Foto nou vir duisende dollar te koop op NVI-veiling

Chloe in 2013 (Foto: Unknown – https://knowyourmeme.com/memes/side-eyeing-chloe via Wikimedia Commons)

ʼn Jong meisie wat ʼn internetsensasie geword het toe ʼn foto van haar wyd versprei is, verkoop nou ʼn nieverwisselbare item (NVI) vir duisende dollar op ʼn veiling.

ʼn Nieverwisselbare item (NVI) (Engels: non-fungible token – NFT) is ʼn spesiale soort kriptografiese item of bewys wat iets unieks voorstel. Nieverwisselbare items is dus nie onderling uitruilbaar nie. Dit is in teenstelling met kripto-geldeenhede soos bitcoin, en baie netwerk- of hulpbronbewyse wat vervangbaar van aard is.

NVI’s is in effek digitale bates met ʼn egtheidsertifikaat. Alhoewel sommige verward sou wees oor die idee dat jy iets aankoop wat oneindig gereproduseer kan word, is daar tans ʼn groot aptyt vir NVI’s in markte wêreldwyd omdat kopers graag wil spog dat hulle oor die gesertifiseerde oorspronklike item beskik.

Chloe Clem, nou 10 jaar oud, het in 2013 bekendheid verwerf toe haar ma haar reaksie gedeel het op ʼn Disneyland-verrassing. Die foto het gou gewild geraak as ʼn meem om kommer uit te druk.

Chloe se ma Katie het in September 2013 ʼn video gedeel met haar twee dogters se reaksie op die besoek aan Disneyland.

Een van die dogters, Lily, het begin huil, maar “toe het die kamera na Chloe gedraai en sy het oulike haastand, skuinskyk-gesig gemaak en die internet het die res gedoen”.

Die video is reeds meer as 20 miljoen keer gekyk terwyl die skermgreep van Chloe se reaksie ʼn internetsensasie geword het.

“Ek het Tumblr oopgemaak en daar was net bladsye en bladsy vol van Chloe se gesig,” het haar ma aan die BBC gesê. “Dit was baie vreemd, nogal oorweldigend. Ek kry vandag nog foto’s van familie en vriende wat op meme van Chloe afkom.”

Die gesin, van Utah in die VSA, het nou besluit om die foto as ʼn NVI op ʼn veiling te verkoop. Bieëry begin by 5 Ethereum – ʼn tipe kripto-geldeenheid wat ongeveer $15 000 (R224 000) werd is.

Maroela Media het vroeër berig aandenkings uit die begindae van die internet insluitend meme, GIF’s, foto’s en video’s, vaar baie goed. Jack Dorsey, hoof van Twitter, het in Maart sy eerste Twitter-plasing (uit 2006) vir $2,9 miljoen (sowat R40 miljoen) verkoop aan ʼn Maleisiese sakeman. Die plasing lui bloot “just setting up my twttr”.

ʼn Anonieme koper het Nyan Cat, ʼn 10 jaar oue animasie van ʼn vlieënde reënboogkat, in April vir $590 000 (sowat R8,1 miljoen) opgeraap.

“Disaster Girl”, ʼn 16 jaar oue foto van ʼn kleuter wat skalks glimlag met ʼn huis in die agtergrond wat in ligte laaie staan, is deur ʼn Doebaise musiekateljee aangeskaf vir 180 Ethereum – in daardie stadium gelykstaande aan byna R7 miljoen.

Katie sê sy wil graag die geld gebruik om vir haar dogters se opvoeding te betaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Tipper ·

Vir my het sy eerder n pragtige gesiggie as n vreemde uitdrukking, of wat sê julle,leave me a comment below.

Rooikopheks ·

Belaglik, regtig? Het mense geld om op sulke sinneloosheid te mors?

Anoniem ·

Jislaaik, mense het darem maar baie geld om te mors op n klomp simpel strooi. Pleks dat hulle, met die sakke vol geld, liewers haweloses en honger mense help.

Tiptol ·

Dis maar soos om ‘n oorspronklike skildery te besit. Natuurlik nie in dieselfde waarde en vakmanskap nie, maar jy besit die oorspronklike.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.