Foto’s: Almal oorleef wonderbaarlik ná vliegtuig neerstort

Nooddienste op die toneel. (Foto: Red Cross Durango)

Al 103 passassiers en bemanningslede aan boord ’n Meksikaanse vliegtuig het oorleef nadat die vliegtuig Dinsdagmiddag neergestort het.

Die vlug van die Aeromexico-lugredery wat van Durango na Meksikostad onderweg was het in ’n veld neergestort voor dit oomblikke daarna aan die brand geslaan het. Die vliegtuig het in onstuimige weer by die Durango-lughawe opgestyg.

Die vliegtuig kon wonderbaarlik in een stuk naby die aanloopbaan van dié lughawe in die veld tot stilstand kom waarna die passassiers van die vliegtuig daarin kon slaag om in die doodsnikke uit die wrak te ontsnap voordat dit in vlamme gehul is.

Lorenzo Nunez, ’n passasier van Chicago, vertel dat die wrak binne ’n paar sekondes aan die brand geslaan het. “Dit was regtig erg,” vertel Nunez oor sy en sy gesin se noue ontkoming.

Passasiers het gesê hulle het ’n harde geluid gehoor toe die vliegtuig se linkervlerk die grond tref en albei enjins van die vliegtuig losgeskeur het. Die vliegtuig kon genadiglik regop bly en die seilglybane is geaktiveer sodat passassiers die vliegtuig deur die nooddeure kon verlaat.

Verskeie passasiers kon self van die vliegtuig af wegstap voordat nooddienste op die toneel opgedaag het. Sommige moes mediese hulp ontvang, terwyl ander reeds huis toe kon gaan.

Fernando Ros, woordvoerder van die Durango-staatsgesondheidsministerie, het bevestig dat 49 mense ná die ongeluk in hospitale opgeneem is, meestal vir die behandeling van ligte beserings en brandwonde. Die vlieënier is egter tydens die ongeluk ernstig beseer en moes ’n operasie ondergaan. Ros is positief dat alle beseerdes buite gevaar is.

Jose Aispuro, die Durango-staatsgoewerneur, verduidelik dat dit in dié stadium te gou is om oor die oorsaak van die ongeluk te bespiegel. Hy bevestig dat meganiese mislukking en menslike foute in berekening gebring sal word, maar verduidelik dat die weer beslis nie gunstig ten tyde van die vlug se vertrek was nie. Hy vertel dat sterk winde, swaar reën en hael dié stad Dinsdag getref het.

Andres Cones, Aeromexico se uitvoerende hoof, het bevestig dat die vliegtuig in Februarie vir instandhouding gestuur is en dat die bemanning goed uitgerus was nadat hulle hul werksdag Dinsdag in Durango begin het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.