Fontein van ewige jeug in dié woef se water

Bobi is as die wêreld se oudste hond aangewys. (Foto: Guinness World Records)

ʼn Hond van Portugal is Donderdag deur die Guinness-wêreldrekords as die wêreld se oudste hond aangewys. Hy is ook nou amptelik die oudste brak wat nog ooit bestaan het.

Dié woef het Woensdag 30 jaar en 266 dae oud geword.

Bobi het die titel as “die oudste hond ooit” by Bluey, ʼn Australiese beeshond, oorgeneem. Bluey is in 1939 op die ouderdom van 29 jaar en vyf maande dood.

Bobi is ʼn opregte Rafeiro do Alentejo – ʼn honderas met ʼn gemiddelde lewensverwagting van 12 tot 14 jaar.

Afgesien van ʼn paar (vermoedelike) skete en pyne, gaan dit goed met Bobi se gesondheid.

Leonel Costa (38), Bobi se eienaar, sê die hond het sy lewe lank menskos geëet en die Costa-gesin glo dit het bygedra tot Bobi se lang lewe. Bobi was ook mal oor water en het sowat een liter per dag gedrink.

Volgens die Guinness-wêreldrekords het Bobi sy hele lewe saam met die Costa-gesin in die plattelandse dorpie Conqueiros, in Leiria, Portugal, gewoon.

Hy is gebore as een van vier reuntjies in ʼn buitegebou waar die Costa-familie hout gestoor het.

Leonel, wat agt jaar oud was toe Bobi gebore is, vertel hul pa was ʼn jagter en die gesin het altyd baie honde gehad.

Weens die aantal diere wat hulle reeds gehad het, het Leonel se pa besluit dat hulle nie die pasgebore hondjies kon aanhou nie en was van plan om hulle in ʼn gat te begrawe om hulle te versmoor.

Die dag nadat die hondjies gebore is, het Leonel se ouers die klein hondjies gevat terwyl hul ma, Gira, afwesig was.

“Uit haastigheid het hulle egter nie besef dat hulle een van die hondjies agtergelaat het nie,” vertel Leonel.

Leonel en sy broer het later vir Bobi in die buitegebou ontdek en sy bestaan vir hul ouers geheim gehou totdat die woef se oë sou oopgaan.

“My ouers sou hom nie begrawe indien sy oë oop was nie.”

Toe Leonel se ouers Bobi uiteindelik ontdek, was dit te laat en Bobi het net daar deel van die familie geword.

Leonel dink een van die grootste bydraende faktore waarom Bobi so oud geword het, is die “kalm, vreedsame omgewing” waarin hy woon, “ver van die besige stad”.

“Bobi was nog nooit vasgeketting of aan ʼn leiband nie, en het nog altyd vry rondgeloop op die familie se plaas.”

Leonel beskryf Bobi as “baie sosiaal” aangesien hy saam met baie ander diere grootgeword het.

Bobi is nou op sy oudag minder avontuurlustig en verwyl sy tyd meestal in die agterplaas saam met sy vier katvriende.

Bobi se sig verswak daagliks en hy stap ook nie meer so gereeld soos voorheen nie.

Bobi se ma, Gira, het 18 jaar oud geword en een van sy sibbe (vanuit ʼn ander werpsel), Chicote, het 22 jaar oud geword.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.