Foto’s: Derduisende ontruim terwyl brande woed

Brandbestryders spook om vlamme in Ventura, Kalifornië te blus (5 Desember 2017). Foto: Ryan Cullom/Ventura County Fire Department via AP

Twee mense het brandwonde opgedoen, van wie een persoon kritiek is, en tienduisende moes die gebied verlaat toe hewige brande Dinsdag in die suide van Kalifornië in die VSA voortgewoed het.

Minstens vier veldbrande het reeds meer as 200 huise en ander geboue verwoes en minstens 27 000 mense moes uit die gebied verwyder word. Die brand het Dinsdagmiddag in San Bernardino, oos van Los Angeles, ontstaan en is deur sterk en wisselvallige winde aangevuur.

Terwyl brandbestryders in Ventura County sukkel om die grootste van die brande onder beheer te bring, het weervoorspellers gewaarsku die gebied word deur “erge brandgevaar” tot ten minste nog Donderdag in die gesig gestaar weens sterk Santa Ana-winde en lae humiditeit wat die vlamme voed. Die brand in Ventura County het teen Dinsdagmiddag reeds oor meer as 20 000 ha gestrek.

“Die vooruitsig om die brand onder beheer te kry is nie goed nie,” het Mark Lorenzen, brandweerhoof in Ventura County, gesê. “Dit is maar eintlik Moeder Natuur wat sal besluit wanneer ons in staat gaan wees om hierdie brand te blus.”

Verder oos het brandbestryders gespook om nog ʼn hewige veldbrand geblus te kry wat teen Dinsdagmiddag oor minstens 4 400 ha gestrek het. Owerhede het gesê dié brand het ver van die stedelike gebied begin, maar bedreig nou die Sylmar- en Lake View Terrace-gebied.

Rook hang in die lug agter ʼn woonstelblok in Ventura, Kalifornië (5 Desember 2017). Foto: AP Photo/Noah Berger

Nóg ʼn brand het in Santa Clarita ontstaan en twee helikopters het Dinsdagmiddag probeer om dié brand, wat teen Dinsdagmiddag oor sowat 400 ha gestrek het, onder beheer te bring.

Die veldbrande in die gebied kom kort nadat brande in Oktober vanjaar in die noordelike wynstreek in die staat die lewens van minstens 40 mense geëis en ongeveer 10 000 geboue verwoes het.

Jerry Brown, Kalifornië se goewerneur, het vandeesweek ʼn noodtoestand in Ventura County afgekondig. “Die brand is baie gevaarlik en versprei baie vinnig, maar ons sal voortgaan om teen die vlamme te baklei met alles wat ons het. Dit is noodsaaklik dat inwoners gereed bly en geboue onmiddellik ontruim wanneer hulle opdrag kry om dit te doen,” het Brown gesê.

Lorenzen het gesê die oorsaak van die brande is nog nie bekend nie. Hy het ook gesê daar is ʼn groot waarskynlikheid dat nog mense uit die gebied verwyder moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Vra-maar-net ·

Daar is vootdurend sulke erge brande daar. Is dit onmoontlik om by hierdie tyd stroke (wydte van 1-/2/-3 km?) skoon te maak om dit te verhoed of ten minste in toom te hou? Natuurlik sal bergagtige gebiede dit moeilik maak maar die Amerikaners is mos nie dom. Ja, dit sal ook inbreuk maak op die natuur se bosagtigheid maar is daar ‘n ander oplossing?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.