[Foto’s] 32 skoliere sterf in busongeluk

Minstens 35 mense is Saterdag, 6 Mei 2017 in ‘n busongeluk in Tanzanië dood. Foto: Xinhua

Die South African National Civic Organisation (Sanco) het Sondag sy medelye teenoor die families van 32 Tanzaniese skoolkinders uitgespreek wat Saterdag in ʼn busongeluk dood is.

Minstens 35 mense is dood nadat ʼn bus Saterdag naby die Mlela-rivier in die Meatu-distrik in die noordelike deel van Tanzanië beheer verloor en by ʼn wal afgerol het. Charles Mkumbo, die polisie se streeksbevelvoerder in die gebied, het gesê die bus het skoliere van ʼn laerskool in Arusha na ʼn eksamen vervoer toe die ongeluk gebeur het.

Volgens owerhede is twee onderwysers en die busbestuurder ook oorlede.

Beseerdes word behandel nadat hulle betrokke was by ʼn busongeluk in die noorde van Tanzanië wat die lewens van 35 mense geëis het. Foto: Xinhua

Die ongeluk het gebeur op dieselfde dag wat ʼn begrafnis in Verena, Mpumalanga, gehou is vir 17 van die 20 mense wat op 21 April gesterf het nadat ʼn minibus teen ʼn vragmotor op die R25-pad buite Bronkhorstspruit gebots het.

Jabu Mahlangu, Sanco se nasionale woordvoerder, het gesê die tekort aan betroubare openbare vervoerstelsels dra daartoe by dat die Afrika-lande steeds die hoogste padsterftesyfers ter wêreld het. “Skoliere op die kontinent word geviktimiseer deur die feit dat die sogenaamde dekade van aksie ter ondersteuning van padveiligheid (2011 tot 2020) in gedrang gebring word deur owerhede wat versuim om op te tree,” het Mahlangu gesê.

“Agentskappe wat nie aan hul mandaat om sterftes op openbare paaie te verminder, voldoen nie, moet geherstruktureer en geherposisioneer word om proaktief op te tree.”

Tanzanië se president, John Magufuli, het ook ʼn boodskap van medelye aan die families van die slagoffers gestuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

CHRISTA ·

Die ekskuus dat tekort aan betroubare openbare padvervoer die oorsaak is dat Afrika die hoogste padsterftesyfer in die wêreld het is NONSENS!! Gaan na ‘n land soos Italie. Daar is massas voertuie in stede soos Rome, hulle stop ook selde of ooit vir ‘n rooi verkeerslig!! Doen ‘n bietjie navorsing en kyk wat is HULLE sterftesyfer op hulle paaie!!!

Roman ·

PRESIES, ek was self al in ‘n paar dorpe in Italie, en daar is die nouste paadjies waarop almal moet ry . van busse, fietse, motorfietse en motors en almal gee mekaar ‘n kans. IN die stede self is dit ‘n malhuis en steeds ry almal beleefd en beskaafd, ja daar is hier en daar ‘n spieel wat in die slag gebly het, maar nie hierdie verskriklike groot noodlottige ongelukke nie. Dit gaan alles oor die HOUDING van die bestuurders, en oor die padwaardigheid van voertuie .. Ek wonder of hy ‘n lisensie gehad het … met die vorige busongeluk in SA het die man se lisensie verval .. EK voel jammer vir die ouers wat kinders in die ongeluk verloor het, maar dit begin by opvoeding, by die nakom van padvervoerreels, ongelukkig dink mense in Afrika hulle kan doen wat hulle wil, wanneer hulle wil hoe hulle wil!

Hanno ·

Ek het al n paar keer op busse in Tanzanië gery. Onder andere ook Arusha toe. Dit is n vreesaanjaende ervaring. Die busdrywers jaag soos malmense op die vlaktes én op die bergpasse. My medelye aan die families. Pole Sana
Maar wragtig die verkeer orals in Afrika is chaoties

CAROL ·

BEHEER VERLOOR??? WAS DIE DRYWER DRONK OF HET HY TE VINNIG GERY??? STERKTE AAN DIE FAMILIES

VanAfrika ·

Of was die bus padvaardig, of het die bus bestuurder geweet hoe om daardie bus te bestuur en het hy n lisensie gehad????

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.