Foto’s: 58 dood, 300 vermis ná dam breek

‘n Reddingswerker probeer ‘n koei red wat in die modder vassit, twee dae nadat die dam in Brumadinho, Brasilië, ineenstort het. (Foto: AP)

Altesaam 58 mense is dood en honderde word steeds vermis nadat ’n dam gevul met ysterertsafval Vrydag in Brumadinho, Brasilië, gebreek en dit tot hewige modderstortings gelei het.

Geboue, voertuie en paaie is onder die modder begrawe.

Die kantoor vir burgerlike verdediging in die Brasiliaanse staat Minais Gerais het bevestig dat die dodetal sedert Vrydag tot 58 gestyg het, met sowat 300 mense wat steeds vermis is ná die stortvloed van ysterertsafval.

Brasiliaanse reddingswerkers het oor die naweek onverpoos na oorlewendes gesoek. Dié soektog is egter Sondag vir enkele ure gestaak uit vrees dat ’n tweede dam sou meegee. Owerhede het vroegoggend die soektog gestaak om verskeie woonbuurte in Brumadinho te ontruim wat rondom die tweede dam, bekend as B6, geleë is.

Sowat 24 000 inwoners is aangesê om na hoër gebiede te vlug, maar teen Sondagmiddag kon ingenieurs bevestig dat die tweede dam geen gevaar inhou nie.

Talle dring aan op antwoorde van die Brasiliaanse mynmaatskappy, Vale. Vale besit van die onderskeie damme en word daarvan beskuldig dat daar ’n gebrek aan ’n alarmstelsel was vir só ’n ramp. Volgens Caroline Steifeld, ’n inwoner wat ook moes vlug, het sy Sondagmiddag ’n waarskuwing gehoor, maar nié Vrydag toe die dam gebreek het nie.

“Ek het net ’n geskree gehoor; mense het gesê ons moet uitkom. Ek moes met my familie na hoër dele vlug, maar daar was geen sirene nie,” het sy gesê. ’n Neef van Steifeld is onder die vermistes.

Hierdie kombinasie van satellietbeelde deur DigitalGlobe wys die gebied noordoos van Brumadinho, Brasilië op 2 Junie 2018, maande voordat ‘n dam ineengestort het en modderstorings tot gevolg gehad het, gesien op Saterdag 26 Januarie 2019 (Foto: AP) 

Verskeie ander mense het soortgelyke klagtes geopper gedurende ’n onderhoud met die media. Volgens Vale het die gebied egter wel agt sirenes in die omgewing, maar “teen die tempo waarin alles gebeur het, was ’n alarm onmoontlik”.

“Ek is kwaad. Ek kan nie kalm bly nie,” het inwoner Sonia Fatima da Silva gesê wat op soek is na inligting oor haar seun wat al 20 jaar by Vale werk. “Ek hoop hulle is eerlik. Ek wil net nuus van my seun kry, selfs al is dit sleg.”

Da Silva het vertel dat sy nog Vrydag met haar seun gepraat het voordat hy werk toe is. Teen die middag het die dam gevul met ysterertsafval meegegee wat golwe modder kilometers ver in Brumadinho gestuur en alles in sig begrawe het.

Volgens Vale se webwerf bestaan ​​die afval meestal uit sand en is dit nie giftig nie. ’n Verslag van die Verenigde Nasies het egter bevind dat die afval van ’n soortgelyke ramp in 2015 “hoë vlakke van giftige swaarmetale bevat” het.

Oor die naweek het staatshowe en die ministerie van justisie in die staat sowat $1,5 miljard van Vale se bates vir staatsnoodhulpdienste gevries en gesê die maatskappy moet verslag lewer oor hoe hulle slagoffers gaan help.

Nóg die maatskappy nóg owerhede het egter al verduidelik waarom presies die dam meegegee het, maar prokureur-generaal Raquel Dodge het belowe om dit te ondersoek. “Iemand is beslis skuldig.”

Dodge het verder gesê daar is sowat 600 myne in Minas Gerais alleen wat geklassifiseer word as ’n risiko vir ineenstorting.

Dít volg nadat nóg ’n dam, wat ook deur Vale en die Australiese mynmaatskappy BHP Billiton besit word, in 2015 in die stad Mariana, ook in Minas Gerais, ineengestort het. Sowat 19 mense is gedurende dié ineenstorting dood en honderde ander is dakloos gelaat.

Die voorval in 2015 word beskou as die ergste omgewingsramp in die Brasiliaanse geskiedenis aangesien sowat 250 000 mense sonder water gestrand gelaat is en duisende visse gevrek het. ’n Geraamde 60 miljoen m² afval het destyds die gebied oorstroom en uiteindelik in die Atlantiese Oseaan gevloei.

“Vale het Mariana vernietig en nou het hulle Brumadinho vernietig,” het een van die inwoners gesê.

Gebiede in Brumadinho waar modder plek-plek begin droog word, het reddingspanne se taak vergemaklik om gebiede te deursoek wat nog vroeër die naweek onbereikbaar is. Volgens Romeu Zema, goewerneur van die Minas Gerais-staat, sal reddingswerkers vir eers hoofsaaklik daarop fokus om oorledenes se liggame uit die modder te bring.

Op Twitter het Jair Bolsonaro, die nuwe Brasiliaanse president, gesê sy regering sal alles in hul vermoë doen om tragedies soos Mariana en nou Brumadinho te voorkom.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Oop oge ·

…die handewerk (resultate) van mensklike “vooruitgang” en smag na rykdom…
Die ergste is nog oppad …..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.