Foto’s: 132 sterf in oorstromings, duisende dakloos gelaat

Mense stap deur vloedwater in Nairobi, die hoofstad van Kenia (24 April 2018). Foto: Xinhua/Fred Mutune

Minstens 132 mense het sedert Maart in oorstromings in Kenia gesterf terwyl meer as 200 000 mense dakloos gelaat is.

Ongekende verwoestende vloede het sedert Maart in Kenia voorgekom weens seisoenale reën wat dié Afrikaland getref het terwyl dit nog aan’t herstel was van ʼn erge droogte wat die helfte van die land geraak het.

Boonop het die swaar reën ook veroorsaak dat ʼn dam, 190 km noordwes van Nairobi, laat Woensdag gebars het. Die Pateldam het in Solai in die Nakurudistrik gebars. Lee Kinyajui, goewerneur van Nakuru, het gesê die voorval het “tot reuseverwoesting van eiendom en groot lewensverliese gelei”.

“Die omvang van die skade moet nog bepaal word,” het Kinyajui in ʼn verklaring gesê.

BBC berig minstens 20 mense het gesterf toe die dam gebars het wat die oorstromingsdodetal sedert Maart op 152 te staan bring. Die Rooikruisvereniging in Kenia het op Twitter gesê 39 mense is tot dusver gered en na hospitale geneem nadat die dam gebars het.

ʼn Reddingsboot ontruim inwoners uit ʼn nedersetting in Tana Delta in Kenia. Meer as 30 000 mense uit dié gebied moes ontruim word weens oorstromings. Foto: Andrew Kasuku/AP

Karanja Kibicho, die hoofsekretaris van die departement van binnelandse sake, het gesê afgesien van die minstens 132 bevestigde sterfgevalle is 222 456 mense volgens die jongste statistieke deur die oorstromings dakloos gelaat. Militêre helikopters en weermagpersoneel is ontplooi om mense te red wat deur die oorstromings vasgekeer is.

Laagliggende gebiede is die swaarste deur die oorstromings getref met grootskaalse verwoesting van huise, plase, infrastruktuur en basiese geriewe soos skole en hospitale. Talle skole in droë of halfdroë gebiede is byna heeltemal onder water en dit is onduidelik wanneer bedrywighede by dié skole weer sal kan voortgaan.

Groot stede is ook deur die oorstromings geraak weens verstopte dreineringstelsels.

Kibicho het ʼn beroep op Keniane gedoen om uiters versigtig te wees tydens die swaar reënval in gebiede waar daar maklik oorstromings voorkom. ʼn Multisektor-taakspan is sedert Maart op die been gebring en werk onverpoos om vloedslagoffers te red, asook om kos en medisyne aan landsburgers in die 32 aangetaste state in die land te neem.

Volgens Kibicho het die regering tot dusver kos ter waarde van $6 miljoen versprei, asook groot hoeveelhede noodsaaklike medikasie om ʼn uitbreking van wateroordraagbare siektes te voorkom. “Die regering sal voortgaan om verskeie hulpverleningsaktiwiteite in die aangetaste dele van die land uit te voer,” het Kibicho gesê.

Dit sluit in om watertoevoer en sanitasiestelsels te herstel om higiëniese toestande te verseker.

Daar word gevrees dat ʼn epidemie groot stede soos Nairobi en Mombasa kan tref weens besoedeling van drinkwater.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Reenboog ·

SA gaan so lyk oor vyf jaar. Dit lyk darem asof die mense baie gelukkig daar is, elkeen met ‘n plaas en ‘n huis en gratis water en ligte. Jammer nou vir die oorspoelings maar dit lyk of hulle happy met hulle keuse van ‘n REGERING is daar. NET soos dit in SA binnekort gaan lyk.

Annelize ·

5 Jaar? Nee wat, daar is al sekere plekke hier in Suid Afrika wat alreeds so lyk, Die res van die land gaan gouer daar uitkom as wat ons dink.

Annelize ·

Rustenburg in NW se dorpgebied lyk NET soos dit op hierdie fotos lyk. Daar is geen verskil nie…

Robert ·

Ek het nog nooit gehoor van ‘n dam wat bars nie maar wel ‘n damwal.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.