[Foto’s] Betogings duur voort in St Louis

Polisiebeampte Jason Stockley (Foto: St Louis Police Department via AP File)

Die polisie in St Louis, Missouri in die VSA, het Sondagaand verskeie persone in hegtenis geneem toe hulle vensters gebreek en eiendom beskadig het tydens die derde aand van betogings nadat ʼn wit polisiebeampte vrygespreek is ná ʼn swart man doodgeskiet is.

Nadat organiseerders aangekondig het die betoging is verby, het ʼn groep persone steeds na die middestad beweeg en groot potplante omgestamp en voorwerpe deur vensters gegooi.

Busse met polisiebeamptes in oproer-uitrustings en skilde het naby die bymekaarkomplek van die betogers aangekom. Die polisie het gesê daar was “beduidende skade aan eiendom” ná ʼn niegewelddadige betoging Sondagmiddag en -aand.

Minstens sewe persone is in hegtenis geneem.

Organiseerders het gesê hulle is gefrustreerd dat sommige persone, wat amok gemaak het, dit vir hulle moeilik maak om ʼn niegewelddadige boodskap uit te stuur.

Bruce Franks, staatsverteenwoordiger wat ook aan die betoging deelgeneem het, het gesê diegene wat gewelddadig optree en eiendom beskadig “is nie betogers nie, maar ʼn groep wat afsonderlik optree van diegene wat aan ʼn georganiseerde betoging deelneem”.

Die skare het Sondagmiddag stil voor die polisiedepartement se gebou betoog en daarna begin dreunsing “stop killing us” terwyl polisiebeamptes uit die vensters van die gebou toegekyk het.

Teen die aand het meeste van die betogers die perseel verlaat en ongeveer 100 het naby die polisiestasie gebly en gedreunsing “the whole damn system is guilty as hell”.

Betogers teken beswaar aan nadat Jason Stockley (36) Vrydag onskuldig verklaar is. Hy het tereg gestaan op aanklag van die moord op Anthony Lamar Smith in 2011.

Stockley het Smith geskiet ná ʼn hoëspoedjaagtog waar Stockley en sy kollega die man in hegtenis wou neem op aanklag van ʼn beweerde dwelmtransaksie. Stockley het getuig hy het bedreig gevoel, omdat hy gesien het Smith het ʼn silwer rewolwer, toe Smith met sy motor in die rigting van die beamptes gery het.

Staatsaanklaers voer aan Stockley het ʼn vuurwapen in Smith se motor geplant ná die skietery. Die beampte se DNS was op die vuurwapen, maar nie Smith sʼn nie. In ʼn klankopname van ʼn paneelbordvideokamera in Stockley se motor, kan daar gehoor word hoe die beampte sê hy “gaan hierdie [vloekwoord] skiet”. Minder as ʼn minuut later het hy Smith vyf keer geskiet.

Stockley se prokureur het die uitlating aan “menslike emosie” toegeskryf tydens “ʼn gevaarlike jaagtog”. Regter Timothy Wilson het gesê die uitlating is dubbelsinnig en het beslis staatsaanklaers het nie “bo redelike twyfel” bewys dat Stockley Smith vermoor het nie.

Owerhede het Sondagmiddag ʼn paar blokke om die polisiehoofkantoor afgesper, in afwagting van die betoging. Klein groepe het Vrydag- en Saterdagaand ook met geweld betoog. Betogers en organiseerders het gesê die geweld en vandalisme trek die aandag af van die breër boodskap van rassegelykheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eish ·

Hy kan homself gelukkig as dat hy nie in Suid Afrika bly nie. Met die getuienis so hy vir n lang tyd toegesluit word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.