[Foto’s] Clinton en Trump paai kiesers laaste keer

Foto: AP Photo/Paul Sancya

Foto: AP Photo/Paul Sancya

Hillary Clinton en Donald Trump het tot op die laaste nippertjie hul verkiesingsveldtogte gedryf in ʼn poging om as Amerika se 45ste president aangewys te word.

Ontleders het dit eens dat die 2016-verkiesing die mees omstrede en ongewildste presidentskandidate nog vir sowel die Demokrate as die Republikeine in ʼn verkiesingsveldtog opgelewer het.

Die fokus van die laaste saamtrekke was op die sogenaamde kantelstate (“swing states”) soos Noord-Carolina en Pennsilvanië. Dit is in dié state waar die sleutel tot die presidentskap opgesluit lê.

Jon Bon Jovi en Lady Gaga saam met die Clintons. Foto: AP Photo/Gerry Broome

Jon Bon Jovi en Lady Gaga saam met die Clintons. Foto: AP Photo/Gerry Broome

Nadat Clinton anderhalf jaar gelede aangekondig het dat sy haar verkiesbaar sal stel as kandidaat vir die Demokrate is sy volgens verskeie meningspeilings die gunsteling om weer by die Withuis in te trek – dié keer as vrouepresident en nie presidentsvrou nie.

“Dit is nie net my naam of Donald Trump se naam op daardie papier nie, dit gaan oor die soort land wat ons wil hê,” het sy tydens ʼn laataand-saamtrek in Noord-Carolina gesê. Sy was saam met haar familie en die sangers, Lady Gaga en Jon Bon Jovi.

Trump het daarenteen in Grand Rapids in Michigan met die wit middelklas gepraat en vir hulle gesê: “Vandag is ons onafhanklikheidsdag. Ons gaan finaal die geskiedenisboek toemaak vir die Clintons, tesame met hulle gekonkel en korrupsie.”

Foto: AP Photo/Paul Sancya

Foto: AP Photo/Paul Sancya

Clinton het vroeër in Philadelphia, die grootste stad in Pennsilvanië, gepraat en kiesers gemaan om Dinsdag hul kruisies in haar guns te gaan trek. “Kom ons gaan wys daar is geen twyfel oor wie môre hierdie verkiesing gaan wen nie. Ek wil ʼn president vir almal wees, nie net dié wat my ondersteun nie.” Sy is deur pres. Barack Obama en sy vrou, Michelle, vergesel.

Obama is ook saam met Clinton in Michigan gesien, juis omdat Trump hoop om die staat te swaai. Hy het Trump “ongekwalifiseerd” genoem en bygevoeg dat al die vordering wat die Demokrate tot dusver gemaak het verniet sou wees as Trump president word.

Trump het in Florida gesê dat hy ʼn rits van die kantelstate sal wen tesame met die Demokrate se staatmakerstate soos Michigan en Minnesota.

Foto: AP Photo/Matt Slocum

Foto: AP Photo/Matt Slocum

“Ons moet die media en die liberale elite verwerp, dis tyd dat ons vir Amerika begin baklei.”

Albei kandidate het ook direkte pleidooie aan kiesers gerig tydens betaalde tweeminuut-televisie-advertensies wat tydens spitstyd gebeeldsaai is.

Clinton en Trump se veldtogte is gekenmerk deur politieke moddergooiery – selfs meer as gewoonlik – en Amerikaanse verkiesingsveldtogte is omtrent berug hiervoor. Clinton is tot laat verlede week nog deur die FBI ondersoek vir haar gebruik van ʼn private e-posbediener vir geheime kommunikasie tydens haar tydperk as minister van buitelandse sake. Trump word wyd van ondemokratiese gedrag beskuldig en het uitlatings gemaak wat ʼn mens se hare laat rys.

Foto: AP Photo/ Evan Vucci

Foto: AP Photo/ Evan Vucci

Die wenner van die VSA se verkiesing word deur ʼn kieskollege aangewys. Elke staat kry ʼn aantal afgevaardigdes volgens die bevolkingsgestal van die staat, met ʼn minimum van drie stemme vir state soos Wyoming, Alaska en Noord-Dakota, wat baie klein bevolkings het. ʼn Kandidaat moet 270 stemme uit die kieskollege op hom verenig om te wen. Hy moet dus ʼn kombinasie van state wen, waarvan die totale aantal afgevaardigdes tot die kieskollege 270 of meer is.

Die sogenaamde “battleground-” of “swing”-state, soos Florida, Pennsilvanië en Ohio, bly ʼn bepalende faktor in die uitslag van môre se verkiesing.

Foto: AP Photo/Gerry Broome

Foto: AP Photo/Gerry Broome

Die Amerikaanse presidentsverkiesing word ook nie altyd deur die nasionale stemuitslag bepaal nie. Mense wat dié land se politiek volg, sal onthou George W Bush het in 2000 die Amerikaanse president geword, al het hy 500 000 minder stemme as sy mededinger, Al Gore, gekry.

Suid-Afrika behoort teen Woensdagoggend te weet wie Amerika se nuwe president is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Hendrik ·

Trump gaan vir Suid Afrika meer beteken as enige ander presidents kandidaat wie op die ou trant wil voortgaan. Trump is ons man!!

A ·

Hoop Amerika oorleef dit. Altwee kandidate laat maar veel te wense oor.

Vivian ·

Sover het Trump gewys hy kan geld maak en het n plan om Amerika op te help. Hillary sy ken van skuld maak en lieg sit met 46 mense wat dood is op vreemde maniere wat haar op een of ander manier benadeel het of kon getuig het teen haar. Verder is dit op die internet sy is n satanis ens. Verder wil Obama deel he aan haar regering en ons weet dis nog triljoene wat daar gaan uitloop, so my gebed vir Amerika is dat Trump sal wen.

Albert Marais ·

Ek kan nie glo dis die beste twee wat die magtige Amerika kan oplewer nie. Die een is net so sleg soos die ander????

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.