[Foto’s] Bruidegom spring in water om seun te red

Brittany-en-Clayton-Cook

Clayton en Brittany Cook voor die bruidegom in die water gespring het. Foto: Facebook / Hatt Photography

ʼn Tradisionele troufotosessie het tot ʼn heldedaad gelei toe ʼn bruidegom in die water gespring het om ʼn seun te red wat in die moeilikheid beland het.

Die paartjie se fotograaf, Darren Hatt, het aan BBC News vertel hy was besig om foto’s van die nuwe egpaar te neem op ʼn brug in Victoria-park in Ontario, Kanada, toe die bruidegom, Clayton Cook, gesien het hoe ʼn seun in die water beland.

“Daar was heelwat gesinne en kinders die dag in die park,” het Hatt gesê. “Drie kinders het te naby aan die oewer gespeel toe die seun in die water beland het. Ek was besig om die bruid, Brittany, af te neem toe sy skielik gil en na Clayton in die water wys. Toe ek omdraai, het Clayton reeds die seun aan die arm uit die water getrek.”

Clayton-red-seun

Foto: Facebook / Hatt Photography

Hatt het die oomblik met sy kamera vasgevang en dit op Facebook gedeel. Dit is sedert Saterdag derduisende kere gedeel op sosiale media.

“Dit was pure instink om die oomblik vas te vang, maar die reaksie daarop is nogal oorweldigend,” het Hatt gesê.

Brittany het intussen aan CBS News gesê sy is nie verbaas oor haar man se onverwagse heldedaad nie en dat sy onbaatsugtigheid een van die redes is waarom sy op hom verlief geraak het. “In my troutoespraak het ek juis genoem hoe Clayton enigiets vir enigiemand anders sal doen selfs nog voor hulle hom hoef te vra,” het sy gesê. “So ja, jy kan seker sê hy is my held.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jan Nel ·

Dit is regtig lekker om hierdie tipe van berigte te lees. Dit gee my hoop vir die mensdom.

Eerste keer? ·

Eerste keer? Nee, ek was by toe ‘n man op Parys (Vrystaat) ook in die Vaalrivier gespring het met sy pak klere om ‘n kind uit te haal. Nogal snaaks om hom eers te sien verdwyn en dan met die kind tevoorskyn te kom.
Jare later as treindrywer het hy op die fluit van die lokomotief ‘gelê’ voordat hy op die laaste oomblik uitgespring het omdat hy die aankomende trein wou waarsku wat nie besef het wat gaan gebeur.
Party mense het ‘dit’ net, ander nie.

Theresa ·

Dis lekker om van helde te lees. Die bruidegom in Kanada – mooi so! Aan Suid-Afrikaanse helde (dit gebeur nog daagliks) bravo!

Lizl ·

Well done! So het my niggie se bruidegom ook eers n vreemdeling gehelp om sy bakkie aan die gang te kry voor ons kon aangaan met die fotos. Baie dikwels dra helde nie “capes” nie :)

Susan ·

Mooi gelukkige storie. Sy pak kon weer droog word, maar as die seun verdrink het, was daar niks wat hom sou kon vervang nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.