FBI se adjunk 24 uur voor sy aftrede afgedank

Andrew McCabe, voormalige adjunkdirekteur van die FBI (Foto: Federal Bureau of Investigation)

Die Amerikaanse prokureur-generaal Jeff Sessions het Andrew McCabe, die voormalige adjunkdirekteur van die FBI, net meer as 24 uur voor hy sou aftree, afgedank, het die Washington Post berig.

Sessions het glo gesê McCabe het “ʼn ongemagtigde bekendmakings aan die media gedoen en was op verskeie geleenthede oneerlik”.

Die besluit, wat onmiddellik van krag is, beteken dat McCabe, wat in Januarie bedank maar ʼn FBI-werknemer gebly het, waarskynlik ʼn groot deel van sy pensioenvoordele sal verloor.

Sessions het gesê die besluit is gemaak “ná ʼn omvattende en regverdige ondersoek” deur die Departement van Justisie, en op aanbeveling van die FBI se kantoor vir professionele aanspreeklikheid.

Die ondersoek het McCabe veroordeel dat hy ʼn ondersoek oor Hillary Clinton se e-pospraktyke glo verbrou het. McCabe was verlede jaar vlugtig die hoof van die FBI nadat James Comey deur die Amerikaanse president Dondald Trump afgedank is. Trump het McCabe herhaaldelik in die openbaar veroordeel vir sy beweerde verbintenis met Clinton.

Trump het hom verlede jaar ook in Desember aangeval oor skenkings van Clinton-ondersteuners aan sy vrou se veldtog, toe sy haarself in 2015 beskikbaar gestel het vir die senaatspos in Virginia, ondanks die feit dat dit gebeur het nog voor McCabe as waarnemende direkteur van die FBI aangestel is en in beheer was van die Clinton-ondersoek.

Trump het McCabe ook gekasty oor sy beplande aftrede en het op Twitter geskryf: “FBI adjunkdirekteur Andrew McCabe jaag nou teen die horlosie om met volle voordele af te tree. 90 dae om te gaan?!!!”

Michael R Bromwich, ʼn prokureur vir McCabe, het gesê die saak is “baie ontstellend” en “eenvoudig nie die manier hoe sulke sake [deur die Departement van Justisie of die FBI] gewoonlik hanteer word nie”. “Hierdie proses het heel bo begin, met die president se herhaaldelike aanvalle op Twitter op mnr. McCabe,” het Bromwich in ʼn verklaring gesê.

Trump het die afdanking as “ʼn wonderlike dag vir demokrasie” beskryf. “Andrew McCabe AFGEDANK, ʼn wonderlike dag vir die hardwerkende mans en vroue van die FBI – ʼn wonderlike dag vir Demokrasie,” het hy op Twitter geskryf. “Skynheilige James Comey was sy baas en het McCabe soos ʼn koorseuntjie laat lyk. Hy het van al die leuens en korrupsie geweet wat op die hoogste vlakke van die FBI plaasgevind het!”

McCabe vier Sondag sy 50ste verjaarsdag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.