Filippynse vulkaan: ‘Al groter skeure opgemerk’

Stoom trek uit Vulkaan Taal. (Foto: Aaron Favila, AP)

’n Vulkaan in die Filippyne toon al meer tekens van aktiwiteit en inwoners van die hoofstad Manila en omliggende gebiede staal hulle vir die oomblik wanneer dié vulkaan uitbars.

Die Filippynse instituut vir vulkanologie en seismologie het ’n vlakvier-waarskuwing uitgereik wat daarop dui dat “’n gevaarlike uitbarsting binne ure of dae” moontlik is.

Volgens die instituut word ongereelde, flou uitbarstings opgemerk by vulkaan Taal se hoofkrater. Dié vulkaan is geleë in die provinsie Batangas, sowat 66 km suid van Manila.

Renato Solidum, hoof van die instituut, sê spanne wat tans die vulkaan monitor, het ’n “nuwe stomende skeur” opgemerk op ’n roete wat toeriste gebruik om vulkaan Taal te bereik. Die vulkaan is in die middel van ’n meer geleë.

‘n Motorfiets bedek in as weens ongereelde, flou uitbarstings. (Foto: Aaron Favila, AP)

Dié skeur is teen die noordelike helling van die vulkaan opgemerk en strek al langs die bykans 3 km lange roete tot by die vulkaan. Stoom wat tans uit dié skeur trek, kan klein ontploffings opwek, verduidelik Solidum.

Maroela Media het vroeër berig sowat 45 000 inwoners het reeds vroeër vandeesweek die gebied ontruim, sedert die vulkaan Sondag tekens van aktiwiteit begin toon het.

Krake in paaie van omliggende dorpe het intussen met enkele sentimeters vergroot en honderde vulkaniese aardbewings is sedertdien naby vulkaan Taal waargeneem, sê Solidum.

Die Filippyne is op die geologies aktiewe Pasifiese Ring van Vuur geleë, waar 75% van die wêreld se vulkane voorkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.