Fietsryers laat wiel in die woestyn

Die Desert Dash is een van die gewildste inskrywings op die Namibiese sportkalender. Foto: Twitter.

Meer as 350 km van woestynlandskap; al die pad van Windhoek tot by Swakopmund. En jy het 24 uur om dit op twee wiele kaf te draf.

Die Nedbank Desert Dash-bergfietswedren is nie net een van die hoogtepunte op Namibië se sportkalender nie, dit is ook die langste eenskofresies ter wêreld.

Vanjaar se aksie het gister tot ’n einde gekom en dit het op ’n opwindende slottoneel afgestuur toe Tristan de Lange en Konny Looser mekaar in die pylvak aangevat het.

Die vreugdevure het egter hoog in Swakopmund gebrand toe De Lange – ’n Namibiër – die uithourit met ʼn sekonde gewen het.

In die vroue-afdeling het drie Namibiërs – Irene Steyn, Anri Parker en Nadine Klopper – op die podium gestaan. Duitsland se Katja Troschka was die eerste internasionale deelnemer oor die wenstreep.

Volgens Selma Kaulinge van Nedbank Namibië gee die resies ook die plaaslike ekonomie ’n welkome hupstoot en deelnemers van so ver as die VSA en Serwië het by die wegspringplek aangemeld.

Die uiteindelike individuele wenners het N$38 000 (ongeveer R40 000) in die sak gesteek.

Uitslae:

  • Mans:
  1. Tristan de Lange (Namibië) 14:55:30
  2. Konny Looser (Switserland) 14:55:31
  3. Vinzent Dorn (Duitsland) 14:55:43
  4. Drikus Coetzee (Namibië) 15:31:54
  5. Kai Pritzen (Namibië) 16:54:43.
  • Vroue:
  1. Irene Steyn (Namibië) 19:25:43
  2. Anri Parker (Namibië) 20:07:23
  3. Nadine Klopper (Namibië) 21:02:03
  4. Katja Troschka (Duitsland) 21:38:28
  5. Lauren Davidson (Namibië) 21:41:51

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Tanniepetoors

Jy moet darem baie “guts” hê om hierdie tyd van die jaar in Namibië so ver met ‘n fiets rond te jaag. Pragtige prestasies.

Teresa

Dis darem nie heeltemal korrek dat die Desert Dash die langste eenskof-ren ter wêreld is nie.
Dryland events bied jaarliks die bekende 361 daar in die Klein-Karoo aan en wat dan van die Munga en die twee Munga Grit renne wat die avonturiër Alex Harris aanbied?
In Amerika is daar die Tour de Vide wat ook net een skof is, van die noorde tot die suidpunt van Amerika.