Facebook wil dalk naam verander

Mark Zuckerberg, Facebook

Facebook is luidens berigte van plan om sy maatskappy se naam volgende week te verander. Die naamsverandering het na bewering ten doel om die maatskappy se fokus op die bou van ’n sogenaamde meta‑heelal (metaverse) te weerspieël.

The Verge berig die sosialemediareus wil glo voortaan vir meer bekend staan as bloot ’n sosialemediaplatform.

Luidens die berig, waarin ’n bron “met direkte kennis” van die naamsverandering aangehaal word, beoog Mark Zuckerberg, uitvoerende hoof van Facebook, om die naamsverandering tydens die maatskappy se jaarlikse Connect-konferensie op 28 Oktober aan te kondig.

Dit is egter ook moontlik dat die naamsverandering vroeër aangekondig kan word.

Zuckerberg het in Julie reeds aan The Verge gesê Facebook sal in die komende jare “in wese oorgaan van ’n platform wat mense primêr as ’n sosialemedia-onderneming beskou na ’n meta-heelal-onderneming”.

’n Woordvoerder van Facebook wou egter nie vandeesweek op die beweerde naamsverandering kommentaar lewer nie.

Facebook sal nie die eerste bekende tegnologiemaatskappy wees om sy naam te verander namate sy planne uitbrei nie.

Google het hom in 2015 onder die sambreelmaatskappy Alphabet hergroepeer om aan te dui dat hy nie meer net ’n soekenjin is nie, maar ook uit maatskappye bestaan wat betrokke is by motors sonder bestuurders en gesondheidstegnologie.

Snapchat het op sy beurt in 2016 na Snap Inc. oorgeskakel. Die maatskappy het hom sedertdien as ’n “kameraonderneming” gevestig en sy eerste Spectacles-kamerabril bekendgestel.

Facebook kry tans die wind van voor nadat ʼn fluitjieblaser die maatskappy onlangs daarvan beskuldig het dat hy herhaaldelik wins bo die uitroei van haatspraak en disinformasie stel.

  • Die term “meta-heelal” word gebruik om die konsep van ‘n toekomstige weergawe van die internet te beskryf wat in noue samewerking met die werklike wêreld is. Die term verwys na ʼn toekomstige voorgestelde virtuele kollektiewe gedeelde ruimte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Oros Soros ·

Nuwe naam gaan seker “Big Brother” of iets in daardie lyn wees. Dit is ongelooflik hoe baie inligting Facebook van jou kan versamel sonder dat jy dit agterkom, tot jou bewegings ook.

JohanR ·

Hier is ‘n ander plan. Hoekom nie net heeltemal verdwyn nie, instede om die naam te verander?

Belinda ·

Is fine, hulle kan dit maar verander, solank hul net van die games en ander advertensies van ontslae raak.

Waarnemer ·

Waarom?Mark het te veel geld in sy gatsak en dit pla hom.

Oomniklaassevriend ·

Facebook moet eerder hulle gesindheid verander.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.