Foto wys hartverskeurende laaste oomblik

Stephanie Ray klou verbete aan Blake Ward in die hospitaal. (Foto: Facebook)

Stephanie Ray klou verbete aan Blake Ward in die hospitaal. (Foto: Facebook)

ʼn Hartverskeurende foto wys hoe ʼn 15-jarige meisie verbete aan haar kêrel (16) klou in sy hospitaalbed voordat die masjiene wat hom aan die lewe gehou het, afgeskakel is.

Stephanie Ray (15), ʼn Britse meisie, het ʼn hartroerende huldeblyk op Facebook gelewer met die foto van haar en haar vriend, Blake Ward.

“Vandag was vir my die moeilikste dag nóg en dit is ʼn dag wat ek nooit sal kan vergeet nie,” het die tienermeisie emosioneel op Facebook geskryf. “Ek het nog nie [Blake se] bed verlaat sedert die ongeluk nie. Soos julle almal weet was hy ʼn liefdevolle persoon wat enigiets vir enigiemand sou doen.

“Ons is gister ingelig dat Blake se brein nooit gaan herstel nie en dat sy brein té beskadig is. Ons moes die moeilike besluit neem om die masjiene af te skakel en hom te laat gaan. Weet net, hy was nie in enige pyn voor hy dood is nie en sy familie was by hom. Hy sal vir altyd gemis word en hy sal altyd ʼn spesiale plek in my hart hê. Vlieg hoog, baby boy, ek sal jou trots maak.”

Cambrian News berig Ward het byna ʼn week gelede amper in die see in Tywyn, ʼn kusdorp naby Gwynedd in die suide van Wallis, verdrink. Hy is per helikopter na die Alder Hey-hospitaal in Liverpool geneem en is twee dae na die ongeluk in dié hospitaal dood.

Volgens die BBC is nog ʼn 16-jarige asook ʼn 17-jarige ook per helikopter na veiligheid gebring nadat hulle saam met Ward in die moeilikheid beland het.

Die drie tieners was op die strand saam met familielede toe die voorval plaasgevind het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

treurgrond ·

Genoeg om ‘n mens hartseer te maak – huil hier in my binneste en ‘n traan sit vas langs my ooglid.

JIP ·

Jip…..nes ek 22 jaar terug my pa vasgehou het terwyl die lewensbloed uit die 9mm gaatjie in sy lyf sypel….en ek die mees vernederende oomblik van magteloosheid beleef wat nie beskryf kan word nie. Niks is ooit weer dieselfde nie, en daar is niks wat jy daaraan kan doen nie……jy leef maar net daarmee saam so goed as wat jy kan….en doen skadebeheer terwyl jy glimlag en sê “Dit gaan goed”…..as iemand vra…

Stuiwer ·

Dis ontstellend! Hoekom ‘n foto daarvan neem in die eerste plek en hoekom dit dan nog publiseer ook…,

My mening ·

Ek kan verstaan dat dit ‘n verskriklike ding is om deur te gaan vir die meisie en dat sy ‘n laaste foto van hulle saam wil he. Maar waarom dit plaas vir almal om te sien? Watter doel dien dit? So iets is so seer en so persoonlik. Maar dit lyk vir my dat mense deesdae niks meer as heilig sien nie en enigiets sal doen vir “likes” en “shares” op sosiale media.

Elsa ·

My mening, ek stem saam dat baie mense nie so iets wil sien nie. Al is dit vir daardie familie hartseer en persoonlik, kan dit dalk baie van ons ander laat besef hoe kosbaar die lewe is en dat ons mekaar moet liefhê en mekaar moet waardeer, terwyl ons nog die kans het. Soveel mense is gedurig haaks en soms hatig teenoor mekaar, terwyl ons dink ons gaan vir altyd lewe. Gebeur so iets wel met met sulke mense, is daar nooit weer die kans om dinge reg te maak of om vrede met die oorledene te maak nie. Ek sal eerder verkies om net met die hartseer te sit as om ‘n skuldige gewete ook nog te hê.

Hannelie ·

My hart is so seer !! Ek kan net dink hoe sy voel. Ek wens ek kon by my pa gewees het toe hy gesterf het. Ons is net deur die hospitaal ingelig hy het gesterf, hul het nie eens die moeite gedoen en gesê ons moet kom hy is op sy einde nie……hy het niemand by hom gehad nie. Al wat ek my troos is dat God by hom was toe hy gesterf het, hy was dan nie regtig “alleen” nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.