[Foto’s] Agt sterf in New York-terreuraanval

Owerhede op die toneel waar ʼn bakkie in ʼn fietspaadjie in Manhattan in New York City ingejaag het (31 Oktober 2017). Foto: AP Photo/Bebeto Matthews

Agt mense is dood nadat ʼn bakkie Dinsdagmiddag in ʼn fietspaadjie in Manhattan in die stad New York ingejaag het in ʼn aanval wat as terreur bestempel word.

ʼn 29-jarige man het met ʼn gehuurde bakkie in die fietspaadjie afgery waarna die bakkie teen ʼn skoolbus gebots het. Die verdagte het met twee handwapens uit die bakkie gespring voordat hy deur die polisie geskiet en hospitaal toe geneem is.

CNN berig die verdagte is intussen as Sayfullo Habibullaevic Saipov geïdentifiseer. Hy is van Oezbekistan afkomstig en woon al sedert 2010 in die VSA. Verskeie mediabronne het berig ʼn nota wat in die bakkie gevind is, het gelui die aanval is uitgevoer in die naam van die Islamitiese Staat (Isis).

Bill de Blasio, burgemeester van New York, het gedurende ʼn mediakonferensie gesê die voorlopig beskikbare inligting oor die voorval dui op ʼn terreuraanval. “Ons weet tot dusver van agt onskuldige mense wat hul lewe verloor het en meer as 12 is beseer,” het hy gesê.

Owerhede op die toneel waar ʼn bakkie in ʼn fietspaadjie in Manhattan in New York City ingejaag het (31 Oktober 2017). Foto: AP Photo/Bebeto Matthews

Andrew Cuomo, goewerneur van New York, het gesê daar is geen bewyse tans dat die terreuraanval deel van ʼn groter plan is nie. Volgens Cuomo is daar geen voortdurende of bykomende gevaar vir New York City ná die bakkievoorval nie.

Chen Yi, ʼn Uber-bestuurder, het die aanval sien gebeur. “Ek het baie bloed daar gesien. Baie mense het op die grond gelê,” het Yi gesê.

Eugene Duffy, ʼn sjef by ʼn plaaslike restaurant, het gesê: “Talle polisiebeamptes het hier aangekom en hulle het nie geweet wat gebeur nie. Mense het geskree. Vroue het so hard as wat hulle kon, geskree.”

Polisiebeamptes het die strate rondom die westelike rand van Manhattan al langs die Hudson-rivier afgesper en beamptes is vinnig deur die buurt ontplooi terwyl mense voorberei het vir Halloween-feestelikhede, waaronder die groot jaarlikse optog (parade) deur Greenwich Village.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jakalas ·

Ek wonder of the Amerikaners besef hulle is in oorlog met ISIS?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.