Foto’s: Dodetal styg ná brandstofpyplyn ontplof

Forensiese personeel besig op die toneel van die ontploffing by ʼn brandstofpyplyn in Tlahuelilpan in die Hidalgo-staat in Mexiko (18 Januarie 2019). Foto: Xinhua/Carolina Endara

Die dodetal ná ʼn ontploffing by ʼn brandstofpyplyn in Tlahuelilpan in Mexiko het tot 85 gestyg.

Die ontploffing het Vrydag by die staatsbeheerde Pemex-pyplyn plaasgevind nadat diewe vermoedelik die pyplyn beskadig het en mense op die toneel toegesak het om van die brandstof te bekom.

Volgens berigte het honderde mense met plastiekhouers opgedaag om brandstof te kry. USA Today berig sommige inwoners het soldate wat hulle probeer verwilder het met klippe bestook en met stokke geslaan. Die nuusdiens berig mense het aanvanklik hulself geduldig by die beskadigde pyplyn gehelp, maar later ongeduldig geraak en een van die inwoners het ʼn staalstaaf in die pyp ingedruk wat brandstof die lug in laat spuit het.

Mense het opgewonde begin om hul houers vol brandstof te maak en daar was glo heeltemal te veel inwoners vir die soldate om te beheer. Sommige mense het dronk geraak van die dampe van die brandstof en ʼn bejaarde man het in ʼn sloot vol brandstof sy bewussyn verloor.

Forensiese personeel besig op die toneel van die ontploffing by ʼn brandstofpyplyn in Tlahuelilpan in die Hidalgo-staat in Mexiko (18 Januarie 2019). Foto: Xinhua/Carolina Endara

Soldate het die mense gewaarsku om weg te kom van die pyplyn af aangesien dit kan ontplof, maar hul waarskuwings het op dowe ore geval. ʼn Paar uur nadat die lekkasie die eerste keer waargeneem is, het die pyplyn ontplof.

Jorge Alcocer, Mexiko se minister van openbare gesondheid, het gesê die aanvanklike dodetal van 79 het gestyg nadat nog ses sterftes bevestig is. Volgens Alcocer is daar tans 58 mense gehospitaliseer wat in die ontploffing beseer is.

Omar Fayad, die goewerneur van die Hidalgo-staat waar die ontploffing plaasgevind het, het gesê dit kan “ure, dae, weke of maande neem” vir die oorskot van die oorledenes om geïdentifiseer te word. Inwoners in die onmiddellike omgewing van die pyplyn is intussen na veiligheid gebring, het Pemex gesê.

Pres. Andres Manuel Lopez Obrador het Sondag die toneel van die ontploffing besoek.

Brandstofdiefstal is een van die grootste uitdagings wat Obrador in die gesig staar en veroorsaak jaarliks dat Pemex miljoene dollar se verliese lei. Die voortdurende diefstal het gelei tot tydelike sluitings van sleutelpyplyne in die land.

Reuters berig ongeveer een vyfde van die nasionale brandstofverbruik in Mexiko word na raming gesteel. Dié gesteelde brandstof word dan meestal aan medepligtige vulstasies verkoop.

Pemex het in die eerste tien maande van 2018 meer as 12 500 onwettige krane in sy pyplynnetwerk opgespoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

ANA ·

HÓÉ…tragies dat mens, nou sowaar jou lewe op die spel sit en jou lewe verloor,omdat jy gierig is…agter paar liter brandstof aan…?
Maaar…ás jy ñ hanswors wil wees, moet jy seker maar vóél,nehhh…

koos ·

Het ons nie ook hoeka so ‘n pyp vanaf Durban na Gauteng nie? Is daar nie dalk ook sulke krane daarop nie?

Jepetto ·

Snaaks genoeg dit het nog nie by ons gebeur nie . Koos jy is reg daai pyp lyn kom van Durban af ek dink hulle moet gaan kyk

Stripes ·

Tragies. Ek glo nie dis ‘n saak van gierigheid nie, ek dink eerder hulle het nie die fondse om brandstof te koop nie. Soortgelyk het al bietjie hoër op in Afrika gebeur en ja ongelukkig is daar altyd baie lewens wat in die slag bly. Ten spyte van daarvan sal die probleem nooit ophou nie want “ek weet wat ek doen en dit sal nie met my gebeur nie”. Koos ek dink die lyn van Durban na Sasolburg is vir ru-olie vir Natref en loop ondergronds.

Johnnie ·

Koos daardie pyplyn is darem diep onder die grond, maar daar is nog n groot gas pyplyn wat van Mosambiek na sasol toe loop wat net so groot gevaar inhou as dit beskadig word. Ons mense weet nie van al die pyplyne wat onder die grond is nie en hoe gevaarlik hulle is nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.