Foto’s: Die kleinste koei in die wêreld

Mense neem foto’s saam met Rani (6 Julie 2021) (Foto: Munir Uz Zaman/AFP)

Duisende mense het reeds landswye koronavirus-afsonderingsreëls in Bangladesj verontagsaam om na Rani, ʼn 51 cm hoë koei te kyk. Die eienaars voer aan dit is die wêreld se kleinste koei.

Die 23 maande oue dwergkoei is ʼn mediasensasie en talle koerante en televisiestasies het al oor dié klein bees op ʼn plaas naby Dhaka berig.

Foto’s van Rani op sosiale media het talle toeriste gelok. Ondanks die landswye afsonderingsregulasies stroom mens na Charigram, sowat 30 km suidwes van Dhaka.

“Ek het nog nooit só iets in my lewe gesien nie. Nooit nie,” sê Rina Begum (30), wat van ʼn nabygeleë dorp gereis het.

Rani is 66 cm lank en weeg slegs 26 kg. Die eienaars sê Rani is 10 cm korter as die kleinste koei in die Guinness-wêreldrekordboek.

M.A. Hasan Howlader, bestuurder van die Shikor Agro-plaas, het ʼn maatband gebruik om talle omstanders te wys hoeveel kleiner Rani is as Manikyam, ʼn koei in die Indiese staat Kerala wat tans die wêreldrekordhouer is.

“Mense reis van oraloor ondanks die koronavirus-afsondering. Meeste wil selfies neem saam met Rani,” het Howlader aan AFP gesê. Guinness Wêreldrekords het onderneem om binne drie maande ʼn besluit aan te kondig.

“Meer as 15 000 mense het in die afgelope drie dae na Rani kom kyk. Om eerlik te wees, ons is al baie moeg!” het hy bygevoeg.

Guinness Wêreldrekords het gesê Manikyam, van die Vechur-ras, was 61 cm hoog in Junie 2014. Rani is ʼn Bhoetti, of Bhoetanese bees wat vir vleis geslag word.

“Ons het nie só groot belangstelling verwag nie,” het Howlader bygevoeg. “Ons het nie gedink mense sou hul huise verlaat en die virussituasie vererger nie, maar hulle het in hordes hier opgedaag.”

Sajedul Islam, die staatsveearts in die streek, het gesê Rani is die produk van “genetiese inteling” en sal waarskynlik nie groter word nie. Hy het aan die plaas gesê hulle moet die getal toeriste beperk. “Ek het vir hulle gesê hulle moenie so baie mense op die plaas toelaat nie. Hulle het dalk siektes wat Rani se gesondheid kan bedreig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Fae Fubar ·

Die af-duimpie brigade is só verkramp, dat hulle nie eers tong-in-die-kies kommentaar kan waardeer nie. Oi.

Belinda ·

ag mammies, n troetel dier en n gras snyer all in one. dis te cute!

Pieter ·

Genetiese inteling. Sies. Bestuur my stoetdiere veel beter. Dit is wreed, nou is sy ‘n toeriste aantreklik en rekordhouer dus meer van hulle gaan gebore word vir die doel. Bly ek is nie deel van die boerdery en besoekers nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.