Foto’s: Dodetal styg, honderde steeds vermis in Kalifornië

Pres. Donald Trump groet vir Gavin Newsom, goewerneur-gunsteling in Kalifornië, by die Beale-lugmagbasis (17 November 2018). Foto: Evan Vucci/AP

Die dodetal van die sogenaamde Camp Fire in noordelike Kalifornië in die VSA het tot 76 gestyg, terwyl minstens 1 270 mense nog vermis word.

CBS News berig die brand is sowat 55% onder beheer nadat dit reeds meer as 60 000 ha verwoes het. In die suide van Kalifornië, net buite Los Angeles, is die Woolsey-brand 82% onder beheer met 40 000 ha wat in dié brand verwoes is.

Pres. Donald Trump het die naweek die gebied besoek waar huise deur die Camp Fire verwoes is, waarna hy ook die skade van die Woolsey-brand in Malibu gaan besigtig het.

BBC berig Trump het in die dorp Paradise gesê dit is “hartseer om dié toneel te sien”.

“Om te sien wat hier gebeur het … niemand het ooit gedink dit sal gebeur nie.” Hy het gesê bosbestuur en instandhouding van woude moet gedoen word en die regering sal saam met omgewingsgroepe werk om dié doelwit te bereik. “Ek dink almal het die lig gesien. Ek dink nie ons sal so iets ooit weer tot so ʼn mate sien gebeur nie.”

‘n Snuffelhond soek na slagoffers van die Camp Fire in Paradise, Kalifornië (15 November 2018). Foto: Noah Berger

Kory Honea, woordvoerder van owerhede in Butte County, sê van die 76 mense wat dood is, is 63 as tentatief geïdentifiseer. Weermagtroepe help steeds forensiese spanne en snuffelhonde om te soek na menslike oorskot tussen die puin, agt dae nadat die Camp Fire begin het.

BBC berig Honea het gesê die lys van vermistes is “onverwerkte data” en die moontlikheid bestaan dat van die name meer as een keer op die lys verskyn. Van die mense op die lys mag moontlik buite gevaar wees, maar nie daarvan bewus wees dat hulle as vermis aangemeld is nie. Hy het ʼn beroep op inwoners gedoen om die lys na te gaan en owerhede te laat weet indien hul naam of ʼn naasbestaande se naam onnodig op die lys verskyn.

Fox News berig ʼn nagwaak word beplan vir die slagoffers van Paradise Sondagmiddag by ʼn kerk in Chico, wes van Paradise.

Huise wat tot op die grond afgebrand het in die Camp Fire in Paradise, Kalifornië (15 November 2018). Foto: Noah Berger

Intussen veroorsaak die digte rook van die brande gevaarlike toestande vir reddingswerkers en inwoners. Verskeie inwoners het gesigsmaskers by hardewarewinkels gekoop en dra dit dwarsdeur die dag om hulle teen die rook te beskerm.

CBS News berig die organisasie Purple Air sê die lugkwaliteit in Kalifornië is tans die slegste ter wêreld, selfs slegter as stede in Indië en China. Inwoners is aangemoedig om eerder binnenshuis te bly om die rook te vermy.

Reddingspanne hoop dat die reënval wat vir die middel van die week voorspel word verligting sal bring in terme van die droë en warm toestande, maar sê dit kan ook die soektog na die oorskot van oorledenes bemoeilik.

“Dit is ʼn ontmoedigende situasie,” sê Honea. “Soveel as wat ek wens ons kan deur al die puin werk voor die reën begin val, weet ek nie of dit moontlik is nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Paul ·

Bou jou huis in ‘n dorp of uitbreiding binne ‘n plantasie (bloekom?) Ek raai die huis is ook van hout.

John ·

Lyk soos ‘n toneel na ‘n atoombom in Japan afgegooi is. En almal was bedag op aardbewings toe kom die gevaar uit ‘n ander hoek.

Denise Lodder ·

Dis verskriklik, my hart gaan uit na die families. Groot skade vir almal.

Anoniem ·

‘n Groot LES vir ons as mense ‘Moenie Jou SKAT bêre’ waar ‘MOT, ROES en VUUR dit in ‘n oogwink kan vernietig nie MAAR by GOD waar ons ewig SAL LEWE !!!!!! ??? Ons bid vir humanitêre HULP ?

Robert ·

Onthou net ‘n baie groot persentasie of omtrent al die huise is van hout gebou, dus die totale verwoesting. :-(

Bouer ·

Baie geluk! So julle weet die huise is van hout… so what? Hierdie is nie die storie van Wolf en die drie varkies nie, mense se lewens, letterlik en figuurlik, is verwoes. Baksteen huise sou ook verwoes gewees het deur ‘n brand met hierdie eienskappe. Dit is skokkend, dat in 2018, CA mense se lewens so verwoes word deur valse ideologie!

Wolf ·

Hoe nou Bouer, valse idiologie? Ek verstaan nie mooi nie. Help!

Bouer ·

Valse ideologie dat ons die woude moet uitlos, nie die bos benut en beheer nie, nie voorbrande maak nie, en dan wonder hoekom ons in 2018 die ergste vure, met rekord sterftes ervaar. Naburige State (Arizona, Nevada), selfde topografie, selfde plantegroei, selfde weer, selfde woongebiede; hulle kry ‘n vuur en blus die vuur. Hulle doen iets ter voorbereiding. In CA doen hulle niks, en blameer dan Global Warming.

Piet ·

Bouer ek het gedog Nevada en Arizona is grootliks woestyn en dus minder van ‘n brandgevaar as CA wat ook digter bewoon is as eersgenoemde, en meer bome het. Ek het al met my Mazda 323 deur al 3 state getoer maar het seker nie mooi gekyk nie.

Varkie ·

@Bouer: Is jy oukei vriend? Na watter ideologie verwys jy wat so vals is dat houthuise en baksteenhuise kan afbrand?

Vuur ·

My hart gaan uit na almal wat geraak is deur die verwoestende vuur!!! In ons klein dorpie in Limpopo bly ons op n plaas en brand dit al van vrydagaand al om ons! 7 plase oorkant ons (almal deel van die berge) het al afgebrand maar gelukkig is daar nog geen sterftes nie en geen woning is beskadig nie. Dit bly n baie stresvolle tyd en nagte van wakker le en wag tot hy by ons is sodat ons kan nat maak al om die huise met die bietjie water wat ons oor het. Ons kort dringend reen! Met die wat dit so droog is brand dit maklik en tussen die berge waai die wind heeltyd en vat di vuur kort kort weer vlam en gaan voort….. :(:(:(

GerhardG ·

As julle gaan kyk na Google se ‘street view’ van Paradise, wat natuurlik voor die brand geneem is, sal julle sien hoedat die dorp inderdaad in die middel van ‘n brandbare woud gebou is. Dis ook sigbaar op Google se satellietfoto’s. Dit was ‘n baie mooi plek, maar dit is duidelik dat die brandgevaar reusagtig was. Dis so goed om jou huis in die middel van ‘n droë rivier te bou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.