[Foto’s] Diana word steeds onthou, 20 jaar later

Foto: AP Photo

Prinses Diana het vandeesmaand 20 jaar gelede gesterf in ʼn ongeluk ná ʼn hoëspoedjaagtog in Parys en haar afsterwe word steeds wêreldwyd herdenk.

Diana en haar kêrel het in ʼn motor gery wat deur ʼn dronkbestuurder bestuur is en hulle is deur fotograwe gejaag.

Nou, twee dekades na die oorspronklike publikasie daarvan, maak die Associated Press sy korrespondent, Christopher Burns, se verslag beskikbaar van die katastrofiese ongeluk op 31 Augustus 1997 wat die 36-jarige Diana se lewe geëis het.

___

Engeland se prinses Diana, wat gesukkel het om ʼn nuwe lewe vir haarself te bou ná ʼn onstuimige egskeiding, is Sondag dood in ʼn motorongeluk terwyl hulle deur paparazzi op motorfietse gejaag is.

Haar welgestelde metgesel, Dodi Fayed, en hul chauffeur is ook dood toe hul Mercedes ʼn ongeluk gemaak het in ʼn tonnel langs die Seinerivier by die Pont de l’Alma-brug, net noord van die Eiffeltoring.

Die Franse polisie het sewe fotograwe formeel in hegtenis geneem om ondersoek in te stel of enigeen van hulle die tragedie veroorsaak het. ʼn Spesiale polisie-eenheid wat gewoonlik belangrike sake soos terreur-ondersoeke hanteer, staan aan die hoof van die ondersoek.

Die 36-jarige prinses het gereeld gekla oor paparazzi, die kommersiële fotograwe wat haar agtervolg het sedert sy bekend geword het.

Sy is om 04:00 (02:00 GMT) oorlede weens interne bloeding weens bors- en longbeserings, het dokters tydens ʼn perskonferensie by die hospitaal gesê.

“Ons kon haar nie weer bybring nie,” het dr. Bruno Riou, narkotiseur by die Hospital de la Pitie Salpetriere in Parys, gesê. Hy het gesê Diana het ʼn hartaanval gehad en dokters het minstens twee ure lank gesukkel om haar by te bring. Sy het nie weer haar bewussyn herwin ná die ongeluk nie, het plaaslike radiostasies berig.

Foto: AP Photo

Prins Charles het sy twee seuns, prins William en prins Harry, by Balmoral-kasteel in Skotland in kennis gestel van hul ma se afsterwe. Die koninklike gesin het tradisioneel hier hul somervakansies deurgebring.

Koningin Elizabeth II en die prins van Wallis het gesê hulle is “geskok deur die tragiese nuus”, aldus ʼn woordvoerder van Buckingham-paleis.

Prins Charles en Diana se twee susters het later die Sondag na Parys gereis om haar liggaam terug na Engeland te vergesel. Pres. Jacques Chirac en sy vrou, Bernadette, het beplan om Sondagmiddag met hulle te vergader.

President Clinton het ook sy meegevoel betuig en gesê hy en sy vrou, Hillary, “het prinses Diana geken en het baie van haar gehou”. In ʼn verklaring uit Martha’s Vineyard, Massachusetts, waar hy vakansie gehou het, het Clinton gesê hy dink aan Diana se familie, haar vriende “en veral haar kinders”.

Die ongeluk het kort ná middernag plaasgevind, nadat Diana en Fayed aandete geniet het by die Ritz-hotel, wat aan Fayed se familie behoort en hulle was op pad na ʼn privaat villa in die weste van Parys, wat ook aan Fayed behoort.

Minstens sewe lede van die paparazzi het Diana en Fayed se swart Mercedes agternagesit. Ses van die fotograwe is van Frankryk en een van Masedonië.

Jean-Pierre Chevenement, Franse minister van binnelandse sake, het gesê Diana se motor het vinnig deur die tonnel gery en die bestuurder het beheer verloor. Hy het nie spesifiek gesê hoe vinnig hulle gery het nie, maar ʼn bron naby aan die ondersoek, wat anoniem wou bly, het gesê dit was vinniger as 100 km/h. Die spoedbeperking in die tonnel is 50 km/h.

Volgens die bron het die twee ook nie sitplekgordels aangehad nie.

Die motor het ʼn betonpilaar in die middel van die tonnel getref en toe die regterkantste muur. Die impak het die motor verwoes.

Foto: AP Photo

Chevenement het gesê ʼn kriminele ondersoek duur voort. Frankryk se Info Radio het gesê sommige van die fotograwe het eers foto’s geneem voor hulp opgedaag het en geskokte omstanders het een van die fotograwe aangerand.

Die polisie het beslag gelê op twee motorfietse en ʼn bromponie.

Fayed, die 42-jarige seun van die Egiptiese miljardêr, eienaar van Londen se bekende Harrod’s-winkel, is op slag dood. Die chauffeur, ʼn veiligheidsagent by die Ritz-hotel, is ook in die ongeluk oorlede.

Mohamed Al Fayed het sy seun se liggaam in ʼn lykshuis in Parys uitgeken.

Die vierde persoon in die motor, ʼn lyfwag, het ernstige beserings opgedoen.

Net soos in Engeland, was die mense in Frankryk geskok oor Diana se afsterwe.

“Sy het alles gehad,” het Pascale Tremblay, ʼn kelnerin in ʼn bakery, gesê. Sy was werklik ʼn wonderlike vrou, ʼn super mens. Haar hart was net so goed soos wat sy mooi was.

“Haar afsterwe laat my dink aan prinses Grace,” het sy bygevoeg, in verwysing na Grace Kelly, nóg ʼn prinses wat op ʼn pad in Frankryk gesterf het. Grace is in September 1982 oorlede.

Amerikaanse toeriste Tom Richardson en Joanna Luz was van die eerste persone op die toneel. Hulle het aan CNN gesê hulle het in die omgewing geloop toe hulle die slag gehoor en in die tonnel in gehardloop het. “Daar was rook. Ek dink die motor het ʼn muur getref,” het Richardson, oorspronklik van San Diego, gesê. “ʼn Man het na ons toe gehardloop en gesê ons moet die toneel verlaat.”

Me. Luz het gesê die toeter het ongeveer twee minute lank geblêr. “Ek dink dit was die bestuurder wat teen die stuurwiel gelê het.”

Talle Franse persone het die paparazzi blameer vir die ongeluk en het versoek dat daar wette ingestel moet word om dié blatante inmenging in die lewens van bekendes te verbied.

“Paparazzi en koerante moet ʼn bestaan maak, maar hierdie is verregaande,” het Madeleine Fabian, ʼn restaurant-eienaar, gesê. “Die regering moet maatreëls instel om die gejaag te beperk.”

Fayed en Diana se nabye vriendskap het al hoe meer duidelik geword vir die wêreld die afgelope vyf weke, toe die paartjie saam vakansie gehou het.

Foto: AP Photo

Die koerante het berig Diana het Fayed byna 10 jaar gelede ontmoet toe hy en prins Charles saam polo gespeel het, vir mededingende spanne. Hy het verskeie flieks vervaardig of was betrokke as medevervaardiger, insluitend die 1981 Oscar-wenner Chariots of Fire, The World According to Garp, F/X en Hook.

Prinses Diana en Dodi Fayed het op 21 Augustus na die Franse Mediterreense oord, St Tropez, gevlieg – hul derde vakansie in vyf weke.

Fayed, glo ʼn multi-miljoenêr, het huise in Londen, New York, Los Angeles en Switserland en ʼn motorhuis vol luukse motors. Sy huwelik in 1994 het slegs agt maande gehou.

Mohamed Al Fayed was ʼn vriend van prinses Diana se pa, wyle Lord Spencer.

Britse koerante het in die eerste week van Augustus gespekuleer dat Dodi en Diana verlief is. Op 10 Augustus het ʼn koerant foto’s gepubliseer van die paartjie wat soen.

Diana en prins Charles, opvolger tot die Britse troon, is in 1992 van bed en tafel geskei ná ʼn huwelik van 11 jaar. Hulle is verlede jaar geskei.

Diana het verlede week aan Le Monde-koerant van Frankryk gesê sy sou Engeland verlaat het, as dit nie vir haar kinders was nie. “Enigiemand sou lankal weggegaan het, maar ek kan nie. Ek het my seuns,” het sy in die onderhoud gesê.

___

ʼn Paar sleuteloomblikke in prinses Diana se lewe:

1 Julie 1961: Diana Frances Spencer is gebore
24 Februarie 1981: Lady Diana se verlowing aan prins Charles (32) word aangekondig
29 Julie 1981: Diana (20) trou met prins Charles by St Paul’s-katedraal in Londen
21 Junie 1982: Prinses Diana se eerste seun, William Arthur Philip Louis, is gebore
15 September 1984: Die egpaar se tweede seun, Henry Charles Albert David, is gebore
Junie 1992: Andrew Morton se boek, Diana, Her True Story, is gepubliseer. Die boek bring aan die lig dat sy probeer het om haar eie lewe te neem en aan ʼn eetversteuring ly
9 Desember 1992: ʼn Formele aankondiging word gemaak dat Charles en Diana van bed en tafel geskei is
20 November 1995: Diana praat oor haar huweliksprobleme, buite-egtelike verhoudings, nageboorte depressie en spanning binne die koninklike gesin tydens ʼn BBC-onderhoud
20 Desember 1995: Buckingham-paleis sê die koningin het vroeër skriftelik die egpaar versoek om te skei
28 Augustus 1996: Diana en Charles skei
31 Augustus 1997: Diana en Dodi Fayed sterf tydens ʼn ongeluk ná ʼn hoëspoedjaagtog in Parys
6 September 1997: Duisende persone woon Diana se begrafnis in Londen by

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Ander Annie ·

Prinses van harte vir altyd. Sy was pragtig en ‘n wonderlike ma vir haar 2 seuns. Sy sou ‘n wonderlike Ouma gewees het.

Benita Kruger ·

Sy was ‘n juweel en
dit bly hartseer dat sy so tragies moes sterf en op so jong ouderdom. Sy was ‘n ikoon vir baie van ons jong meisies in die 80’s. Haar klerestyl en haarstyl was altyd perfek.
Ek glo sy het baie hartseer vir haarself gehou oor haar omstandighede waarin sy haarself bevind het.
Haar kinders het haar nog so nodig gehad en glo hulle mis haar nog steeds baie, want sy was baie lief vir hulle.
Rus in Vrede Diane
My Ikoon

Lynne ·

So what??!! What’s good for the goose, is good for the gander!

Charmaine Coetzee ·

Was darem dievpragtigste mens en si nederig !!!!!!!

Marinda ·

Sy was ñ pragtige mens. So jammer vir haar kinders. Stem heelhartig saam met jou Benita Kruger en Charmaine Coetzee

Anette Kruger ·

Diana was nog altyd vir my n bitter mooi mens. Sal ook altyd wees. Dink sy sou n asemrowende skoonma en ouma gewees het. Haar seuns mis haarseker vreeslik baie! Eks vreeslik baie dankbaar ek is net ek en nie bekend nie want ek as mens het ook baie foute en sou nie die kollig kon hanteer nie. Geen privaatheid of vrede…..
Manie, jou comment is nie regverdig nie. Laat die een sonder foute/sondes die eerste klip gooi……
RIV Prinses Diana.

Manies ·

Jaloesie maak jou naar
Diana was n engel
Ek vertrou nie die Britse koningshuis nie
Sy is nie toevallig dood nie

Pjk ·

Ag as ek met die ou getroud was het ek ook rondgeloop. Ek dink Diana is n wonderlike mens en dit sal so bly. Ou C was die een een wat n verhouding gehad het.

Herman ·

Almal wat die vrou as ‘n verhewe wese beskou vergeet een belangrike ding. Sy was ‘n egbreekster by meer as slegs een geleentheid. Sy was voorwaar geen engel nie.

HALLO HEILIGE ·

Jong die wat so wonderlik is met veroordeling kom uit grootste rondlopers se monde uit

SARIE VAN HEERDEN ·

Daar is twee programme op kanaal 123 in die aande, 31 Augustus en 1 September , wat handel oor die nagedagtenis van prinses Diana. Sy het nie net ‘n baie hartseer kinderlewe gehad nie, maar ook was haar volwasse bestaan nie een om te begeer nie. Sy was in elk geval beeldskoon.

Ek dink... ·

Sy was ‘n pragtige OMGEE mens. En laat die “heiliges” sonder sonde maar klippe gooi…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.