[Foto’s] Aardbewing skud Griekse eiland

Foto: Manolis Lagoutaris/InTime News via AP

’n Aardbewing van 6,2 op die Griekse eiland Lesbos het die lewe van minstens een persoon geëis en groot skade aangerig.

Die aardbewing is ook in die weste van Turkye, insluitend Istanboel, gevoel. Minstens tien mense is beseer en die skade wat in verskeie dorpe aangerig is, word nog beraam. Volgens foto’s lyk die skade aansienlik.

Die skudding was betreklik vlak, slegs sowat 7 km, wat die kanse op skade aansienlik vergroot het. Daar was minstens 25 naskokke, waarvan een op 4,4 gemeet is. Die episentrum was onder die see.

Die skudding kom in ’n jaar wat tot dusver ’n baie stil aardbewingjaar was. Die enigste twee skuddings vanjaar wat 7 of meer gemeet het, het in Januarie voorgekom. Verlede jaar was daar 16 skuddings van 7 of meer dwarsoor die wêreld.
Ook ander kategorie-sterktes was tot dusver veel minder.

Trouens, die aardbewing van 6,5 wat Botswana op 3 April vanjaar geskud het, was een van die sterkste aardbewings tot dusver vanjaar. Vroeër dieselfde dag is Stilfontein in Suid-Afrika deur ’n aardbewing van 5,2 geskud.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.