Foto’s: Bloubloed-troukoors is hoog in Windsor

Mense wag in die strate voor die kasteel. (Foto: Facebook/The Royal Family)

Mense wag in die strate voor die kasteel. (Foto: Facebook/The Royal Family)

Die Kensington-paleis het Saterdag, enkele ure voor die Amerikaanse aktrise, Meghan Markle, en prins Harry in die eg verbind word by die St. George-kapel in Windsor naby Londen, die paartjie se nuwe koninklike titels bekendgemaak.

Prins Henry van Wallis, oftewel prins Harry, sal voortaan bekendstaan as die hertog van Sussex. Markle sal die hertogin van Sussex heet.

Intussen drom derduisende mense in die strate van Windsor saam vir ʼn vlugtige blik van die toekomstige koninklike bruidspaar wanneer hulle om 14:00 (Suid-Afrikaanse tyd) op ʼn koetsoptog deur die strate van Windsor vertrek.

Oprah soek haar sitplek in die kapel. (Foto: AP Photostream)

Oprah soek haar sitplek in die kapel. (Foto: AP Photostream)

Die 600 trougaste wat genooi is om die seremonie by te woon, het by die kapel begin aankom. Bekendes soos Oprah, James Blunt, die tennisster Serena Williams en die Beckham-egpaar, David en Victoria, woon die seremonie by. George en Amal Clooney is ook daar.

Die sanger, Elton John, wat goed bevriend was met prins Harry se ontslape ma, prinses Diana, sal ook na verwagting saam met sy lewensmaat, David Furnish, die seremonie bywoon. John het ook die uiters bekende liedjie “Candle in the wind” herskep vir prinses Diana se begrafnis in 1997.

Intussen het Kensington-paleis ook bekendgemaak dat Markle se ring uit Walliese goud gemaak is en ʼn geskenk van koningin Elizabeth is. Prins Harry se ring van platinum is gemaak met ʼn tekstuurafwerking.

Volgens die Britse monargie se Twitter-bladsy, is prins Harry en Markle die 16de koninklike paartjie wat hul huweliksbevestiging by die Windsor-kasteel vier sedert 1863. Die paartjie se onthaal sal ook in die St. George-saal plaasvind.

Die seremonie begin om 13:00 (Suid-Afrikaanse tyd).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Frans C ·

Niks nuut onder die son nie,vlieënde piering hoede is sowaar weer in die mode.

Frans C ·

Dink jy nie die Britse koningshuis kan doen met ‘n bietjie kleur in hul lewe nie?

Lynette ·

Die Afrikaner-volk se geheue is maar BAIE kort – baie lande soos Frankryk, ens.. stel GLAD nie belang in die troue nie.maar NEE, ons ou volkie, waarvan derduisende vroue en kinders VERMOOR is deur die Britse volk, sit met groot oë en vlaggies om te kyk na die troue en om dit te ondersteun.

DS ·

Lynette “get a grip” en kom oor die verlede…. worry eerder oor die huidige plaasmoorde as wat dekades gelede gebeur het! Hoop die tweetjies – wat ons ‘n uur lank – van al die moord en doodslag in ons eie land laat vergeet het – net geluk toe.

Jannie ·

FOEITOG!!! Die ydelheid en blindheid van die mensdom!!! Aanbidding van mense waarvan afgode gemaak word hier in die eindtyd!!!

Oom Kalahari ·

Sal maar nie my stuiwer in die beurs plaas nie, want MM is geneig om my skrywes te verwyder of nie te plaas nie. Seker nie te polities korrek nie. Maar alle voorspoed en sukses asook seeninge aan hierdie paartjie met die “Bloubloed” as toekomstige Koninklikes.

Johanna ·

Windsor is nie in Londen nie. Die skares op julle foto’s wag seker in Windsor se strate. Beslis nie Londen nie!

Leonie Bezuidenhout ·

Dagsê Johanna, dankie vir jou boodskap! Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig. Groetnis.

Reguit ·

Ek is seker nou nie ‘n wafferse mode-kenner nie, maar daai borrie-geel Crimplene rok en die meegaande Frisbee op haar kop lyk seker nie so sleg nie. Hehehehe……

Botterblom ·

Niemand sien die fyn agenda agter die engelse troue nie. Die “firm” is besig met n baie goeie skaakspel en gebruik al hul perdjies en pione en ons is die suckers…. en uit menigde kommentaar kyk almal vas in mode en ander in ras en natuurlik die verhoog met briljante toneel wat soos n atoombom ons gaan kelder… ek is nie n politieke ontleder nie, maar kyk wel na geheelbeeld en die monargie se beplanning… maak mens meer bang as opgewonde…

Annelize ·

Ek was daar! Die atmosfeer was ongelooflik. Almal was so gelukkig en vol glimlagte. Die Britte wèèt hoe om ‘n “show” op te sit!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.