Familie laat vaar hoop om miljardêr lewend te vind

Karl-Erivan Haub, hoof van die Tengelmann-groep (Foto: Roland Weihrauch/dpa via AP)

Die familie van ʼn Duitse miljardêr, wat ʼn week gelede in die Switserse Alpe verdwyn het, het alle hoop laat vaar om hom lewend te vind.

Karl-Erivan Haub, die 58-jarige erfgenaam van die Tengelmann-handelsryk, het voorberei vir ʼn ski-resies toe hy onder Switserland se bekende Matterhorn-piek, geleë op die suidelike grens met Italië, verdwyn het.

Hy is verlede Saterdagoggend laas gesien toe hy met ʼn hyser teen die berg op is. Hy het ski’s en ʼn rugsak by hom gehad. Hy is die volgende oggend as vermis aangemeld toe hy nie by sy hotel in Zermatt opgedaag het nie.

Tengelmann het Vrydag in ʼn verklaring namens die familie gesê ná dae “in die uiterste toestande van ʼn gletsergebied”, is daar nie meer enige waarskynlikheid dat Karl-Erivan Haub oorleef het nie. Die soektog na sy liggaam duur voort en die maatskappy sal alle kostes vir die soektog dek.

“Dit is ʼn groot tragedie vir die Haub-familie en die hele familie-maatskappy. Niemand kan dit glo nie,” het Sieglinde Schuchardt, woordvoerder van Tengelmann, gesê.

Die soektog na Haub aan albei kante van die Switerse/Italiaanse grens behels drie helikopters, grondpatrollies en reddingspanne, met tot 60 persone. Die soektog word bemoeilik deur slegte weersomstandighede en dat dit nie duidelik is presies waarheen Haub op pad was nie. Daar is ʼn vermoede dat hy dalk in een van die gletserskeure geval het.

Haub, gebore in Tacoma, Washington, en sy broer Christian, staan al sedert 2000 aan die stuur van Tengelmann. Die familie se fortuin word bereken op meer as €3 miljard (ongeveer R44,7 miljard). Die familiepatriarg, Erivan Haub, is in Maart in sy huis in Wyoming oorlede.

Tengelmann se grootste inkomste word verkry uit die hardewarewinkel Obi en klerehandelaar KiK. Die maatskappy het ook aandele in die Netto-supermarkgroep en aanlyn winkel Zalando.

Reddingsbeamptes het Woensdag gesê daar is steeds bietjie hoop vir Haub as hy homself warm kon hou in die Alpe-toestande.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

jean ·

Ek haal aan van ‘n persoon wat Everest aangedurf het : “If you want to die, go climb a mountain”….

Nee-wat ·

Of Jean, klim in ‘n voertuig as jy wil doodgaan. Nee-wat, allermins was hy besig met iets wat hy graag gedoen het i.p.v. om tussen 4 mure te sit met sy aardse skatte. Was hy alleen? Indien wel dan is dit ‘n GROOT fout . . .

Koos ·

Party familielede se enigste hoop is nou om in die testament te wees. Op ‘n meer ernstige noot, is dit nie ironies dat een mens soveel geld het maar nie een of ander relatief goedkoop opsporingstoestel aan hom kon dra nie? Voorwaar ‘n avontuurlustige man, en hy verlaat hierdie lewe met net soveel as toe hy dit binnegekom het…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.