Ek verstom my aan diegene wat so ontsteld is oor die video verwyder is – waarom wil julle dit so graag sien? Sensasie? Kyk julle graag gruwelflieks? Waarom wil julle so graag sien hoe ‘n moordenaar mense (wat onskuldig gaan aanbid het) doodmaak? Watse ´kick’ wil julle daaruit kry?

Onthou daardie mense, al is hulle Moslems waarvan baie in hul geloofskringe radikaal is, het ook gesinne. Geliefdes. Daardie Moslems wat vermoor is, was nie noodwendig self radikale Moslems nie.

Hoe sal jy daarvan hou as ‘n video van jou man/seun/broer/pa se laaste doodsoomblikke, waarin hy waarskynlik angsbevange is, die wêreld volgestuur en gekyk word vir sensasie? Om te weet wat in die wêreld aangaan (te weet ’n moord is gepleeg) en ´n video van die moorde te wil kyk, is twee totaal verskillende dinge.

Hoe sal julle daarvan hou as ´n video van ´n plaasaanval en -moord die wêreld volgestuur word vir ´entertainment’ van sosiale media-gebruikers? ´n Bewusmakingsvideo is anders as ´n video waarin mense hulle verlekker in ander mense se doodsoomblikke.

Dink mooi oor die rede agter julle besware oor Facebook se besluit; na my mening doen hulle die regte ding.

Hulle behoort dit ook te doen met videos waarin Christene keelaf gesny of onthoof word – eintlik met elke video waarin ´n persoon gemartel, vermoor en sy/haar menswaardigheid aangetas word.

Barries ·

Anneli, hoekom het jy ‘n behoefte om te sien hoe mense vermoor word?

Steve ·

Dis ‘n loutere skande tot watter vlak die mensdom verval het.
Het julle niks beters om te doen nie?!
“Ledigheid is die duiwel se oorkussing”

PJC ·

Enige moord is afskuwelik. Ek het gewonder waar en wanneer gaan so iets gebeur. Die spreekwoord sê mos wat jy saai sal jy maai. Ongelukkig is dit altyd die onskuldiges wat in die spervuur beland.

M ·

Hulle se dat dit ander mense kan aanspoor om ook moord te pleeg op dieselfde wyse. Eenvoudig en dit maak sin vir my. Het ook al baie in verlede gebeur dat sekere geweldadige video speletjies mense aanpor om dit in lewende lywe uit te voer. Baie billike verwagtig.

Wonder net ·

Ek veronderstel die moordenaar in hierdie berig het self die video opname opgestel om die moordtoneel te verfilm. Ek het egter die laaste tyd nogals gewonder oor die mens agter die kameralens wat die video opname maak. Bv. die opname waar die hoërskoolseun by Lyttelton Manor onlangs die dogter op die skoolterrein karnuffel het. Om nie eers van die onlangse moord van die skoolseun te praat nie. Daar moet regtigwaar iets vreemd in ‘n mens se psige “aangeskakel” word om genot daaruit te put om dit op video op te neem. En ek praat nie van iets opneem met die oog om later as bewysstukke te gebruik nie. Ek praat van pleinweg iets gruwelik of gewelddadig op te neem suiwer vir die “genot” daarvan.

Avra ·

Wonder net, daar is een dag aan die koerant gevra om 1 dag per week n koerant te druk net met goeie nuus. Hul het dit vir n maand probeer. Die goeie nuus koerant het nooit weer verskyn…. Goeie nuus verkoop nie…. Die mens dom is al so gebrein wash met net slegte nuus

Skerpioen ·

Van nuuskierigheid is die kerke leeg en die tronke vol…. het my ma hulle altyd vir ons gesé. In hierdie geval is dit letterlik. Ek wil nie hê my kinders moet sien hoe daar n moord gepleeg word en hoe mense dood gaan nie. Nee man sies vir julle wat dit wil sien.

Khan ·

Die videos is dan orals anders op die internet…dit is op elke 2de whatsapp boodskap… nice try FalseBook…

Wessel ·

Wys die videos ook v Afrika en SA dat die wereld self kan besluit

Outoppie ·

Ek onthou nie so ‘n bohaai uit Moslem lande oor die meer as honderd Christene wat in Manchester en Parys by konserte vermoor is nie . . . NIE dat ek so ‘n slagting van enige onskuldiges goedpraat nie, maar die konsertgangers was mos ook onskuldig, of hoe ? Ek vra maar net . . .
Hulle kan maar die videos vrystel, ek self het geen belang om dit te kyk nie, die Bosoorlog was genoeg dankie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.