Fondsinsameling vir meisie wat deur wasbeer aangeval is

Die vier maande oue Journi Black, wat deur ‘n wasbeer aangeval is (Foto: CBS3)

Verskeie persone het ʼn finansiële bydrae gelewer vir ʼn vier maande oue baba wat deur ʼn wasbeer aangeval is.

Maroela Media het vroeër berig die aanval het verlede Woensdag in haar ouerhuis in Philadelphia, VSA, plaasgevind.

Goedhartige persone het reeds meer as $1 000 geskenk aan die skarefinansieringswebwerf GoFundMe om Journi Black se gesin te help om ʼn nuwe huis te kry waar hulle kan bly. Die stad het ʼn soneringsoortreding uitgereik vir die eienaar van die eiendom waar die gesin gebly het, en het die eienaar beveel om die gebreekte vensters en beskadigde mure reg te maak om te verhoed dat enige ander wilde diere die perseel betree.

Ashley Rodgers, die ma van die dogtertjie, het gesê sy het hul sesjarige seun na die badkamer geneem terwyl Journi op ʼn bed gelê en slaap het. Toe sy terugkeer, het Journi geskree en haar gesig het gebloei. Volgens Rodgers het die wasbeer die dogtertjie oor die vloer gesleep.

“Ons het geluide op die boonste verdieping gehoor en toe gesien hoe ʼn wasbeer by die trappe afhardloop,” het sy verduidelik.

Die baba is na ʼn hospitaal geneem en sy moes meer as 60 steke en ʼn inspuiting teen hondsdolheid kry. Sy is besig om aan te sterk, en dokters sê haar oë is nie beskadig nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.