Foto’s: Chaos nadat tropiese storm tref; 7 reeds dood

Golwe slaan hard teen die Oceana-kaai in Atlantic Beach, Noord-Carolina (13 September 2018). Foto: Travis Long/The News & Observer via AP

Amerikaanse pres. Donald Trump het Noord-Carolina tot rampgebied verklaar en sodoende staatsfondse beskikbaar gestel om inwoners van Beaufort, Brunswick, Carteret, Craven, New Hanover, Onslow, Pamlico en Pender by te staan.

Dit kom nadat die tropiese storm Florence Noord- en Suid-Carolina aan die suidoostelike kus Vrydagoggend (plaaslike tyd) as ʼn orkaan getref het en die lewe van minstens sewe mense, onder wie ʼn baba, geëis het.

Die storm se kern is tans oor Suid-Carolina, maar veroorsaak steeds swaar aanhoudende reënval oor die reeds oorstroomde Noord-Carolina. Talle gemeenskappe sal na verwagting nog die volgende paar dae onder oorstromings deurloop.

Russ Lewis beskerm sy oë teen die wind en sand soos die tropiese storm al nader aan Myrtle Beach in Suid-Carolina kruip (14 September 2018). Foto: AP Photo/David Goldman

CNN berig ʼn ma en haar baba is dood nadat ʼn boom op hul huis in Wilmington, Noord-Carolina, geval het. In Hampstead, Noord-Carolina, is nooddienste na ʼn huis ontbied waar ʼn vrou ʼn hartaanval gekry het. Die pad na die huis is egter versper deur bome wat omgeval het en ʼn laaigraaf moes uiteindelik gebruik word om paramedici deur te laat. Teen die tyd dat nooddiensbeamptes uiteindelik by die huis kon uitkom, was die vrou reeds dood.

Twee mans is dood in die Lenoir-distrik in Noord-Carolina toe hulle geskok is. Een is geskok toe hy sy kragopwekker aan die gang wou kry en die ander toe hy na buite gegaan het om sy honde in te bring.

Volgens CNN is nog twee mense in die Carteret-distrik in Noord-Carolina dood. Dit was nie onmiddellik bekend wat die oorsaak van hul dood was nie.

Talle mense is in die storm beseer en moes na hospitale geneem word.

‘n Satellietbeeld van orkaan Florence oor die oostelike kus van die VSA (14 September 2018). Beeld: NOAA via AP

Die fondse wat deur Trump se rampverklaring beskikbaar gestel sal word, sluit in toelae vir tydelike behuising en herstelwerk aan huise, laekostelenings om onversekerde eiendomsverliese te dek en ander programme om individue en sake-eienaars te help om weer op hul voete te kom.

Geld sal ook beskikbaar gestel word aan plaaslike regerings en niewinsgewende groepe vir noodopruimingswerk in die rampgeteisterde distrikte. Minstens 950 000 inwoners in Noord- en Suid-Carolina is sonder elektrisiteit gelaat. Honderde mense is reeds uit die stygende vloedwaters gered.

Die VSA se nasionale orkaansentrum het teen Saterdagoggend (plaaslike tyd) gesê die storm beweeg teen 3,2 km/h in ʼn westelike rigting, met die kern wat ongeveer 56 km wes van Myrtle Beach in Suid-Carolina is. Windvlae van tot 80 km/h kan gevoel word en tot 800 mm reën word op sommige plekke verwag. Die storm sal na verwagting later Saterdag verswak, hoewel nog reënval verwag word.

Owerhede het gewaarsku dat inwoners gereed moet wees vir kitsvloede en oorstroomde riviere wat nog die volgende paar dae kan voorkom. Modderstortings word ook verwag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Susan ·

My hart gaan uit na di mense in Amerika wat nou soveel erge storms moet beleef. Dit moet verskriklik wees om voor sulke storms te moet vlug en dan het jy ni eens n huis of niks oor om voor trug te keerni. Dan ni eens te praat van al di bang troetel diere ni. Hierin SA vlug jy weervir ander elemente. Baie sad

Natasha ·

Dit is vreeslik hartseer. Ek volg al die storms hier in die Atlaniese oseaan. Ek kan net nie verstaan hoekom die mense NIE ge- evacuate het soos daar gese is nie. Het gelees van soveel mense wat se hulle bly tuis en gaan die storm deur “ry” met hul gesin. Ek sal beslis evacuat en nie ons kinders se lewens op die spel sit nie.

anton ·

Ja nee, moeder natuur is niemand se speel maat nie.
Ja dit is seker lekker om by die kus te bly maar daar is altyd die kans van sulke storms en daarom sal ek maar eerder verder binnelands woon en by die kus gaan vakansie hou.
Voel jammer vir die mense.

Brenda ·

Ek stem , dis vreeslik. Dit klink of al die sterftes dus wel was van mense wat nie wou ontrukm onder gedwonge BEVEL nie. Die owerhede van huis tot huis gegaan en hulle naastbestaandes se besonderhede geneem het omdat hulle geweier het om te gaan. Ons is gister deur Mangkhut Torndo getref. Mense wat moes ontruim , het. Ek glo daar is 2 oorlede in Filipyne.

Brenda ·

Ek stem , dis vreeslik. Dit klink of al die sterftes dus wel was van mense wat nie wou ontrukm onder gedwonge BEVEL nie. Die owerhede van huis tot huis gegaan en hulle naastbestaandes se besonderhede geneem het omdat hulle geweier het om te gaan. Ons is gister deur Mangkhut Torndo getref. Mense wat moes ontruim , het. Ek glo daar is 2 oorlede in Filipyne.

Hennie ·

Groot skade inderdaad. Maar wat my opval is die hulp wat mense mekaar verleen tydens krissese sois hierdie. Enige verskille maak dan nie meer saak nie, almal vat hande, almal werk saam.

Daan Erasmus ·

Tropiese storm Florence is amper so erg soos Stormy Daniels. Florence sal net vinniger weggaan en meer skade maak.

Twakkie ·

Moes ek nou vir ‘n oomblik wonder watter storm is Daniels. Ek volg uitsluitlik die konserwatiewe nuus in die VSA en word dus die onbelangrike twak gespaar. Maar dit is nou “hurricane season” en Florence is beslis ‘n grote. En mens wonder hoekom daar altyd mense is wat weier om hulle huise te ontruim as kundiges sê hulle moet? Soos die konserwatiewe Amerikaners in politieke verband sê oor eienaardige gedrag: “No cure for stupid.”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.