[Foto’s] Burkina Faso: Gyselaars bevry uit Ouagadougou-hotel

Splendid Hotel in Ouagadougou, Burkina Faso Foto: hotels.com

Splendid Hotel in Ouagadougou, Burkina Faso Foto: hotels.com

Owerhede van Burkina Faso en Frankryk het Saterdag kragte saamgespan om ʼn luukse hotel oor te neem nadat al-Kaïda-militante dit Vrydagaand beset en ʼn onbekende aantal gyselaars doodgemaak het.

Minstens 10 liggame is tot dusver gevind, het ʼn minister gesê.

Dié aanval volg nadat 20 persone in November dood is toe dieselfde ekstremiste ʼn luukse hotel in Mali aangeval het.

Dit is nog nie duidelik hoeveel persone steeds in die hotel is nie, aangesien die oggendwekroep vir gebed ʼn nuwe dag aangekondig het.

Dosyne beamptes van die Franse polisie het deurnag van die aangrensende Mali in Burkina Faso aangekom om in die reddingspoging bystand te lewer. Een Amerikaanse soldaat was saam met Franse magte op die toneel, en Amerika poog om Frankryk met verkenning te help, het ʼn senior beampte in die Amerikaanse weermag, wat anoniem wou bly omdat hy nie gemagtig is om die saak openlik te bespreek nie, gesê.

Soldate poog om weer beheer te kry van die hotel Foto: @ajenews, Twitter

Soldate poog om weer beheer te kry van die hotel Foto: @ajenews, Twitter

Die plaaslike al-Kaïda-filiaal, bekend as AQIM, het aanlyn gesê hulle is verantwoordelik vir die aanval, volgens die SITE-intelligensiegroep. Die aanval het in Ouagadougou by die Splendid Hotel plaasgevind. Die hotel het 147 kamers.

Volgens ʼn boodskap wat in Arabies op die militante se “Muslim Africa” Telegram-rekening gepubliseer is, het stryders by die restaurant van een van die grootste hotelle in die hoofstad ingebreek, en “die stryd duur voort met die vyande van die godsdiens”. AQIM het gesê van die militante het telefonies beweer talle stryders is dood, aldus SITE.

Simon Compaore, minister van binnelandse sake, het gesê minstens 10 liggame is reeds in die Cappucino Cafe gevind, ʼn restaurant langs die Splendid Hotel.

“Ons weet die skieters sal nie lewend hier uit kom nie,” het ʼn getuie gesê, wat slegs sy voornaam, Gilbert, gegee het. “Ons land is nie vir djihads of terroriste nie. Hulle het dit verkeerd.”

Polisiebeamptes in siviele klere lei toeriste weg van die toneel nadat hulle gered is (15 Januarie 2016, Ouagadougou, Burkina Faso) Foto: Skermskoot van AP Television via AP

Polisiebeamptes in siviele klere lei toeriste weg van die toneel nadat hulle gered is (15 Januarie 2016, Ouagadougou, Burkina Faso) Foto: Skermskoot van AP Television via AP

Burkina Faso, hoofsaaklik ʼn Moslem-land, het al jare lank die geweld vrygespring wat deur Islamitiese ekstremiste uitgevoer word, waar uitlanders in Mali en Niger ontvoer en gyselaar gehou word. ʼn Roemeniër is egter vir die eerste keer in April in Burkina Faso ontvoer tydens ʼn aanval.

Die land beleef al hoe meer politieke onrus nadat sy jarelange president tydens ʼn oproer in 2014 ontsetel is. Lede van die presidensiële wag het in September ʼn staatsgreep uitgevoer wat ongeveer ʼn week lank geduur het. Die oorgangsregering het weer oorgeneem tot verkiesings in November gehou is.

Altesaam 20 persone is dood tot al-Kaïda in November op die Radisson Blu-hotel in Mali toegeslaan het. Soldate van Mali en spesiale magte van Frankryk en Amerika het die gebou bestorm en angsbevange toeriste en werknemers van die hotel bevry. Die besetting het ongeveer sewe ure lank geduur. ʼn Leier van AQIM het later aanspreeklikheid erken vir dié aanval.

___

Associated Press-skrywers Ludivine Laniepce in Ouagadougou, Burkina Faso; Krista Larson in Dakar, Senegal; en Lolita C. Baldor in Washington, D.C. het tot hierdie verslag bygedra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Peet Schabort ·

Politiek, godsdiens, ras en enige ander denkbare verskille wat fanaties raak en met die mens se kop smokkel soos ‘n verslaafde aan een of ander middel. Wanneer die stert die hond begin swaai en absoluut geen verdraagsaamheid jeens ‘n ander meer bestaan. Waar die uiteinde totale verwoesting teweeg bring soos o.a. in Sirië gesien word waar die bevolking vlug.
Voorwaar ‘n wêreld wat heeltemal deurmekaar blyk te wees. Tog bly ons hemelse Vader ‘n GOD van orde in hierdie vir ons skynbaar ‘n wêreld van wanorde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.