Foto’s: 3 dood, talle gewond ná skietery by videospeletjietoernooi

Mike Williams, polisiewoordvoerder van Jacksonville, praat tydens ʼn mediakonferensie Sondag, 26 Augustus 2018. Foto: Will Dickey/The Florida Times-Union via AP

Drie mense is dood en talle ander gewond nadat ʼn man Sondag by ʼn videospeletjietoernooi in Jacksonville, Florida, in die VSA op mense losgebrand het.

Dié toernooi is regstreeks op die internet uitgesaai.

Mike Williams, woordvoerder van die polisie, het die skieter as die 24-jarige David Katz van Baltimore, Maryland, geïdentifiseer. Katz se liggaam is op die toneel gevind nadat hy glo homself doodgeskiet het.

Talle ambulanse, noodvoertuie en polisiemotors het na die toneel by The Jacksonville Landing gehaas toe skote Sondagmiddag deur die lug geklap het. Die skietery het gebeur tydens die streekskwalifiseerderronde van die aanlyn Madden 19-speletjietoernooi by die GLHF Game Bar in die Chicago Pizza-restaurant.

Volgens The Baltimore Sun het Katz, wat ook aan die toernooi deelgeneem het, omstreeks 13:30 op mense losgebrand – twee mense is doodgeskiet en 11 ander gewond. Hy het homself daarna doodgeskiet.

Die videospeletjiekompetisie is ook regstreeks in die kroeg uitgesaai toe die skote afgevuur is. Op die regstreekse beeldmateriaal kan gesien word hoe die spelers reageer op die skote en gille voordat die video onderbreek word.

Williams wou nie Sondag bespiegel oor die motief vir die voorval nie, maar The Los Angeles Times berig Katz moes die aftog blaas uit die kompetisie net voordat hy op mense in die restaurant begin skiet het.

Volgens die berig is die twee oorledenes twee van Katz se teenstanders. Hulle is geïdentifiseer as Elijah Clayton en Taylor Robertson.

Die eersteplek-prysgeld vir dié toernooi is $25 000 (sowat R357 000).

Die skietery is die derde dodelikste massaskietery wat Florida in die afgelope twee jaar getref het. In 2016 het ʼn massaskietery by ʼn nagklub in Orlando in Florida skokgolwe oor die wêreld heen gestuur. Altesaam 49 mense is dood in dié voorval wat as ʼn haatmisdaad bestempel is. In Februarie vanjaar is die Amerikaanse staat weer deur ʼn massaskietery geruk, dié keer by die Marjory Stoneman Douglas High School in Parkland waartydens 17 mense dood is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.