Foto’s: Aktiviste neem Londen op horings

Talle paaie is in die stad gesluit. (AP Photo/Kirsty Wigglesworth)

Die Britse polisie het reeds meer as 120 aktiviste in hegtenis geneem nadat talle paaie in sentraal-Londen in Engeland versper is weens ’n betoging oor klimaatsverandering.

Die internasionale mediahuis BBC het berig dié stad word Dinsdag vir die tweede dag op horings geneem nadat duisende aktiviste by die Waterloo-brug, Parliament Square en Oxford Circus kamp opgeslaan het waar hulle Maandagaand oornag het.

Die polisie het die skare vandag aangesê om hulle protesaksie tot Marble Arch te beperk nadat die betogings gister vir ontwrigting gesorg het.

“[Die protesaksie] veroorsaak ernstige ontwrigting vir openbare vervoer, plaaslike besighede en die mense van Londen wat hul daaglikse gang wil gaan,” het hoofsupt. Colin Wingrove van die Britse polisie aan BBC gesê.

“Op hierdie stadium het ons altesaam 122 inhegtenisnemings gedoen … 117 was gisteraand op die Waterloo-brug en in die vroeë oggendure,” het Wingrove gesê.

Volgens BBC het sommige betogers hulself aan ’n vragmotor vasgeplak wat op die brug geparkeer het sodat die polisie hulle nie kon verwyder nie.

ʼn Pienk boot is ook gister in die middel van Oxford Circus staan gemaak waaraan betogers hulle vasgemaak het terwyl die oliemaatskappy Shell se hoofkantoor op Belvedereweg in die stad onder vandale deurgeloop het.

Kosstalletjies wat gratis graankos aanbied en wasgoedlyne vir die betogers se vuil klere is in Oxfordstraat, een van die stad se besigste strate, opgerig.

The Guardian berig dat die betoging Maandagoggend in die sentrale dele van die stad opgevlam het.

Die Britse omgewingsgroep Extinction Rebellion het die Britse regering versoek om koolstofuitlaatgasse teen 2025 tot nul te verminder en beplan om Londen tot stilstand te bring tot en met 29 April deur middel van ’n reeks betogings.

Volgens organiseerders van dié groep word soortgelyke betogings in meer as 80 stede oor 33 lande van stapel gestuur.

“Dit is ’n baie belangrike oomblik in die geskiedenis. Dit moes 50 jaar gelede al gebeur het, maar dit gebeur ten minste nou. Die tyd loop uit en ons regering moet luister,” het ʼn betoger aan The Guardian gesê.

“Ek tree persoonlik op en neem persoonlik verantwoordelikheid vir die ekologiese en klimaatkrisis,” het ’n ander betoger gesê wat ure lank aan ʼn voertuig vasgeklou het.

Hy het gesê hy oortree die wet ter wille van toekomstige geslagte. “Ek voel regtig jammer vir die ongerief wat ons veroorsaak en dit is niks persoonlik nie, maar die ongerief wat ons almal later in die gesig gaan staar as ons dit nie aanpak nie, sal veel, veel erger wees.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Danny ·

Dit bly maar verstommend hoe maklik die mens gebreinspoel kan word, nou verwoes hulle n stad se ekonomie vir iets wat nie bestaan nie

Andre Stander ·

Brexit het klaar die ekonomie verwoes.. nou skop hulle maar net stof.

John ·

Klimaatsverandering bestaan seker nie want die bybel praat nie daarvan nie?

willem Botha ·

Die verskil tussen hulle polisie en dit wat ons het is die feit dat hulle 117 by n voorval arresteer, hoeveel arresteer die geniuse hier by ons.

JJ ·

Ek sien vanoggend op Skynews dat die betogers deur die nag gestaak het met ‘n DJ en als. Dit het na ‘n lekker staking gelyk.

Attie. ·

Nou leer die Engelse baie by ons. Die Franse Geelhemde het ook by ons geleer. Hulle doen dit nog nie so goed soos ons nie…hulle sukkel om te Toi-toi. Hulle moet net hard oefen.

@Attie ·

Stem heeltemal saam – daar is nie een asblik omgegooi of winkel verniel nie. Selfs nie eens een skoot in die lug opgeskiet nie. Selfs die polisie staan rustig rond. Nee wat, baie om te leer!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.