Foto’s: 17 sterf toe boot tydens plesierrit omslaan

ʼn Amfibiese vaartuig, meer bekend as ʼn “duck boat”, in die parkeerterrein van Ride the Ducks (20 Julie 2018). Foto: Charlie Riedel/AP

Nege van die 17 mense wat dood is toe ʼn toeristeboot Donderdag op ʼn meer in Missouri in die VSA omgeslaan het, is almal van dieselfde familie – en hulle sou moontlik nooit op dié boot gewees het as dit nie vir ʼn misverstand met hul kaartjies was nie.

Die boot het Donderdag omstreeks 19:00 op die Table Rock-meer naby Branson omgeslaan toe ʼn storm die gebied getref het. Selfoonvideo’s deur ʼn ooggetuie wys hoe die boot sukkel om te beweeg terwyl golwe hard teen die vaartuig slaan voordat dit sink.

Meer as die helfte van die oorledenes was lede van ʼn familie van Indiana wat dalk nooit op dié boot sou gewees het indien daar nie ʼn verwarring met hul kaartjies was nie.

Tracy Beck het aan verslaggewers gesê sy en haar familie het in ʼn ry mense gewag om op ʼn ander boot te klim toe die familie van Indiana ʼn werknemer van die bootmaatskappy gevra het om ʼn foto van hulle te neem. ʼn Kaartjie-ontvanger het toe besef hulle moes eintlik op ʼn ander plek in Branson met hul toer begin het. Daar is nuwe kaartjies vir die familie uitgereik en hulle is toegelaat om aan boord die boot te gaan wat uiteindelik omgeslaan het.

Beck het besef die oorledenes is dié familie nadat foto’s van hulle Vrydag aan die lig gekom het.

Twee nagwake is Vrydagaand vir die oorledenes gehou. Ongeveer 300 mense het in die parkeerterrein van Ride the Ducks in Branson bymekaargekom, terwyl die ander nagwaak by ʼn plaaslike kerk gehou is.

Mika Parson, goewerneur van Missouri (links), en Doug Rader, die plaaslike polisiehoof, hou ʼn mediakonferensie oor die bootongeluk (20 Julie 2018). Foto: David Carson/St. Louis Post-Dispatch via AP

Duikers het Vrydag die laaste vier liggame uit die meer gehaal ná die tragedie wat as die dodelikste ongeluk van sy soort in twee dekades beskryf word. Owerhede probeer nog vasstel hoe dit gebeur het dat die amfibiese tuig, wat as boot én landvoertuig gebruik kan word, omgeslaan het.

Hoewel daar vermoed word dat sterk winde en gepaardgaande golwe vir die ongeluk verantwoordelik was, is dit nie duidelik hoekom die amfibiese tuig die water ingegaan het nie. Die risiko van swaar weer was glo ure voordat die boot die oewer verlaat het reeds duidelik. Die nasionale weerdiens in Springfield, 64 km noord van Branson, het Donderdag ʼn stormwaarskuwing vir die gebied uitgereik.

Karen Best, burgemeester van Branson, het gesê die stad is “gewoonlik vol glimlagte”, maar “vandag huil en rou ons”.

ʼn Volskaalse ondersoek is tans aan die gang.

Suzanne Smagala, ʼn woordvoerder van Ripley Entertainment wat Ride the Ducks besit, het gesê die maatskappy staan owerhede by in hul ondersoek. Dit is die maatskappy se enigste ongeluk ooit in sy 40 jaar lange bestaan.

Altesaam 29 passasiers en twee bemanningslede was aan boord die vaartuig vir die plesierrit. Sewe van die 14 oorlewendes is beseer toe die boot gesink het. Minstens twee kinders en twee volwassenes was teen Vrydagmiddag steeds in die hospitaal. Volgens owerhede het die kaptein van die boot die ongeluk oorleef.

Nooddienswerkers patrolleer die gebied waar die boot gesink het (20 Julie 2018). Foto: Charlie Riedel/AP

Die beseerdes sluit in die 14-jarige Loren Smith van Osceola in Arkansas. Haar pa, Steve Smith (53), en broer, Lance (15), is in die ongeluk dood. Loren het harsingskudding opgedoen.

Steve se pa, Carroll Smith, het in reaksie op sy seun en kleinseun se dood gesê dit is ʼn moeilike ding om te verwerk. “Vandag is ʼn baie moeilike dag,” het hy gesê.

Die selfoonvideo wat geneem is kort voordat die boot gesink het, is deur Brayden Malaske vasgevang wat ten tyde van die ongeluk op ʼn trapbootjie op die meer was. Hy het later vertel die water was aanvanklik kalm en dit het nie gelyk of enigiemand bekommerd was oor die weer nie. “Maar dit het skielik baie donker geword,” het hy gesê.

In die video kan gesien word hoe die golwe teen die boot slaan met die water wat ʼn paar sentimeter van die vensters van die vaartuig af is. Donker golwe slaan ook oor die voorkant van die boot. Die video eindig net voor daar gesien kan word hoe die boot omslaan en sink.

Tia Coleman, ʼn oorlewende van die familie wat nege naasbestaandes verloor het, het gesê die kaptein het vir passasiers gesê om nie eens reddingsbaadjies te probeer gryp nie. Toe die ongeluk gebeur, het die kaptein vir hulle gesê “dit is te laat”. Coleman het aan ʼn televisienuuskanaal gesê sy en haar susterskind is die enigste oorlewendes van die 11 familielede wat op die boot was.

Twee van dié amfibiese vaartuie, beter bekend as “duck boats”, was op die meer ten tyde van die storm. Die ander een het die oewer veilig bereik.

Die Ride the Ducks-toer begin in Branson waar die voertuie hul passasiers op ʼn landtoer neem en verskeie landbakens uitwys. Die vaartuig ry daarna tot by die meer waar die tuig die water binnegaan en ʼn paar minute op die water deurbring, voordat die tuig omdraai en terugkeer na sy basis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johann cb ·

Hierdie sogenaamde “boot” lyk glad nie veilig nie! Hoe kon soveel mense daarop klim, sonder om gevaartekens te sien? Sterkte aan die naasbestaandes.

Boot ·

Gevaartekens?? Wat se gevaartekens? Indien jy die artikel gelees het, sou jy geweet het, “Dit is die maatskappy se enigste ongeluk ooit in sy 40 jaar lange bestaan.”

Jongboer ·

Kyk hoe mooi bid hulle vir mekaar. Wit en swart, wanneer gaan dit hier gebeur as tragedie slaan? Ons is ver agter.. kulture verskil teveel. Wit/ swart probleem maar nie mens probleem

J O H A N N E S !!! ·

Elke tong sal getuig en elke knie sal buig.
ALLE NADIES EN VOLKE.

Baie sterkte aan die naasbestaandes.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.