Foto’s: Die wêreld treur oor Notre Dame

Mense staan huilend en bid terwyl die Notre Dame-katedraal in Parys in vlamme opgaan (15 April 2019). (Foto: Christophe Ena/AP)

Reg oor die wêreld het mense Maandagaand verslae toegekyk hoe die Notre Dame-katedraal, ʼn integrale deel van die geskiedenis en een van Parys se gewildste toeristeaantreklikhede, deur vlamme verteer word.

Die brand wat agt uur lank gewoed het, het groot dele van hierdie meer as 850 jaar oue struktuur wat van die 12de eeu dateer verwoes. Le Figaro en Le Parisien het teen vroeg vanoggend berig die brand is onder beheer en gedeeltelik geblus.

Pedro Sánchez, Spanje se eerste minister, het aangebied om Frankryk te help met die herstel. “Die brand is ʼn katastrofe vir Frankryk, Spanje en Europa,” het Sánchez getwiet. Hy het bygevoeg die vlamme het “850 jaar se geskiedenis, argitektuur, skilderkuns en beeldhouwerk verwoes”.

Emmanuel Macron, president van Frankryk, het aan verslaggewers naby die toneel gesê hy sal internasionaal om hulp vra, insluitend van “die grootste talent ter wêreld”, om die Notre Dame te herbou.

Pres. Donald Trump van die VSA het tydens ʼn toespraak in Minnesota ook na die “verskriklike brand” verwys wat “een van die wêreld se grootste skatte” verwoes het. “[Die Notre Dame] is deel van ons grootwordjare, dit is deel van ons kultuur, dit is deel van ons lewens,” het Trump gesê.

Die Notre Dame-katedraal in Parys brand (15 April 2019). (Foto: AP Photo/Francois Mori)

Die Notre Dame-katedraal wat in die hartjie van Parys geleë is, is een van die wêreld se gewildste toeristebestemmings met 13 miljoen mense wat elke jaar die katedraal besoek. Die emosionele impak van die brand was onmiddellik duidelik. Talle mense het op sosiale media gesê hoe hulle gehuil het toe hulle van die brand hoor.

Oudpres. Barack Obama het ʼn ou foto van hom, sy vrou en hul twee dogters gedeel waar hulle kerse in die katedraal aansteek.

“Notre Dame is een van die wêreld se grootste skatte, en ons dink aan die mense van Frankryk in hierdie tyd van rou,” het Obama op Twitter gesê. Michelle Obama, wat Maandag in Parys was as deel van ʼn boektoer, het gesê haar “hart pyn vir die mense van Frankryk”.

“Die grootsheid van die Notre Dame – die geskiedenis, die kuns, die spiritualiteit – het ons asems weggeslaan en ons gelig tot ʼn hoër begrip van wie ons is en wie ons kan wees,” het sy getwiet. Sy het gesê sy glo die katedraal sal weer na sy voormalige glorie terugkeer.

Japan se regering het ook Dinsdag sy simpatie uitgespreek en gesê dié land oorweeg om ondersteuning aan die Franse regering te stuur. “Die skade is ʼn verlies vir die wêreld en ons harte pyn,” het Yoshihide Suga, die hoofkabinetsekretaris gesê.

In die Vatikaan het pous Franciskus sy skok en hartseer oor die verwoestende brand uitgespreek. Terwyl die vlamme gewoed het, het kardinaal Timothy Dolan, aartsbiskop van New York, in die St. Patrick-katedraal in Manhattan gebid vir ingryping.

Anne Hidalgo, Parys se burgemeester, het gesê talle kunswerke en gewyde voorwerpe in die katedraal is gered, maar die kunswêreld was ontsteld oor dit wat wel verlore gegaan het. Barbara Drake Boehm, senior kurator by die Metropolitan Museum of Art se Middeleeuse kloostertak in New York, was platgeslaan oor die skade aan die katedraal wat sy bestempel het as “een van die grootste monumente van die beste van ons samelewing”.

“Beskawing is so weerloos,” het ʼn emosionele Boehm aan ʼn verslaggewer gesê. “Hierdie reusemonument uit klip was daar sedert 1163. Dit het so baie beproewings deurstaan.”

Édouard Philippe, eerste minister van Frankryk (links), Emmanuel Macron, president van Frankryk, en Michel Aupetit, Aartsbiskop van Parys (regs), spreek verslaggewers toe Maandag (15 April 2019) buite die Notre Dame-katedraal in Parys. (Foto: Philippe Wojazer/Pool via AP)

Jeff Ament, baskitaarspeler vir Pearl Jam, het sy herinneringe gedeel van die ure wat hy in 1991 in die katedraal deurgebring het toe hy dit vir die eerste keer besoek het. “Ons dink aan Parys,” het Ament getwiet saam met foto’s van die katedraal.

Antonio Guterres, die VN se sekretaris-generaal, het ook sy skok oor die gebeure op Twitter uitgespreek.

Hieromonk Stefan, die Russiese Ortodokse Kerk se sekretaris vir inter-Christelike verhoudinge, het die brand “’n tragedie vir die hele Christen-wêreld en vir almal wat die kulturele belang van hierdie tempel waardeer het” genoem.

Trump het op Twitter voorgestel dat waterbomme vanuit vliegtuie gebruik word om die vlamme te blus. Frankryk se burgerlike veiligheidsagentskap het egter gesê dit is nie werkbaar nie, omdat waterbomme vanuit die lug tot die ineenstorting van die katedraal se hele struktuur kan lei.

Hoewel die presiese oorsaak van die brand deur ʼn ondersoek vasgestel moet word, word daar vermoed dat dit met herstelwerk verband hou wat by die katedraal aan die gang was. The Guardian berig die hoofstruktuur van die Notre Dame, asook sy twee torings, kon gered word, hoewel grootskaalse skade aangerig is.

Macron het vroeg vanoggend gesê die ergste is verby, maar het gewaarsku dat die brand waarskynlik vir dae lank nog sal opvlam. ʼn Internasionale fondsinsameling is intussen begin om geld in te samel vir die herstel van die katedraal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Piet ·

En in Suid Afrika is hulle bly en juig hulle dat nog n simbool van oppressie afgebrand het.

JohanL ·

En die ironie is die gebou dateer uit 1163. Vyf honderd jaar later toe Jan van Riebeeck voet aan wal gesit het aan Kaap de Goede Hoop, wat was hier aan die suidpunt van Afrika gewees itv geboue en infra-struktuur? Vergelyk dit met Europa. Ek vra net – kan iemand my help asb? Ek wil wil aan ene Me Zille se twiet oor “alles van kolonialisme was nie sleg nie” dink. Maar volgens Maimane en kie mag ek nie.

lanie ·

Ai dit is baie hartseer. Sterkte aan Frankryk. Ek wou nog altyd graag soontoe gegaan het.

blom ·

Ek treur saam met die wêreld – hierdie geskiedkundige plek staan al jare. Mens treur oor due kuns wat in die gebou ingaan , enige iemand wat dit waardeer sal dit verstaan. Hier by ons word geboue links en regs afgebrand en niemand knip n oog nie – alles kan maar verwoes word.

Sulet ·

Dit is jammer dat dit so moes gebeur. Maar ja, eintlik is dit net ‘n gebou waaraan baie mense betekenis heg. Nothing lasts forever…

Marthinus Willemse ·

Ek stem saam met die Russies-Ortodokse Kerk se sentimente: hierdie brand is simbolies van die druk waaronder Christene in Europa en die wêreld tans verkeer. Ons draai heeltyd die ander wang vir ander gelowe, in die vrees dat ons hul regte sal aantas. Maar ons doen dit ten koste van ons eie regte.

Zumie ·

Marthinus
Ek stem saam dat die afbrand van die Notre Dame katedraal simbolies is van die val van die Christelik Westerse kultuur in Europa…..

Annie Webb ·

Hartseer. Groot verlies vir ons Westerse kuns- en religieuse geskiedenis. Ek het nooit die voorreg gehad om self Europa se kunsskatte te besoek nie maar ek was geweldig beïndruk om te lees hoe daardie ou Middeleeuse katedrale deur mensehande gebou is, sonder die soort masjinerie wat ons vandag ken. Ek kan nie instaan vir die waarheid daarvan nie, maar ek het gelees dat “gelowiges hulself soos trekdiere laat inspan het” om die materiaal aan te sleep waarmee sulke katedrale gebou is. En van die grootste skilders, beeldhouers en glaskunstenaars van die tyd het werke met ‘n religieuse tema vir sulke katedrale geskep. Ek verstaan baie kunsskatte was gelukkig verwyder voor die restourasiewerk, anders was die verlies nog groter. Terug na die baie minder opbouende hede: moet die nuusagentskap ons waaragtig opmerkings gee van die GEWESE president van Amerika en sy gade? Wat tydens hul agt jaar in die Withuis openlik teen Christene geagiteer het en geweier het om selfs maar die woorde “radikale Islam” te uiter? Die linkse hoofstroommedia in die Westerse wêreld gaan vorentoe báie swaar kou en sluk aan hulle dekadeslange blinde vooroordeel.

Nita ·

Diegene wat so minagtend van kolonialiste praat, weet julle hoeveel is van Franse afkoms? Weet julle van die duisend jaar beskawing wat hulle saamgebring het? Nee, julle verswelg net in jul eie barbarisme. Wys my iets waaraan julle amper 900 gelede begin bou het en vandag nog bestaan in al sy glorie.

piper ·

13 miljoen besoekers per jaar. ? kan dit waar wees? dis 35 duisend elke dag.

Nettie ·

En SA, Missus Lindiwe Sisulu spesifiek – SWYG SOOS DIE GRAF oor hierdie tragedie ….

O ja, maar dit is mos nou skade aan ‘n “wit” of Europese instelling ….. Toe Tropiese Storm Idai verwoesting in Mosambiek gesaai het, was Missus Sisulu binne enkele dae daar om die tragiek en die skade met haar eige oge te aanskou …………. en hulp aan te bied.

Nou, op die internasionale verhoog – simpatiseer die ANC-regering nie eens met Frankryk nie. G’n wonder die res van die wêreld beskou SA as ‘n kapoefter-landjie nie.

Joon ·

Dit is n verlies stem saam,maar dit stuur n boodskap uit so voor paasfees. Laat ons treur en hartseer wees oor Christus se kruising op Vrydag. Moenie skate by mekaar maak waar roes en brand dit kan vernietig nie. Laat ons dink

Snowball ·

Ek was bevoorreg om die Notre Dame twee maal te besoek, een keer selfs die wonderlike orrel se musiek gehoor, en dit was ‘n blywende herinnering, oorstelpend mooi, wat vandag nog my emosies laat opwel.
My hart is baie seer.??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.