Foto’s: Dit sous steeds in Australië

Só lyk dit in die stad Grafton in Nieu-Suid-Wallis. (Photo by SAEED KHAN / AFP)

Altesame 12 mense is dood sedert swaar reën verlede week aan Australië se ooskus begin uitsak het. Dit is byna ’n week later en dit sous steeds in sommige gebiede.

Die swaar reën het aanvanklik groot verwoesting in Queensland gesaai voordat die storm suidwaarts beweeg het. ’n Reeks vloedwaarskuwings is sedertdien in Nieu-Suid-Wallis uitgereik.

“Dit is verskriklik. Net verskriklik. Een verlore lewe is te veel,” het Paul Toole, adjunkpremier van Nieu-Suid-Wallis, Woensdag gesê nadat hy ’n derde sterfte in die vloedgeteisterde stad Lismore bevestig het.

Kitsvloede het teen Dinsdag oor byna 300 km van Australië se kusgebied en oor twee state voorgekom. Die stad Brisbane het 80% van sy tipiese jaarlikse reënval in net drie dae ontvang.

Toole sê die fokus is egter nou op Sydney – Australië se grootste stad  – waar swaar reën oor die volgende twee dae voorspel word.

Só lyk dit in die stad Grafton in Nieu-Suid-Wallis. (Photo by SAEED KHAN / AFP)

Die stad se Warragamba‑dam is reeds tot oorlopens toe vol en water het vanoggend in die vroeë oggendure begin oorspoel.

Toole doen ’n beroep op inwoners om gehoor te gee sou hulle aangesê word om hulle huise te verlaat. “As jy ’n klop aan die deur kry, as jy gevra word om jou woning te verlaat, doen dit asseblief.”

Sowat 55 hospitaalpasiënte moes oornag in die kusdorpie Ballina in Nieu-Suid-Wallis na veiligheid gebring word nadat hoogwater van die see en ’n oorvol Richmondrivier massas water tot gevolg gehad het.

“Dit is die grootste vloed wat ek nog gesien het en ek is al 20 jaar hier,” sê ’n inwoner van die stad Grafton in Nieu-Suid-Wallis.

Australië gaan gebuk onder klimaatsverandering met natuurverskynsels soos droogte, bosbrande en vloede wat al hoe algemener in dié land word.

Só lyk dit in die stad Grafton in Nieu-Suid-Wallis. (Photo by SAEED KHAN / AFP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Marius ·

Klimaatsverandering se voet. Daar is natuurlike nat en droeë tydperke en dit is so van die aarde se ontstaan af. Jy kry ook 10, 20, 30 en meer jaar vloedlyne wat nie meer in ag geneem word as daar bouwerk en uitbreiding van stede en dorpe aangepak word nie.

Renier ·

Ai Marius, so die laaste paar jaar se vernietigende hael is ook agv bouwerk en uitbreidings?

Pieter J ·

Ek het ń seun wat aan die ooskus van Australië bly. Gelukkig is net sy hele werf onder water en sy swembad dus oorvol maar verder darem geen probleme. Omdat hy so na aan die see is lyk dit vir my alle oortollige water gaan see toe

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.