Foto’s: Dodetal styg na Beiroet-ontploffing  

(Foto: AP Photo/Hussein Malla)

Internasionale hulp in die vorm van noodwerkers en mediese personeel is op pad na Libanon ná Dinsdag se reuse-ontploffing in Beiroet waarin minstens 100 mense dood en duisende beseer is.

Dit lyk of die ontploffing veroorsaak is deur meer as 2 700 ton ammoniumnitraat wat ontplof het. Dit is in pakhuis op die hawe gestoor nadat dit in 2014 op ʼn vragskip gevind en gekonfiskeer is.

Inwoners is Woensdagoggend met tonele van uiterste verwoesting begroet terwyl rook steeds sigbaar was in die hawegebied waar die ontploffing plaasgevind het.

(Foto: AP Photo/Hassan Ammar)

Australië het gesê hy sal twee miljoen Australiese dollar in humanitêre bystand aan Libanon skenk.  ʼn Australiër is dood en die land se ambassade in Libanon is in die ontploffing beskadig.

Die Europese Unie het sy burgerlike beskermingstelsel geaktiveer om nooddienswerkers en toerusting uit al 27 sy lidlande te kry om bystand te lewer. Die EU-kommissie sê die plan is om dringend meer as 100 brandbestryders met voertuie, snuffelhonde en toerusting na Libanon te stuur.

Irak gaan ses vragmotors met mediese toerusting stuur terwyl Duitsland gesê het hy sal ʼn span van 47 soek-en-reddingswerkers ontplooi.

(Foto: AP Photo/Bilal Hussein)

Duitsland se ambassade is ook in die ontploffing beskadig. Frankryk gaan twee vliegtuie met hulpmiddels stuur asook lede van ʼn spesiale eenheid met chemiese en ander tegnologiese kundigheid. Daar sal ook mediese personeel en brandbestryders ontplooi word. Pole, Griekeland en Rusland gaan ook bystand stuur.

Groot dele van middestad is steeds besaai met beskadigde voertuie en puin. Talle mense word vermis, terwyl familielede op sosiale media om hulp smeek om hul geliefdes te probeer opspoor. Die ontploffing het talle woonstelgeboue erg beskadig en talle mense dakloos gelaat.

(Foto: AP Photo/Hassan Ammar)

Die Saint George- hospitaal, een van die grootste private hospitale in Beiroet, is ook in die ontploffing beskadig. Volgens ʼn dokter is 16 personeel en pasiënte in die ontploffing dood, insluitend vier verpleegsters.

George Kettaneh, ʼn amptenaar van die Libanese Rooikruis, het gesê minstens 100 mense is dood en meer as 4 000 beseer. Hy het gesê die dodetal en aantal beseerdes sal na verwagting verder styg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

JohanR ·

Ek is seker Gift of the Givers is al gepak, en op pad. Daai ouens maak jou trots as ‘n Suid Afrikaner. Kan net dink as soe “bom” in die Kaapstad Waterfront afgaan…..stad weg, See Punt weg, Fresnaye weg, Woodstock weg, en dan skadu soe ver as Milnerton, Century City, en op in Tuine. Omdat die berg daar is sou skade miskien nog erger gewees het. In Lebanon was dit meer oop. Dit was soos ‘n kleine atoom bomb wat ontplof het. Jy bly in Suid Afika maar jy treur en huil vir, en saam met daai mense daar. Beiroet is totaal verwoes, en dit gaan jare wat om weer te herbou. 2020 gaan, en is nie ‘n jaar wat ons met voorliefde sal onthou nie.

Josh ·

Wêreld is so boos, sal my nie verbaas om te hoor hulle buurland het iets daarmee te doene gehad nie. Natuurlik sal daar geen bewyse oor wees nie..

Pieter J ·

Ek dink hierdie uiters plofbare materiaal was vir Hezbollah bestem. Die Libanese regering moes in die eerste plek nie hierdie ouens of Iranese moeilikheidmakers in hulle land toegelaat het nie dan sou hierdie tragedie nie plaasgevind het nie. Hulle oorweldigende haat vir Israel laat hulle uiters onverantwoordelik optree.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.