Filippyne verbied kinderhuwelike

Argieffoto ter illustrasie.

Kinderhuwelike in die Filippyne is nou onwettig.

Nuwe wetgewing wat dié praktyk verban, het Donderdag in werking getree.

Volgens die Britse menseregtegroep Plan International het dié verarmde Suidoos-Asiese land die 12de hoogste getal kinderhuwelike ter wêreld, met jarelange kulturele praktyke en geslagsongelykhede wat verandering in die land aan bande lê.

Luidens statistieke sal een uit elke ses meisies in die Filippyne trou voor hulle 18 jaar oud is.

Ingevolge nuwe wetgewing, wat deur pres. Rodrigo Duterte bekragtig is, kan diegene wat met minderjariges trou of saam met hulle woon tot 12 jaar tronkstraf opgelê word.

Dieselfde straf staar mense in die gesig wat huwelike met ʼn minderjarige reël of voltrek.

Die nuwe wet beskou kinderhuwelike as ʼn praktyk wat op kindermishandeling neerkom aangesien dit die intrinsieke waardigheid van kinders aftakel.

Die regering sê die wetgewing stem ooreen met internasionale oortuigings wat vroue- en kinderregte betref.

Sommige dele van die wetgewing is wel vir een jaar opgeskort om voorsiening vir ʼn oorgangstydperk te maak vir Moslems en inheemse gemeenskappe waar kinderhuwelike relatief algemeen voorkom.

’n Verslag verlede jaar deur die Verenigde Nasies se Kinderfonds het aangedui dat meer as ’n halfmiljard meisies en vroue wêreldwyd as kinders getroud is, met die hoogste syfers in Afrika suid van die Sahara asook in Suid-Asië.

Meer onlangse data dui egter daarop dat die praktyk oor die algemeen wêreldwyd afneem.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Miskruier ·

En wat sê ons van al die jong tieners in ons land wat swanger word?

Marius ·

In ons eie land word kinders swanger van 12 jarige ouderdom af. Is dit nie maar dieselfde of nog erger nie?

Johanna ·

As jy onder 18 jaar oud is en trou,.word dit gesien as n kinder huwelik??
Maar deesdae se kinders kan mos maar net doen wat hulle wil van 16 jaar oud af en die ouers is steeds verplig om vir hulle te sorg. Sommiges kom net huistoe vir kos en water en verder skop hulle deure af en gooi breekgoed stukkend. Hulle mag volgens wet doen wat hulle wil, vloek hulle ouers en mishandel ouers emisioneel en ouers mag hulle nie n taai klap gee nie. Maar steeds moet ouers hulle beskerm….. dit klink na omgekeerde gesins geweld en dubbel standaarde.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.