Foto: ‘Skoene’ petoors! Tekkies vir miljoene opgeveil

Die legendariese Michael Jordan. Foto: Twitter.

Op skool wou ʼn mens altyd die mooiste paar tekkies in die plaaslike sportwinkel gehad het, maar jy moes egter met ’n paar vlooimark-Nikes regkom. En selfs dán het jou pa al brommende die bedrag van jou maandelikse sakgeld afgetrek.

Michael Jordan se unieke Nike-basketbaltekkies waarmee hy in 1985 gespeel het, het tans die duurste paar tekkies in die geskiedenis geword toe die afslaer Sotheby dit vir $560 000 (R10,3 miljoen) opgeveil het.

Sotheby is bekend vir sy eksklusiewe kunsveilings, maar het verlede jaar sy eerste tekkiesveiling aangebied.

Die peperduur Nike-tekkies is in die rooi, wit en swart van Jordan se Chicago Bulls-span en hy het dit in ’n deurslaggewende tydperk van sy legendariese loopbaan gedra.

Die basketbal-superster het ses kampioenskaptitels saam met die Bulls gewen en is een van die grootste sterre in die sport se geskiedenis.

Die paar tekkies wat vir $560 000 opgeveil is. Foto: Sotheby’s.

Jordan se voete is nie ewe groot nie en sy regterskoengrootte is 13,5, teenoor sy linkerskoengrootte van 13. Die paar wat Sotheby opgeveil het, spog met sy handtekening op die regterskoen en hulle is lekker gedra – Jordan het later in sy loopbaan in elke wedstryd ’n nuwe paar skoene gedra.

Die Nike-skoenreeks het later só gewild geword dat hulle jaarliks met ’n nuwe paar Air Jordans vorendag gekom het en die handelsmerk vier vanjaar sy 35ste bestaansjaar.

Jordan se skoene het die vorige tekkie-rekordprys van $437 500 – vir ’n paar 1972 Nike Waffle Racing Flat-skoene – met $122 500 getroef.

Amptenare by Sotheby het aanvanklik gedink die tekkies sou slegs sowat $150 000 haal.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

JohanR ·

Ek het ‘n paar stink gebreekte Nike Pegasus waarin ek die 1988 Twee Oceane gehardloop het. Ek soek net $50000 – ‘n bargain!

Gawie ·

Ek het nog ‘n paar ‘knock-off’ ‘Crocs’ wat ek 10 jaar terug gekoop het – dis ook ‘lekker gedra’. Wat kan ek daarvoor kry?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.