FBI sê oor kind wat ná agt jaar beweer hy is vermiste seuntjie

Die polisie in Aurora, Illinois het destyds dié foto van die vermiste Timmothy Pitzen versprei (Foto: Aurora Police Department via AP)

Agt jaar ná ʼn seuntjie van Illinois verdwyn het, het sy familie gedink hul nagmerrie is uiteindelik verby.

ʼn Jong man wat in die strate van Kentucky in die VSA gevind is, het aangevoer hy het van sy ontvoerders in Cincinnati, Ohio, ontsnap waar hy sewe jaar lank gevange gehou is. Hy het aan polisiebeamptes gesê sy naam is Timmothy Pitzen. Dit was onwaarskynlik dat iemand so ver weg só storie sou opmaak. Sy familielede het ʼn dag en ʼn half lank gewag op ʼn deurbraak.

Die FBI het Donderdag die slegte nuus gedeel: DNS-toetse het bewys die persoon is nie Timmothy wat as sesjarige in 2011 uit Illinois verdwyn het ná sy ma selfmoord gepleeg het nie.

“Dis asof mens dit van voor af herleef. Timmothy se pa is opnuut platgeslaan, net soos ons,” het Timmothy se tannie, Kara Jacobs, gesê.

Owerhede sê die persoon wat aanvoer hy is die 14-jarige Timmothy, is eintlik ʼn 23-jarige oudgevangene wat onlangs uit ʼn tronk in Ohio vrygelaat is. Hy het tronkstraf uitgedien op aanklag van diefstal en vandalisme.

Jacobs en Timmothy se ouma, Alana Anderson, was duidelik teleurgesteld tydens die perskonferensie buite Anderson se huis. Sy woon ook in Illinois.

Anderson het gesê sy het nog altyd gebid dat, wanneer Timmothy oud genoeg is, “hy ons sal vind as ons hom nie kan opspoor nie”. Sy het gesê sy hoop as hy in ʼn plek is waar hy kommunikasie met die media of met ʼn rekenaar het, dat hy genoeg van sy familie sal onthou om na hulle te soek. “Ek dink hy sal. Hy is baie slim.”

Die gemeenskap van Aurora, waar Timmothy grootgeword het, het ook hul teleurstelling uitgespreek. “Ek weet die gemeenskap sal nie ophou [soek] solank as wat hy daar buite is nie,” het Nick Baughman, voormalige skoolhoof, gesê. Timmothy se ma, Amy Fry-Pitzen, het hom op 11 Mei 2011 by dié skool opgelaai en iets genoem van ʼn familie-noodgeval.

ʼn Betonblok in die erf waar Timmothy Pitzen in Aurora, Illinois, grootgeword het. Die man wat nou in die huis bly, Pedro Melendez, het gesê hy het Timmothy nie geken nie, maar het dié blok bewaar met Tim se naam, handdruk en voetspoor. (Foto: AP Photo/Carrie Antlfinger)

“Timmothy het met sy rugsakkie vir sy skoolmaats gewuif en gesê hy sien hulle die volgende dag,” onthou onderwyseres Cheryl Broach.

Ma en seun het in haar motor geklim en hulle is eers na Brookfield-dieretuin en daarna na ʼn waterpark. Hulle is die volgende dag by Kalahari Resorts opgemerk. Dit is die laaste keer wat hulle twee saam gesien is.

Fry-Pitzen het op 13 Mei, toe sy alleen was, haar polse gesny in ʼn motel in Rockford, Illinois, aldus die polisie. Haar liggaam is die volgende dag gevind. Timmothy was nie by haar nie. ʼn Briefie wat sy gelos het, het aangedui hy word versorg deur iemand wat vir hom lief is, op ʼn plek waar niemand hom ooit sal vind nie.

In die eerste dae van die soektog het die polisie ʼn beduidende hoeveelheid bloed op die motor se agtersitplek gevind en toetse het bevestig dit is Timmothy se bloed. Anderson was aanvanklik angsbevange toe sy dit hoor, maar die seuntjie se pa het verduidelik sy seun se neus bloei maklik en hy het ʼn ernstige neusbloeding gehad net dae voor sy verdwyning.

Skoolmaats, onderwysers en ouers van Greenman Elementary het honderde geel linte om bome en aanwysingsborde gebind. ʼn Tuin is ter nagedagtenis van Timmothy geplant.

“Ek onthou ons het baie gebid,” het Baughman Donderdag gesê. “Dit was een van daai tye waar mens vol hoop wou bly en ondersteunend wou bly.”

ʼn Betonblok in die erf waar Timmothy Pitzen in Aurora, Illinois, grootgeword het. Die man wat nou in die huis bly, Pedro Melendez, het gesê hy het Timmothy nie geken nie, maar het dié blok bewaar met Tim se naam, handdruk en voetspoor. (Foto: AP Photo/Carrie Antlfinger)

Die polisie het probeer om te bepaal watter roete Fry-Pitzen met haar motor gery het, maar in die jare daarna kon die owerhede nog nooit ʼn verduideliking gee vir haar optrede nie.

Wenke van persone wat beweer hulle het Timmothy gesien, het niks opgelewer nie.

Familielede het gesê hulle het geweet Fry-Pitzen het probleme gehad. Sy was vier keer getroud en het jare lank aan depressie gely. “Ons het probeer help op enige moontlike manier,” het Anderson bygevoeg.

Timmothy se gedrag het nooit gewys dat daar probleme by die huis is nie. Hy het graag saam met ander kinders gespeel en graag op die trampolien in die erf gespring. Hy was leergierig en wou graag Spaans leer praat. “Hy was ʼn baie gelukkige seuntjie met baie energie,” het Linda Ramirez, een van die gesin se hegte vriende, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

smurfie ·

Ja nee, ek dink nogals n 23jarige (veral een wat in die tronk was) Lyk baie ouer as n 14jarige

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.