Foto’s: Adele wen ‘groot’ op Brit-toekennings

Die Britse sangeres Adele het drie uit die vier groot toekennings op die Brit-toekennings gewen. Hier ontvang sy die beeldjie vir album van die jaar.(Foto: Tolga Akmen / AFP)

Die Britse sangeres Adele het Dinsdagaand drie uit die vier groot pryse ingeoes by vanjaar se Brit-toekennings, waar sy ook haar liedjie “I drink wine” uitgevoer het.

Sy het die toekennings vir beste kunstenaar, album en liedjie van die jaar vir “Easy on me” gewen.

Ed Sheeran is aangewys as liedjieskrywer van die jaar by die O2 Arena in Londen, en het ook sy treffersnit “Bad Habits” saam met die rockers Bring Me The Horizon uitgevoer.

TikTokkers het die sangeres Dua Lipa aangewys as beste pop- of R&B-kunstenaar. Dit beteken die sanger Robbie Williams is Adele steeds een beeldjie voor as kunstenaar met die meeste Brit-toekennings in die sak, met altesaam 13 Brit-toekennings agter sy naam.

“Ek kan nie glo ʼn klavierballade het teen dié teenstanders gewen nie,” het Adele gesê toe sy die toekenning vir liedjie van die jaar ontvang het. “Easy on me” is benoem in dié kategorie saam met liedjies soos Becky Hill en David Guetta se “Remember”, Ed Sheeran se “Bad Habits”, Elton John en Dua Lipa se “Cold Heart (Pnau Mix)”en Tion Wayne en Russ Millions se “Body”.

Adele moes in Januarie haar Las Vegas-konsertreeks 24 uur voordat dit sou afskop, uitstel. Haar jongste album getiteld 30 is die Verenigde Koninkryk se topverkoperalbum vir 2021 – slegs ses weke nadat dit in November uitgereik is.

Ed Sheeran ontvang die toekenning vir liedjieskrywer van die jaar by die Brit-toekennings in Londen. (Foto: Tolga Akmen / AFP)

Meer as 600 000 kopieë van die sogenaamde “egskeidingsalbum” is verkoop, met 80% van die verkope wat op CD en vinielplate was.

Sy het haar Brit-toekenning vir dié album aan haar eksman, Simon Konecki, en hulle negejarige seun, Angelo Adkins, opgedra.

Ander bekendes wat die geleentheid bygewoon het, was die Olimpiese atlete Mo Farah en Tom Daley, die Suid-Afrikaanse danseres Oti Mabuse en David Guetta.

Bron: BBC

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sara ·

Ed Sheeran AKA Ron Weasley se blou uitrusting lyk of dit vir ‘n 7 jarige gemaak is. Die Suid-Afrikaanse dame lyk pragtig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.