Familie dagvaar park ná mallemeule-ongeluk

Tyre Sampson (Foto: Twitter)

Die familie van die 14-jarige Tyre Sampson wat van ʼn bewegende mallemeule by ʼn pretpark in die VSA na sy dood geval het, gaan dié park nou dagvaar. Die familie beskuldig die park en mallemeulevervaardigers en -operateur van nataligheid. Die ongeluk het verlede maand by die Icon Park in Orlando, Florida, plaasgevind.

USA Today berig die familie se prokureurs het Maandag ’n dagvaarding by die rondgaande hof in Orange County ingedien en beweer dat die mallemeule “onredelik onveilig” is.

Die dagvaarding lui dat Tyre dood is weens die nalatigheid van die park, die Slingshot Group, wat die mallemeule bestuur, Funtime Handels GmbH, ’n Oostenrykse maatskappy wat die mallemeule vervaardig het, en Keator Construction, wat die mallemeule gebou het.

Die bevindinge in ’n forensiese ingenieur se verslag oor die voorval lui dat ’n operateursfout vermoedelik die primêre oorsaak was dat Tyre op 24 Maart tydens die FreeFall-valtoringrit na sy dood geval het.

Maroela Media het vroeër berig dat aanpassings “met die hand” aan die FreeFall-valtoringrit gemaak is “wat daartoe gelei het dat dit onveilig was”. Volgens die verslag kan die oorsaak van die ongeluk dus nie aan ’n meganiese of elektriese fout toegeskryf word nie.

Boonop was die tiener volgens die ongeluksverslag sowat 24 kg swaarder as die gewiglimiet van die rit. Hoewel ʼn gewigsbeperking in die mallemeule se bedryfshandleiding gelys is, is geen lengte- of gewigsbeperkings by die kaartjietoonbank aangebring nie en personeel is nie ingelig oor die beperkings nie, volgens die dagvaarding.

Die prokureurs beweer in die dagvaarding dat die park en betrokke maatskappye Tyre kon waarsku oor die gewig- en lengtebeperking van die mallemeule.

NY Daily News berig Ben Crump, die familie se prokureur, sê die beskuldigdes in Tyre se saak was op verskeie maniere nalatig. “Die rit- en sitplekvervaardigers, die installeerder en selfs die eienaar- en ritoperateurs het meer as genoeg kans gehad om veiligheidsmaatreëls, soos veiligheidsgordels, aan te bring wat Tyre se dood kon voorkom het. Hul swak besluite het dodelike gevolge gehad,” sê Crump.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Pierre ·

Hoop julle is suksesvol en emosionele sterkte aan almal betrokke.

Lourens ·

As hulle hom gesê het hy is te groot, was dit “body shaming”. As hulle hom nie sê nie, is hulle nalatig of roekeloos.
Kan net nie wen nie . . .

Rooikopheks ·

Sy ouers moet ook verantwoordelikheid aanvaar. Daar was 2 pretparke wat hom weg gewys het. En vir seker is die veiligheidsmaatreëls nie gevolg nie. Bly ń hartseer gebeurtenis

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.