
Beskadigde huise in Itbayat, Batanes in die noorde van die Filippyne nadat twee aardbewings die gebied getref het (27 Julie 2019). (Foto: Agnes Salengua Nico/AP)
Agt mense is dood nadat twee aardbewings die noorde van die Filippyne Saterdagoggend kort na mekaar getref het.
CNN berig Roldan Escudil, hoof van rampbestuur en risikovermindering in die Batanes-provinsie, het in ʼn radio-onderhoud voorlopige inligting oor die aardbewings bekendgemaak.
Die Amerikaanse geologiese agentskap het berig ʼn aardbewing van 5,9 het Batanes getref. Sowat 20 minute later het ʼn tweede aardbewing van 4,5 dieselfde gebied naby Itbayat getref.
Inquirer.net berig 60 mense is beseer toe hul huise ineengestort het. Volgens die nuusinstansie is twee pasgebore babas, die tien dae oue Fiona Valiente en vyf dae oue Haisly Naquita, onder die oorledenes. Die liggame van Tito Asa (88), Teresita Gulaga (76), Fausta Caan (73), Jenward Hina (31), Mary Rose Valiente (13) en Eva Valiente (19) is ook deur reddingswerkers onder die puin uitgebring.

‘n Beskadigde huis in Itbayat, Batanes in die noorde van die Filippyne nadat twee aardbewings die gebied getref het (27 Julie 2019). (Foto: Agnes Salengua Nico/AP)
CNN berig foto’s wat deur die Filippynse Rooikruis uitgereik is, het die omvang van die skade aan huise getoon. Een van die foto’s het gewys hoe ʼn groep mense buite die beskadigde gebou van die Itbayat-kerk in Batanes saamdrom.
Volgens Philstar.com is daar tans geen risiko vir ʼn tsoenami in die Asiatiese land nie.
- Skade binne ‘n huis in Itbayat, Batanes in die noorde van die Filippyne nadat twee aardbewings die gebied getref het (27 Julie 2019). (Foto: Agnes Salengua Nico/AP)
- Puin lê buite ‘n huis in Itbayat, Batanes in die noorde van die Filippyne nadat twee aardbewings die gebied getref het (27 Julie 2019). (Foto: Agnes Salengua Nico/AP)
- ‘n Beskadigde huis in Itbayat, Batanes in die noorde van die Filippyne nadat twee aardbewings die gebied getref het (27 Julie 2019). (Foto: Agnes Salengua Nico/AP)
- ‘n Inwoner kyk na die skade in Itbayat, Batanes in die noorde van die Filippyne nadat twee aardbewings die gebied getref het (27 Julie 2019). (Foto: Agnes Salengua Nico/AP)