Finland (weer) gelukkigste land ter wêreld

Helsinki in Finland. Foto: Pixabay

Finland is vir die vierde agtereenvolgende jaar die land met die gelukkigste inwoners ter wêreld, luidens ’n jaarlikse verslag wat deur die Verenigde Nasies (VN) geborg word.

Navorsers van die negende World Happiness Report het data van Gallup World Poll gebruik om mense in 149 lande te vra om hul eie geluk te beoordeel. Maatreëls soos ’n land se BBP, maatskaplike ondersteuning, persoonlike vryheid en vlakke van korrupsie is ook in ag geneem om vir elke land ’n gelukstelling toe te ken.

Die Europese lande het oudergewoonte die topposisies oorheers met Denemarke as die naasgelukkigste land ter wêreld, gevolg deur Switserland, Ysland en Nederland.

Nieu-Seeland, wat een plek tot die negende gelukkigste land geval het, was weereens die enigste nie-Europese land in die toptien.

Duitsland het van die 17de plek na die 13de plek gestyg. Frankryk het ook twee plekke na die 21ste gelukkigste land ter wêreld opgeskuif. Die Verenigde Koninkryk het intussen van die 13de tot die 17de plek gedaal, terwyl die VSA een plek tot 19de geval het.

Suid-Afrika is die 103de gelukkigste land ter wêreld.

Lesotho, Botswana, Rwanda en Zimbabwe het onderaan die puntelys beland, maar voor Afghanistan, wat vanjaar as die land met die ongelukkigste inwoners ter wêreld geklassifiseer is.

Die samestellers het ook vanjaar se data met die gemiddeldes van vorige jare vergelyk om die uitwerking van die pandemie te bepaal. “’n Aansienlik hoër frekwensie van negatiewe emosies is in ’n derde van die lande gevind.”

Positiewe emosies het egter in 22 lande toegeneem en “verrassend genoeg was daar gemiddeld nie ’n afname in welstand as dit gemeet word aan mense se eie evaluering van hul lewe nie”, het John Helliwell, een van die samestellers van die verslag, in ’n verklaring gesê.

Helliwell sê een moontlike verklaring is dat mense Covid-19 as ’n algemene bedreiging van buite beskou wat almal raak en dat dit ’n groter gevoel van solidariteit en meegevoel veroorsaak.

Nog ’n samesteller van die verslag, Jeffrey Sachs, het intussen gewaarsku dat “ons dringend by Covid-19 moet leer” en “mik na welstand eerder as blote rykdom”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Francois Le Cochon ·

Stefan, na wie verwys jy as jy praat van “ons”, almal in SA, of net die blankes?

jzjz05 ·

Ek glo dat SA moet bly wees met sy 103 ste plek.ek en baie ander dink hulle moes baie verder terug op die lys wees. al mense hier wat gelukkig is, is die op die soustrein

JohanR ·

Ons sou nommer 102 gewees het, maar toe sien iemand Bheki Cele, Ace Magashule, Lindiwe Zulu, Carl Niehaus en Nkosazana Dlamini-Zuma se gesigte!

Dirk Mostert ·

Hongkong se mense was ook baie gelukkig voordat hul dom jeugdiges (aangespoor deur die CIA?) met hul ontwrigting begin het.

Hector ·

Skuus tog, maar ek kry by Internet, op Archyde.com, ‘n ander prentjie: die VK op 18. Op 17 staan België en die VS staan op plek 14. Skrif aan die geluksmuur: op plek 13 pryk nou Ierland.

Jack ·

So presteer ons as land net altyd as deel van die swakste groep. Hoe dan anders met n leierskorps wat slegs eiebelang vooropstel. Wat traak dit hulle waar ons eindig in enige meningspeiling want n totale gebrek aan selftrots laat ons almal saam met hulle in die rioolput beland. Maar ek het goeie moed want: “Ons sal self”.

Jan ·

Is daar 46 lande ongelukkiger as SA?
Komaan Suid Afrika! Jul kan beter doen!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.